“Ons werk met die skepping van die blou dak se Baas, en Hy het vir ons bossies en kruie agtergelaat.” – Oom Johannes Willemse

AgriOrbit het onlangs op Theefontein in Beaufort-Wes se distrik by Antoinette Pienaar en oom Johannes Willemse gekuier om meer oor hul voorliefde vir en hantering van Karooveld-kruie te wete te kom.

Antoinette is ’n bekende skrywer en aktrise met aptekersbloed in haar are. Sy was een van vyf dogters in die huis op Carnarvon, en het na aan die veld en met storievertellery grootgeword.

Paaie bestem om te kruis

Oom Johannes Willemse is ’n gesonde 96-jarige Griekwa-man wie se oupa Hansie hom alles van die Karooveld se kruie geleer het. Hy dra dié kennis nou al vir 16 jaar aan Antoinette oor.

Sy vertel: “Ons paaie het in 2001 gekruis, nadat ek serebrale malaria in Mali opgedoen het en ernstig siek was. Ek het toe alreeds ’n groot belangstelling in kruie van die veld gehad en het ’n bossiedokter gesoek om my te help gesond word. Toe ons paaie kruis, was oom Johannes juis op soek na iemand aan wie hy sy kennis kon oordra, en so het ons albei se droom waar geword.”

Antoinette se niere was beskadig en die aanvanklike behandeling het uit dasbos- en klipkruie bestaan, afgewissel met kankerbossie en katjiedrieblaar. “Na ongeveer twee jaar en verskeie kruiebehandelings kon ek voel dat my liggaam weer normaal funksioneer.”

Aardse kennis in boeke

Antoinette se eerste (herdrukte) boek, Kruidjie roer my, handel oor die verskillende veldkruie en die gebruike daarvan. Vanjaar in Januarie is haar nuutste boek, Die lang man sonder skaduwee, gepubliseer. Dit gaan oor die genesende waarde van stories en hoe mense weer aan die speel kan raak met raaisels en rympies. “Die oumense het van ‘die lang man sonder skaduwee’ gepraat as hulle die grondpaaie beskryf het, wat oor die rug van vlaktes loop soos linte wat plase, veeposte en dorpe aan mekaar verbind. Dit was ’n raaisel wat hulle vir mekaar gevra het om ’n stram geselskap aan die gang te kry.

Hulle toer al jare deur die land om die eerste boek en nuttigheid van veldkruie bekend te stel. Oom Johannes het vanjaar by die Woordfees op Stellenbosch gesê dit is “soos om van kamp tot kamp te gaan” wanneer hulle die land vol reis.

Volhoubare veldkruie

Die twee werk hoofsaaklik met Karooveld-kruie, hoewel tuinkruie soos wildeals en wynruit ook handig is. “Dit is ou kruie wat die mense altyd in hul tuine gehad het. Die meeste veldkruie aard egter nie in tuine nie,” sê Antoinette.

Die Karoo se omstandighede is ideaal vir kruie. “Om veld toe te gaan om kruie te gaan haal, is ’n genesende ervaring. ’n Mens moet kruie so pluk dat dit kan gedy, want die oomblik as jy dit heeltemal uit die grond uit trek, is dit nie meer medisyne nie.”

Baie van die bossies wat hulle die afgelope jare pluk, is nou weliger as voorheen. “Jy snoei die plantjie terwyl jy hom pluk, maar jy maak hom ook nie seer dat hy doodgaan nie. As dit iets soos rooivergeetwortel of Dawidjiewortel is, moet jy versigtig werk sodat jy nie al die wortels uitgrawe nie.”

Oom Johannes het haar geleer om altyd ’n sakkie kleingeld op enige oes-ekspedisie saam te neem. “Jy moet die bossie betaal as jy in sy wortels grawe, want jy maak hom seer. Dit is ’n moderne manier van teruggee.” Die muntstukke lê die wêreld vol gestrooi soos hulle al gegrawe het.

Die natuur ken sy eie medisyne

Dit is opvallend hoe velddiere weet watter plante medisinaal is. Antoinette wy daaroor uit: “Die ramme in die veld sal nie kruie soos katjiedrieblaar en kankerbossie, wat baie goed vir hormonale kwale is, vreet nie. Indien daar van dié plante in ’n kamp is waar ooie gelam het, word dit kort afgevreet deur die ooie. Die koedoes is veral lief vir kankerbossie, en die meeste diere hou van die sterk medisinale bossie wat ons ‘kwaaibul’ noem.”

Vir elke skeet ’n krui

Volgens Antoinette is daar vir elke skeet onder die son ’n krui in die veld. Sy glo ook dat kruiebehandelings wat reg aangewend word, nie newe-effekte het nie. “As jy dit verkeerd gebruik, kan dit skadelik wees. Onthou, dit is medisyne wat volgens die regte aanwysings gebruik moet word Jy begin eers met ’n bietjie sodat jou liggaam daaraan gewoond kan raak.”

Hulle ontvang voortdurend navrae oor allerlei gesondheidstoestande. “Gewoonlik stuur ons drie maande se voorraad vir iemand om mee te begin om sy liggaam op die pad van genesing te sit. Die terugvoer oor sulke behandelings is dus uiters belangrik.”

 Werkswinkels op die plaas

Omdat oom Johannes nie meer vandag se kind is wat nog baie kan rondry nie, het hulle sowat vyf jaar gelede begin om werkswinkels aan te bied. “Die ideaal is om vir mense die waarde van veldkruie te leer, en ten minste vyf dae op Theefontein te spandeer.”

Antoinette sê dit laat genoeg tyd toe om te begin kruie gebruik en jou storie te vertel. “Ons almal het wonde en die genesende waarde daarvan om onder ’n boom te sit en jou storie sonder die druk van tyd te kan vertel, is iets wat nie in geldwaarde gemeet kan word nie.”

Uitroeiing van veldkruie

“Baie mense sal enigiets vir geld doen, maar veldkruie is nie volhoubaar as jy oneties daarmee te werk gaan nie.” Met dié aanmerking verwys Antoinette na die plate kankerbossies wat in Murraysburg se omgewing langs die pad uitgeroei is.

“Toe die mense die waarde daarvan besef het, het hulle dit morsaf gesny met die doel om dit te verkoop. Daarom dink ons hier op die plaas twee keer voordat ons vir iemand wys waar ’n kosbare bossie is, soos karnedip, wat stadig groei.”

Ter afsluiting voeg sy by dat dit in die natuur is waar ’n mens onthou wie jy is. “Hoe meer tyd ’n mens in die natuur spandeer, hoe gesonder gaan jou binnekant en buitekant wees.”

Vir navrae en meer inligting oor werkswinkels, stuur ’n epos aan pienaarann@gmail.com of besoek die webtuiste www.kruiekraaikoning.co.za. – Carin Venter, AgriOrbit

Skakel gerus Dinsdagmiddae om 16:30 in op RSG, wanneer Antoinette Pienaar en Amoré Bekker saam kuier in Kruie Kraai Koning op die program Tjailatyd.