Wanneer diere met Corynebacterium pseudotuberkulose besmet word, kan dit tussen 15 en 140 dae neem vir ’n abses om te ontwikkel.

Absesse by skape en bokke is nie net pynlik vir die diere nie, maar kan ’n vernietigende uitwerking op die produsent se inkomste hê. Twee van die mees algemene patogene wat hierdie kwale veroorsaak, is Corynebacterium pseudotuberkulose en Trueperella pyogenes.

C. pseudotuberkulose is ’n fakultatiewe aërobiese, gram-positiewe bakterie wat in grond leef. Hierdie bakterie veroorsaak kaasagtige limfklierontsteking by bokke, skape, perde, beeste en, tot ’n mindere mate, by mense.

T. pyogenes, voorheen bekend as Arcanobacterium pyogenes, is ’n niebeweeglike, fakultatiewe anaërobiese, gram-positiewe bakterie. Dit is ’n opportunistiese bakterie wat ’n verskeidenheid siektes tot gevolg kan hê, insluitend mastitis, lewerabsesse en longontsteking by beeste, skape, varke en bokke.

Siekteverspreiding

Normaalweg word die meer vatbare diere in ’n kudde met hierdie twee soorte bakterieë besmet, en infeksie versprei dan verder deur die kudde. C. pseudotuberkulose-infeksies kan voorkom wanneer sekere prosedures, soos oorplaatjies insit, stertafsit of kastrering, met ongesteriliseerde gereedskap uitgevoer word.

T. pyogenes kan diere besmet via wonde op die vel wat deur bosluisbyte, dorings, grassade en onkruide veroorsaak word. Veral by skape is dit bekend dat grassade die sagte vel rondom die keel binnedring, wat tot absesse rondom die tong en keelholte kan lei.

C. pseudotuberkulose

Wanneer diere met C. pseudotuberkulose besmet is, duur dit tussen 15 en 140 dae vir ’n abses om te vorm. Die besmette diere toon gewoonlik min kliniese tekens, maar wanneer ’n groot aantal absesse ontwikkel, sal die diere gewig begin verloor en lomerig raak.

C. pseudotuberkulose-infeksie veroorsaak absesse met dik, geelwit of groenwit etter. ’n Eivormige kapsule wat die abses omring, kan by diere wat aan kroniese absesse ly vorm.

Infeksie veroorsaak ook vergrote limfkliere en absesse rondom die nek en kop. In sommige gevalle kan infeksie na die longe versprei en kan dit selfs tot longontsteking, lewerontsteking, mastitis, orgitis, artritis en perinatale mortaliteit lei. C. pseudotuberkulose-infeksies word gewoonlik met wonde wat tydens skeer opgedoen word, geassosieer.

Bakterieë kan tot tien dae lank op oppervlaktes oorleef – soms langer as ’n jaar in hooi of beddegoed – en langer as 24 uur in dompelvloeistof.

T. pyogenes

T. pyogenes kom normaalweg op die mukosale oppervlaktes van gesonde diere voor, soos die urogenitale, gastro-intestinale en boonste lugweë van beeste, bokke, perde, muskusherte, varke en skape. Bakterieë kom ook op dorings, doringdraad en sekere plante voor. Die bakterieë floreer in nat en koeler weerstoestande, en vlieë dra maklik hierdie bakterieë aan diere oor.

T. pyogenes dring gewoonlik deur beskadigde weefsel die liggaam binne. Alhoewel absesse wat deur die infeksie veroorsaak word in byna elke orgaan gevorm kan word, kom dit gewoonlik op bosluisbyte of wonde voor, terwyl absesse ook op die melkkliere, sentrale senuweestelsel, plaaslike limfkliere, asemhalings- en kardiovaskulêre stelsels, die skeletstelsel en die lewer kan voorkom.

Infeksies kom ook dikwels in die geslagsorgane, spysverteringskanale en boonste lugweë voor, aangesien hierdie areas natuurlik baie hoë vlakke van bakterieë huisves. Hierdie bakterieë kan tot kroniese mastitis, baarmoederinfeksies en vrotpootjie aanleiding gee.

In vergelyking met C. pseudotuberkulose, is ’n abses wat deur T. pyogenes veroorsaak word sag, ontwikkel vinnig en het geen ontwikkelde kapsule nie. Die etter het normaalweg ’n groengeel kleur.

Voorkomende maatreëls

Wanneer absesse ontwikkel, kan die ongemak veroorsaak dat diere weier om te vreet, wat tot gewigsverlies lei. Die kroniese en verswakkende aard van die siekte kan swak haarproduksie en ondergemiddelde reproduksie tot gevolg hê.

Om hierdie bakteriële infeksies te voorkom, moet goeie higiënepraktyke nagevolg word. Ontsmetting van skeer-, identifikasie- en ander hanteringstoerusting is die belangrikste stap om die tempo van nuwe infeksies te verlaag.

Doringagtige voer soos turksvye, doringbosse of gras met skerp sade kan skaafwonde op die vel veroorsaak, wat tot absesse by skape en bokke kan lei. Infeksies kan in hierdie wonde voorkom en na ander dele van die liggaam versprei.

Om absesse by diere doeltreffend te beheer, is dit noodsaaklik om eers die veroorsakende organisme te identifiseer, sodat produsente kan bepaal watter beheermaatreëls geïmplementeer moet word. Monsters van die etter kan by veeartsenykundige laboratoriums ingedien word vir ’n bakteriële kultuuranalise.

Inenting bly die antwoord

Produsente moet beide jong en volwasse diere inent om infeksies te verminder, en alle diere moet jaarliks skraagdosisse ontvang om die infeksiekoers onder beheer te hou. Let egter daarop dat inentings nie die probleem ten volle kan uitroei nie, maar sal wel help om die voorkoms van infeksie te verminder.

Die T. pyogenes-entstof moet driemaal gedoseer word (2mℓ vir jong diere en 5mℓ vir volwasse diere, wat onderhuids ingespuit word), met tussenposes van tien tot 14 dae. Die C. pseudotuberkulose-entstof word tweemaal ingespuit (2mℓ onderhuids), ’n maand uitmekaar, met ’n enkele skraaginenting ses maande later.

Behandeling van absesse met antibiotika is gewoonlik nie doeltreffend nie. Diere wat erg geïnfekteer is, moet uitgeskot word en besmette materiale moet gesteriliseer word. Streng higiënepraktyke moet tydens chirurgiese prosedures toegepas word en diere moet nie in omgewings wat infeksie kan veroorsaak gehou word nie. Laastens kan bosluisbeheer ook voordelig wees indien voetabsesse gereeld ’n probleem is.

Bestuurspraktyke

Omdat die absesvormende bakterieë in oorvloed op diere en in hul omgewing voorkom, moet produsente alles in hul vermoë doen om te verseker dat die omgewing nie met C. pseudotuberkulose besmet raak nie.

Krale, skure, hokke en diptenks, sowel as klere wat met absesafskeiding of ontlasting besmet is, kan tot meer infeksies in die kudde lei. Dit is belangrik om te voorkom dat die omgewing besmet raak wanneer oppervlakkige absesse gespoel of gelanseer word.

Die volgende higiëneprotokolle moet nagekom word:

  • Skeerskêre moet met 3 tot 5% formalien ontsmet word.
  • Skeerders moet toegang tot skoon oorpakke hê.
  • Sinksulfaat moet by dipstowwe gevoeg word (1kg/1kℓ).
  • Gebruik 3% formalien om skuurvloere te ontsmet voordat daar geskeer word.
  • As ’n dier tydens skeer beseer word, behandel die wond met 3 tot 5% formalien.
  • Verbrand alle besmette materiaal.

Die volgende bestuursprotokolle moet toegepas word:

  • Sover moontlik, moet diere wat erg geïnfekteer is uitgeskot word, aangesien dit ’n primêre bron van verspreiding in die kudde kan raak. Indien die dier baie waardevol is, raadpleeg die veearts oor chirurgiese verwydering of lansering van die abses.
  • Bosluisbeheer moet gereeld toegepas word.
  • Jonger diere in goeie kondisie en sonder enige absesse, moet eerste geskeer word.
  • Moenie diere met sigbare skeerwonde dip nie.

Moenie absesse binne-in skure lanseer nie, want die risiko vir verdere besmetting is baie hoog. – Claudi Nortjé, Veeplaas

Van die inligting in hierdie artikel is uit die boek, Diseases & Parasites of Sheep and Goats in South Africa, deur Pamela en Peter Oberem, asook van www.angoras.co.za verkry.