Hoërskool Martin Oosthuizen op Kakamas het ’n baie aktiewe landbou-afdeling. Die skoolhoof, André Mouton, en sy span onderwysers en die beheerraad het besluit om die landbou-afdeling van die skool uit te brei, sodat ’n leerling aan die einde van matriek baie meer op sy of haar CV het as net ’n matrieksertifikaat.

Mouton sê baie van die leerlinge gaan nie verder studeer na skool nie en sal moet inspring om self geld te verdien. Matrikulante kom egter elke jaar met ’n skok agter dat daar nie juis werksgeleenthede is vir jongmense nie. Om hulle te help, poog die skool nou om die leerlinge, op ’n praktiese manier, beter toe te rus vir die werksmark – leerlinge doen soveel moontlik addisionele kursusse wat vir hulle ’n ekstra deur of twee kan oopmaak op die pad vorentoe.

Mouton het met baie boere in die omgewing gesels om uit te vind wat hulle van ’n jong werker op die plaas verwag, en dit is juis daardie leemtes wat aangespreek gaan word. Kursusse in trekker instandhouding, snoei en versorging van sitrusbome, aanplant van wingerd en die versorging daarvan, vee, bestuur van plaas implemente en so meer word alles beplan. Behalwe hierdie kursusse word die leerlinge ook op baie uitstappies geneem, wat wissel van besoeke aan die plaaslike wynkelder en rosyntjieplase, tot by landbou expo’s in die Kaap en Nampo in die Vrystaat.

Hy sê die gemeenskap van Kakamas gee om vir hul kinders. Daarom het verskeie boere en groot instansies reeds op die bus geklim en help hulle die skool om meer kursusse vir die leerlinge aan te bied.

Hierdie blootstelling wat die skool aan die leerlinge gee, begin reeds deursyfer na hulle toe. Wanneer jy met hulle gesels, kom jy vinnig agter dat dié jongmense nie skaam is om ’n opinie te gee nie. Hulle word geleer om landbou kwessies uit alle rigtings te bekyk en ’n opinie daaroor te vorm. Dit is ’n bewys dat die onderwysers hul gedagtes en belangstelling prikkel, sodat hulle daaroor kan dink en nie alles vir soetkoek opeet nie. – Koos du Pisanie, AgriOrbit

Vir meer inligting skakel gerus die skoolhoof, André Mouton, by 054 431 0884 of Ilze Pieterse by 071 154 6427, of besoek hul webtuiste by www.hmoskool.co.za.