Estimated reading time: 5 minutes

’n Minder bekende, positiewe feit in ’n tyd waar ons geneig is om op die negatiewe te fokus, is dat Suid-Afrika, naas Spanje, die tweede grootste sitrusuitvoerder ter wêreld is. Ons is die grootste in die suidelike halfrond en die wêreldleier in uitvoer oor lang afstande.

Uitvoer is verantwoordelik vir 95% van die land se verdienste uit sitrus, en dié vrugte het in 2010 wyn as Suid-Afrika se grootste landbou-uitvoerproduk verbygesteek. Die sitrusbedryf is ons primêre waardeverdiener in uitvoere. Dit hou sowat 120 000 mense in diens, wat die sitrussektor die grootste werkgewer in die landboubedryf maak.

Ons ekonomie se blinkste ster

Die sitrusbedryf het die uitsonderlike prestasie behaal om produksie tussen 2019 en 2020 met 25% te laat styg, wat dit een van die suksesverhale in ’n somber jaar vir ekonomiese groei maak. Met net ’n paar weke van die uitvoerseisoen vir 2021 oor, sal die produksie na verwagting met nóg 6% groei, van 150 miljoen kartonne in 2020 tot 159 miljoen kartonne vanjaar. Dit is effens laer as die verwagte 163 miljoen kartonne, hoofsaaklik weens kleiner vrugte as wat verwag is. Verder sal die sterker rand laer opbrengste vir plase beteken.

Nogtans lewer die sitrusbedryf steeds ’n groot bydrae tot werksgeleenthede, die betalingsbalans en die ekonomie. Dit is veral noemenswaardig gegewe die groot uitdagings in die sektor vanjaar, insluitend die gewelddadige onrus en kuberaanvalle op ons hawens, wat tot groot logistieke terugslae op ’n belangrike tydstip van die oes- en uitvoerseisoen gelei het. Maar soos dit Suid-Afrikaners betaam, het die spelers in die sitrusbedryf ’n plan gemaak, en die hele waardeketting verdien ’n dawerende applous.

Logistiek moet dringend aandag kry

Maar wat die lang termyn betref is daar toenemende kommer oor die aansienlike impak wat Suid-Afrika se gebrekkige logistieke infrastruktuur op die sektor en sy bydrae tot ons ekonomie kan hê. Dit gaan net vererger indien dit nie onmiddellik getakel word nie, aangesien die sitrusopbrengs na verwagting in die volgende vyf jaar tot 200 miljoen kartonne, en teen 2030 tot 260 miljoen kartonne gaan groei.

Die groot geografiese verspreiding van ons sitrusbedryf beteken dat sommige produsente meer as 1 000km moet ry om vrugte by die naaste hawe te kry. Padinfrastruktuur is dus die eerste uitdaging. Paaie in en om Durban se hawe raak baie druk. In die afgelope twee jaar het ’n buitegewoon groot graanoes met ’n rekord sitrus-oes saamgeval.

Toe breek onrus in Julie vanjaar uit, en veiligheid op die paaie het ’n nuwe bron van kommer geword, asook die impak wat die onrus op uitvoere gehad het. Die grootste terugslag in die bedryf was die onvermoë om vrugte weg te stuur, wat verlore markgeleenthede en bykomende vervoer-, arbeids- en bergingskoste beteken het. Dit kan moontlike eise tot gevolg hê, omdat die gehalte van die vrugte weens die onderbreking in die koueketting in die gedrang kon kom.

Die padprobleme is egter gering in vergelyking met dié van hawegebiede. In die Wêreldbank en IHS Markit se vergelykende evaluering van houerhaweprestasie, was Suid-Afrika se Kaapstad-, Gqeberha-, Durban- en Coega-hawens onderaan die lys van 351 hawens in verskillende lande. In vergelyking met internasionale norme, verwerk ons hawens slegs ’n derde van wat hulle op ’n dag behoort te kan doen, wat die laai en aflaai van houers betref.

Voeg daarby die ontwrigting wat die pandemie in wêreldskeepsvaart veroorsaak, toenemende tekorte aan houers en stygende koste, diefstal van Transnet-infrastruktuur en die onlangse hawekuberaanvalle, en ons het ’n uitdagende hawe-situasie wat die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf se prestasie bedreig.

Is daar ’n plan?

Die goeie nuus is dat daar gekoördineerde pogings tussen Transnet en landbou-organisasies is om die uitdagings met betrekking tot ons uitvoere, die hoof te bied. Ongeveer 80% van Suid-Afrika se landbouprodukte word byvoorbeeld padlangs vervoer, en ’n skuif van paaie na spoorweë verg groter belegging en veiligheid by spoorweë om die konstante diefstal van Transnet-infrastruktuur uit te skakel.

Die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika (CGA) werk nou saam met Transnet Freight Rail om spoorvervoer van landbougewasse te verhoog. Boonop het die CGA ’n medium- en langtermynplan ontwikkel om vervoerdruk te verlig. Dit behels onder meer alternatiewe vir Transnet-hawens, die verkryging van bykomende gespesialiseerde koelskepe gedurende die sitrusseisoen, en ’n spesiale koepelskipdiens tussen Kaapstad, die Europese Unie en Brittanje. Koelskepe word tipies gebruik vir die vervoer van goedere waarvan die koueketting nie onderbreek mag word nie. Hulle is ook vinniger om te laai, wat die omkeertye in Suid-Afrikaanse hawens korter sal maak.

Die privaatsektor moet betrokke raak

Die CGA het ook ’n dringende behoefte aan groter deelname deur die privaatsektor geïdentifiseer, ’n siening waarmee belanghebbendes in die openbare sektor saamstem. Hulle het gesprekke tussen die regering, logistieke rolspelers en moontlike beleggers begin ten einde beleggings in die hawens te mobiliseer.

Trouens, die Departement van Openbare Ondernemings het onlangs ’n meesterplan vir die Durbanse hawe aangekondig om oor die volgende tien jaar moontlike private beleggings ter waarde van R100 miljard in die hawe-infrastruktuur, terminale en vraginfrastruktuur te lok. Dié plan het ten doel om die hawe se jaarlikse kapasiteit vir houerhantering vinnig op te stoot, en ankerplekke te verdiep en verbreed sodat die grootste vaartuie ter wêreld hier kan aandoen.

In hierdie plan word die vlootbasis van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en die grootmaatterminaal, wat petroleum, chemikalieë, plantaardige olies en smeermiddels huisves, ook na Richardsbaai verplaas, wat dan ’n nywerheidshawe sal word.

Die plan sluit ook opgraderings aan die pad- en spoorwegnetwerk rondom die hawe en die stad in, om die groot hoeveelhede vragmotors wat knelpunte veroorsaak, te beperk. Daarby moet die Cato Ridge-gebied tot ’n privaatsektor-gedrewe nywerheidskompleks ontwikkel word wat die N3-snelweg met die spoorlyn vanaf die hawe verbind. Daar is dus tekens dat ons uiteindelik in die regte rigting beweeg. – John Hudson, nasionale hoof van landbou by Nedbank