Jandré Human, bestuurder en wynmaker by Suid-Kaap Wingerde, is wyndruifprodusente in die Klein Karoo se nuwe stem op die Vinpro-direksie.

Read it in English

Sy verkiesing tot Vinpro se direksie is tydens die wynbedryfliggaam se virtuele algemene jaarvergadering op 11 November bekragtig. Hy volg Niël Joubert van die plaas Warmwater op, wat ná sewe jaar op die Vinpro-direksie op rotasiebasis herverkiesbaar was, maar homself nie weer as direkteur vir die streek kiesbaar gestel het nie.

Jandré is sedert 2013 aan die stuur van Suid-Kaap Wingerde en was voor dit onder meer verbonde aan Overhex Wines, waar hy namens die Worcester-streek op die Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -stelsels (SAWIS) se tegniese komitee gedien het, asook aan Brandvlei- en Windmeul-kelders.

Nuwe bloed om die plaaslike wynbedryf te help herbou

Vinpro
Jandré Human.

“Jandré is ’n aanwins vir die Vinpro-direksie, met goeie perspektief oor die operasionele kant van wyndruifverbouing asook die produksie en bemarking van die markklaar produk. Ons sien uit daarna om saam met hom te werk om die Suid-Afrikaanse wynbedryf te help herbou,” sê Vinpro-voorsitter, Anton Smuts.

Vinpro verteenwoordig nagenoeg 2 500 Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente, kelders en wynverwante besighede. Die organisasie voorsien strategiese leiding, bied gespesialiseerde dienste en beywer hom vir die ontwikkeling van mense. – Persverklaring, Vinpro