Agri SA verwelkom die kleiner prystoenames vir rouwater wat die Departement van Water en Sanitasie vir die besproeiingsektor vir die 2021/2022 finansiële jaar voorgestel het. Die departement het sy voorgestelde tariefverhogings vir rouwater tydens ’n virtuele vergadering met nasionale belanghebbendes op 20 Augustus 2020 voorgehou.

Read it in English

Die departement sal nou by die minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, aanbeveel dat waterhulpbronbestuurstariefstygings vir die besproeiingsektor vir die komende finansiële jaar tot 1,2% beperk word vir alle waterbestuursgebiede, behalwe die Oranjerivier-bestuursgebied waar ’n toename van 10% ingevolge die bestaande Nasionale Prysingstrategie voorgestel word.

Beperkte tariewe vir waterinfrastruktuur

Met betrekking tot waterinfrastruktuurskoste, sal die voorgestelde tariefstygings vir die besproeiingsektor tot 10% beperk word. Stygings van tot 50% was aanvanklik tydens die vroeër rondtes van die departement se provinsiale en sektorspesifieke konsultasies voorgestel.

Die departement het dit egter duidelik gestel dat die beperkte stygings wat voorgestel is hoofsaaklik in die lig van die ernstige ekonomiese gevolge van die huidige COVID-19-pandemie bepaal is. Dit sal outomaties tot ’n inkrimping van die departement se bedryfsbegroting en -besteding in die komende finansiële jaar lei.

Ekonomiese nagevolge van COVID-19 deur laer tariewe versag

“Met groot dele van die binnelandse en globale ekonomie wat geweldig geraak is deur COVID-19, asook die huidige droogtetoestande in groot dele van Suid-Afrika, voorsien Agri SA dat besproeiingsboere toenemend onder ernstige finansiële druk sal verkeer. Die voorgestelde kostes sal grootliks bydra om sommige van die huidige en verwagte ekonomiese laste te versag,” sê Wayman Kritzinger, voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid: Natuurlike Hulpbronne.

“Hoewel Agri SA die voorgestelde tariewe verwelkom, is ons steeds bekommerd oor die gebrek aan deursigtigheid rondom die kosteverhaling, begroting en besteding ten opsigte van hierdie kostes,” sê Janse Rabie, Hoof van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid: Natuurlike Hulpbronne.

Bekommernis oor ondoeltreffende skuldbestuur

“Ons is diep bekommerd oor die hoë historiese uitstaande skuldvlakke soos aan ons voorgehou deur die departement. Wetsgehoorsame verbruikers moet nie hoef te betaal vir ondoeltreffende verhaling deur die regering nie. Terwyl ons waardering het vir die stappe wat die regering geneem het om hierdie situasie aan te spreek, is dit duidelik dat verdere drastiese optrede noodsaaklik is.”

Waar die landbou die grootste verbruiker van water in Suid-Afrika is, beloop die historiese uitstaande bedrae wat hierdie sektor aan die regering verskuldig is minder as 10% van die departement se R18-miljard debiteurerekening. Munisipaliteite, tesame met waterrade, skuld die regering ’n verbysterende R13 miljard (72%), met maatskappye en ander staatsdepartemente aanspreeklik vir die res.

Agri SA sal voortgaan om met die regering te skakel om te verseker dat rouwater bekostigbaar bly, maar dat die bestuur en regulering daarvan ook verbeter word met die oog op gehalte watervoorsiening. – Persverklaring, Agri SA