Monsanto SA het op 8 Maart ’n tegnologiedag op Lichtenburg gehou waar produsente ingelig is oor plantestand, besproeiing, nuwe wit- en geelmieliekultivars, tegnologie en mieliepeste. Boere van die Lichtenburg-omgewing kon die hele dag deurbring deur na verskillende lesings te luister en die verskillende inligtingstasies op die Monsanto-proefplaas te besoek.

Die internasionale spreker vir die dag was dr Fred Below van die Universiteit van Illinois in die Verenigde State van Amerika (VSA). Hy het oor die verskille tussen mielieproduksie in Suid-Afrika en die VSA gepraat en sy sewe geheime vir hoër opbrengste gedeel. Kliek hier om meer oor sy geheime te lees. 

Christo van der Rheede, adjunk-uitvoerende beampte van Agri SA, het boere moed ingepraat oor grondhervorming. Hy het gesê daar sal altyd in die landbou geleentheid wees om vooruit te gaan. Hy het ook ’n oorsig van die internasionale en plaaslike landskap vir landbou gegee.

Inligtingstasies

Die boere kon deur die dag sewe stasies besoek. Nuwe saadtegnologie vir die 2018/2019-seisoen was die hoogtepunt van die besprekings by die meeste van die stasies. Nuwe wit- en geelmieliekultivars met opwindende nuwe eienskappe is bekend gestel.

By die tegnologie-stasie het Tony Johnson, ’n landboukundige van Monsanto, gepraat oor ’n nuwe kultivar wat 100% bestand is teen die herfskommandowurm. Hy het ook aan produsente verduidelik hoe om die herfskommandowurm te identifiseer en van ander wurmpeste te onderskei.

Kyk die onderstaande video hoe om die herfskommandowurm te identifiseer.

Vir meer inligting loer na die onderstaande Twiets van die dag met die hutsmerk #Tegnologiedag2018. – Ursula Human, AgriOrbit

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here