Kanola: ’n Wesenlike alternatief …

0

Estimated reading time: 5 minutes

Plaas Media het onlangs die Proteïennavorsingstigting (PNS) se kanola-inligtingsdag op Hopefield bygewoon. Onderwerpe wat bespreek is, was klimaatsverandering en risikobestuur, kultivarevaluasie en riglyne ten opsigte van kultivarkeuse, dekgewasse, die nuutste inligting rondom Sclerotinia-navorsing, swartstamnavorsing, oesverliesbepaling en die oliesademark.

Merkwaardige groei in kanola-aanplantings

Andries Theron, voorsitter van die PNS, het op die inligtingsdag gesê die huidige seisoen is beter as wat dit die afgelope 10 jaar was. Milde reën aan die begin van die seisoen het gunstige toestande vir graanverbouing geskep.

“Ons het die afgelope 10 jaar daaraan gewoond geraak om alles in droë grond te plant en dan tot Junie vir die reën te wag, maar vanjaar het die rëen betyds gekom en was die neerslae genoeg om ideale toestande vir goeie ontkieming en opkoms te verseker.

“Goeie reën aan die begin van die seisoen is altyd ’n positiewe faktor. Hoe vroeër die seisoen begin, hoe beter vir die produksie van kanola. Navorsing wys ’n daaglikse toename van 1,5% in opbrengs,” het hy gesê.

Theron het gesê kanola-aanplantings in die Wes-Kaap het gegroei van 400ha in 1994 tot meer as 95 000ha vir die huidige seisoen. Gemiddelde opbrengste per hektaar het ook toegeneem en die totale kanola-opbrengs in 2020 het sowat 165 000 ton beloop.

Die afgelope seisoen is pryse van R6 500 tot R6 700/ton gerealiseer en daar is hoop vir ’n agterskot wat die prys verder kan aanvul. “Teen hierdie pryse en ’n opbrengs van 1,8 tot 2 ton/ha en hoër, kan Wes-Kaapse graanboere winsgewend met kanola boer,” het Theron gesê.

Daar is plek in die mark vir die bedryf om te groei. Die koringbedryf in die Wes-Kaap is in ’n posisie van oorproduksie en die Wes-Kaap is die provinsie wat die meeste oliekoek vir dierlike verbruik invoer. Wes-Kaapse veeboere voer jaarliks sowat 340 000 ton soja-oliekoek in.

“Die kanolabedryf moet deel in die 340 000 ton, al moet ons koringproduksie ’n bietjie minder maak. Dit sal nie net tot voordeel van die Wes-Kaapse graanboer wees nie, maar ook vir die Suid-Afrikaanse (SA) ekonomie.”

Kanola kan dus in die Wes-Kaap ’n wesenlike alternatief vir koring raak.

Navorsing

Theron het gesê die landbousektor in die Wes-Kaap is bevoorreg om steeds ’n Departement van Landbou te hê wat funksioneel is. Hy het in ander provinsies gesien hoe strukture besig is om uitmekaar te val. “Ek weet nie hoe lank die Landbounavorsingsraad nog met ons gaan wees nie. By die Kleingraaninstituut kan ons maar die deure toemaak. Dit is tragies want landbou het navorsing nodig en die regering moet ’n rol daarin speel.”

https://www.agriorbit.com/omega-3-canola-oil-to-help-reduce-overfishing/

Klimaatsverandering

Prof Stephanie Midgley van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, het op die inligtingsdag gesê klimaatsverandering kan ’n afname in reën in die westelike dele van die Wes-Kaap tot gevolg hê, met meer en langer droë periodes. Dit kan toegeskryf word aan ’n suidwaartse skuif van weste winde wat keer dat kouefronte oor die Wes-Kaap inbeweeg.

Volgens prof Midgley word dit oor die algemeen aanvaar dat die Wes-Kaap weens klimaatsverandering oor die lang termyn relatief warmer sal word. Teen 2050 kan die temperatuur 1,5 tot 3˚C warmer wees met meer warm dae en nagte, en minder koue dae en nagte.

Die invloed van klimaatsverandering op koringopbrengste op droëland kan wissel van ’n afname van tot 25% tot ’n verhoging van 10%, afhangend van die kweekhuisgasse.

Die waarde van landbou

Prof Ferdie Meyer van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het gesê die waarde van landbou in landelike gebiede word onderskat, omdat landbou ook klein besighede op dorpe ondersteun. Landbou se bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP) is dus meer as net die amptelike 2% – veral as in ag geneem word dat landbouverwerking 5% tot die BBP bydra en dat primêre landbou 7%, en landbouverwerking 3% van al die werksgeleenthede in SA skep.

Die landbousektor het in 2020 met 13% gegroei en is die enigste sektor in SA wat in 2020 ’n positiewe groei getoon het. Die bedrywe wat die grootste bydrae in 2020 tot die landbou se groei gelewer het, is mielies, eiers, sitrus, koring, pluimvee, sagtevrugte, sonneblomsaad, gars en grondbone.

Prof Meyer het ook gesê die plaaslike landboubedryf se internasionale handel is baie belangrik vir SA se ekonomie. In 2020 het die totale landbou-uitvoer US$10,8 miljard beloop en die landbou-invoer US$6,4 miljard. Dit gee ’n netto valuta-surplus van US$4,4 miljard.

In SA is daar is tans 40 000 kommersiële boere, 300 000 markgeoriënteerde kleinboere en 2 miljoen huishoudings wat in die landboubedryf betrokke is en soms ’n klein surplus produseer. Die rol van kommersiële boere is by verre die grootste bydraer tot voedselsekuriteit, wat baie belangrik is met die vinnige verstedeliking van die bevolking. Groter ondersteuning aan kleinboere kan egter ’n enorme bydrae tot voedselsekuriteit maak, het Prof Meyer gesê.

Grondhervorming

Grondhervorming is belangrik vir SA. “Ons moet meer swart boere volhoubaar vestig. Dit is nodig om met die regering te onderhandel. As daar onderhandel word om byvoorbeeld nuwe markte oop te maak, is die vraag aan ons: ‘Wie gaan toegang hê tot daardie markte?’.”

Prof Meyer het gesê grondhervorming het al verder in SA gevorder as wat oor die algemeen aanvaar word. In totaal is 67 % van die doelstelling van die Nasionale Ontwikkelingsplan reeds behaal. Die vordering word in die top-regeringskringe erken.

“Die Nasionale Ontwikkelingsplan is ’n goeie plan. Oorhoofs is ons beleidsraamwerk nie sleg nie. Die groot probleem lê by infrastruktuur. Ons infrastruktuur is besig om uitmekaar te val. Veral by paaie en damme is ons ver agter,” het hy gesê. – Hugo Lochner, AgriOrbit