Kaap Agri, die JSE-genoteerde landbouverwante kleinhandel-, handel- en dienstegroep, het matige groei in die boekjaar tot September 2018 behaal ondanks ʼn uiters moeilike handelstydperk wat deur droogte, beleidsonsekerheid en krimpende verbruikersbesteding gekenmerk is.

Kaap Agri het meer as 3 000 mense in diens en het ʼn voetspoor van 200 sake-eenhede landwyd in Suid-Afrika en in Namibië wat die kleinhandelhandelsmerk Agrimark insluit. Ander handelsmerke in die Kaap Agri-stal sluit in Wesgraan (graanhantering en agentskapsdienste), Pakmark (verskaffer van verpakkingsmateriaal en verspreiding), Liquormark, asook Agriplas wat op die vervaardiging van besproeiingstoerusting fokus. Die maatskappy se brandstofbedrywighede is in The Fuel Company (TFC) gegroepeer, wat ook die gemakshandelsmerk Expressmark bedryf.

In die tydperk onder oorsig het inkomste tot R6,55 miljard toegeneem. Dit verteenwoordig ʼn toename van 8,1% op ʼn proforma-grondslag met groei op ʼn vergelykbare grondslag van 6,9%. Die groei is hoofsaaklik deur ʼn toename van 12,1% in die aantal transaksies en groei in brandstofvolume van 38,5% by TFC se eie en bestuurde persele gedryf, wat tans op regulêre goedkeuring wag.

Herhalende wesensverdienste het met 1,7% gegroei, terwyl die herhalende wesensverdienste per aandeel met 0,7% tot 354,1c toegeneem het. Dit verteenwoordig ʼn vyfjaar jaarliks-saamgestelde groeikoers van 14,1% tot 30 September 2018.

Groei in moeilike toestande

ʼn Finale dividend van 84,7c per aandeel (82,6c in 2017) is verklaar vir ʼn totaal vir die jaar van 116,7c per aandeel (112,0c in 2017). Dit is ʼn toename van 4,2% teenoor 2017.

Sean Walsh, uitvoerende hoof van Kaap Agri, het met die aankondiging van die resultate gesê die groei te midde van moeilike handelstoestande weerspieël die groep se voortgesette strategie van diversifikasie en veerkragtigheid.

“Die resultate het weereens getoon hoe belangrik dit is om ʼn gediversifiseerde sake-onderneming te wees. Ondanks die uitgebreide droogte, beleidsonsekerheid en voortdurende druk op verbruikersbesteding, het ons stewige reële inkomstegroei regoor alle inkomste-strome behaal. Groei in kleinhandelverkope oortref steeds groei in landbouverwante verkope, hoewel van ʼn laer basis. Die kleinhandel-inkomstekanaal het vir die eerste keer die handelswins uit die landbouverwante inkomstekanaal oorskry,” het Walsh gesê.

Terwyl die groei in kleinhandelsomset in die eerste twee kwartale bevredigend was, het Kaap Agri ʼn daling in jaar-tot-jaar-groei in die derde en vierde kwartaal ervaar, met die vierde kwartaal marginaal laer as in 2017.

Landbouverwante-verkope was in die eerste twee kwartale swakkerig, maar het in die tweede helfte van die jaar bevredigend vertoon namate weerstoestande verbeter het.

Walsh het bevestig dat die landbou-omgewing steeds deur ekonomiese en klimaatstoestande, asook beleidsonsekerheid beïnvloed word.

“Beleidsonsekerheid, veral oor grondonteiening sonder vergoeding, het kapitaalinvestering, vertroue en uitbreiding in die landbousektor beïnvloed. Kaap Agri is deel van die gesprek via bedryfsliggame en verskaf insette vir oorweging deur die relevante werkskomitees.”

Walsh het ook die omvang van die droogte in konteks van die groep se strategie vir groei uitgelig.“Terwyl groei van 15% as teiken dien, is 11,3% hiervan as gevolg van die droogte nie behaal nie. Die 11,3% bestaan uit 5,2% van Wesgraan, 4,9% uit die landelike en westelike streke van ons handelsafdeling en nog 1,2% het by besproeiingsvervaardiging in veral die Wes-Kaap verlore gegaan. Ondanks vertragings in regulêre goedkeuring, wat die teikengroei met 6,5% beperk het, is stewige groei deur TFC behaal met die inkomste wat met 30,1% gestyg het.

“Wat egter baie bemoedigend is, is dat herhalende wesensverdienste uit die res van die besigheid met 4,5% gegroei het. Die afskrywing van slegteskuld oor die jare reflekteer die gehalte en diversiteit van die onderliggende rekenings met minder as 0,3% van die debiteureboek wat oor die afgelope vyf jaar afgeskryf is. Van belang is dat nie een graan-debiteur vanjaar as gevolg van die droogte in gebreke gebly het nie,” het Walsh gesê.

Die groep gaan voort om sterk kontantvloei uit bedrywighede te genereer en aansienlike beleggings is terug in die besigheid gedoen om groei te ondersteun in terme van hoër kapitaalbesteding en oornames.

“Vyf nuwe en bestuurde brandstofpersele is deur TFC geopen. Ons nuwe kleinhandelsformaat is by vier Agrimark-winkels ingestel en ʼn aantal kleiner opgraderings by Agrimark en Pakmark is voltooi. Voortgesette belegging in die besigheid is belangrik vir volgehoue groei in inkomste in die toekoms,” het Walsh gesê.

Oor vooruitsigte het Walsh gesê landboutoestande in die Wes-Kaap het grootliks op ʼn jaar-tot-jaar-grondslag verbeter met plaasdamme in ʼn goeie posisie.

Vooruitsigte vir die graanoes is baie beter en daar is meer optimisme vir ʼn normale jaar in die vrugte en groente-omgewing. Die graanoes het in laat Oktober begin en daar is positiewe aanduidings vir die totale opbrengs en gehalte.

Kleinhandelverkope en algemene kleinhandel bly onder druk, maar verbeterings tree hier en daar na vore. Die handelsprestasie in November en Desember, tradisioneel stewige kleinhandelsmaande, behoort ʼn aanduiding te gee of ʼn herstel in die kleinhandel onderweg is. ʼn Verswakkende wisselkoers sal egter die invoer van produkte en ru-materiale negatief beïnvloed.

Ná die jaareinde het die groep ʼn aandeelhouding van 60% in Partridge Building Supplies verkry wat in die suide van KwaZulu-Natal onder Underberg Forge sake doen. Die oorname bied aan Kaap Agri ʼn toegangspunt tot ʼn nuwe geografiese gebied en ʼn bykomende sakestroom in die melksektor.

“Voortgesette fokus op ons strategiese doelwitte sal ʼn bydrae lewer tot die herstel van ʼn gedempte prestasie in 2018. Ons is steeds oorgehaal om ons strategiese mediumtermyn-teikens van ʼn minimum saamgestelde jaarlikse groeikoers van 15% in herhalende wesensverdienste teen ʼn opbrengs op ekwiteit van 15% te behaal.

“Ons gaan voort op ons pad van uitbreiding van selektiewe strategiese inkomste-generering en oornames en verbetering in die ervaring wat klante het om te verseker dat volgehoue en wedersydse voordelige kontak en verhoudings voortduur,” het Walsh gesê. – Persverklaring

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here