Vandag word daar ’n sombere prentjie oor klimaatsverandering en die landbou geskets. Maar is alles net doom and gloom, of is daar dalk ’n silwer randjie aan hierdie donker wolk te bespeur? Kan die negatiewe effekte wat voorspel word, deur beter boerderybestuur, boerderypraktyke en boerderytegnologieë versag word, of is daar niks wat die veeboer te doen staan nie?

Ongeag of die leser ’n voorstander van klimaatsverandering is of nie, is dit belangrik om kennis te neem van die klimaatskommelinge wat in die afgelope 30 tot 40 jaar voorspel is, wat uiteindelik waargeneem is, wat verder verwag word en wat die veeboer hieromtrent kan doen.

Verhoogde CO2-vlakke en die veeboer

Plante neem koolsuurgas op en gebruik dit tydens fotosintese vir groei en produksie. Koolstof, saam met waterstof en suurstof, maak sowat 96% van die droëmassa van plante uit. Daarom kan ons verwag dat met meer CO2 in die atmosfeer, plante beter sal groei en produseer.

Die nuutste veldnavorsing dui op toenames van gemiddeld 17% in bogrondse plantproduksie en sowat 30% in wortelgroei as gevolg van die hoër atmosferiese CO2-konsentrasie op aarde. Sekere faktore bepaal egter die doeltreffendheid van hierdie toenemende groei en produksie weens verhoogde CO2 in die atmosfeer.

Fotosintese-tipe

Die eerste faktor is die fotosintese-tipe van ’n plant. Daar is drie tipes: C3, C4 en CAM. Koelseisoenplante wat bossies, struike, bome en koelseisoengrasse insluit, volg die C3-fotosinteseproses. Warmseisoenplante, soos tropiese grasse, val onder C4-tipe fotosintese terwyl sukkulente die CAM-roete volg.

Die oorgrote meerderheid van veldnavorsing wys dat dit veral die C3-groep plante is wat deur die verhoogde CO2-konsentrasie bevoordeel word, terwyl C4-plante se respons minder as die helfte so goed is. Die feit bly staan dat verhoogde CO2 beide C3- en C4-plante se produksie bevoordeel. Hierdie verskynsel staan as CO2-bemesting bekend.

Stikstofbeskikbaarheid

’n Tekort aan stikstof beperk die bemestingseffek van die verhoogde CO2-konsentrasie. Vir hiérdie rede is peulplante besonder gunstig geposisioneer om van die verhoogde atmosferiese CO2-konsentrasie gebruik te maak, omdat hulle stikstof bind vir gebruik as voedselbron.

Derdens bevoordeel die toename in die CO2-konsentrasie plante se waterverbruiksdoeltreffendheid (WVD). Koolsuurgas word via plante se huidmondjies opgeneem en wanneer die huidmondjies oop is, verloor die plant water aan die atmosfeer.

Wanneer die koolsuurgaskonsentrasie in die atmosfeer hoog is, hoef ’n plant nie sy huidmondjies so groot oop te maak om dieselfde hoeveelheid CO2 op te neem nie. Dit lei tot minder transpirasieverliese en ’n toename in WVD, met toenames van tussen 5 en 20% wat voorkom.

Die donker kant van CO2-bemesting

Koolsuurgras bevoordeel houtagtige plante, veral peulplante. Daarom is bosverdigting en die uitbreiding van die gebiede waar bosverdigting voorkom, problematies. Die South African Environmental Observation Network (SAEON) het die afgelope paar dekades dramatiese veranderinge in bosverdigting binne Suid-Afrika se savanna-, grasveld- en fynbosbiome waargeneem. Volgens hulle is die savannagebiede besig om na die aanliggende grasveldgebiede uit te brei, terwyl die bestaande savannagebiede ernstige bosverdigting ondergaan. Trouens, dit is besig om in digte boskasies te verander wat ondeurdringbaar vir mens en dier raak.

Hierdie veranderinge word selfs in die droër savannagebiede waargeneem. Die grasvelde wat aan die savannabioom grens, is besig om ingeneem te word deur bome en struike, en verander stelselmatig na savanna. In die oorblywende grasveld vind verdigting van kleiner bosse en struike plaas, waarvan slangbos baie bekend is. Selfs die droër grasveldgebiede is nie uitgesluit nie. In dele van die fynbos vind die verdigting van uitheemse indringerplante soos rooikrans, dennebome en wattels plaas.

Savanna en grasveld verskaf na raming sowat 81% van die beskikbare weidingkapasiteit vanuit veld in Suid-Afrika (37% in die savannabioom en 44% in die grasveldbioom, volgens Paul Avenant van die Departement van Landbou). Die bestuur van bosindringing binne hierdie gebiede is dus ’n hoë prioriteit vir die afsienbare toekoms.

In die savannagebiede word daar staat gemaak op wildboerdery om die bosverdigtingprobleem te bestuur. Die sukses hiervan is egter twyfelagtig aangesien dit slegs die groter wildsoorte soos olifante en renosters (die sogenaamde mega-struikvreters) is, wat ’n beduidende onderdrukkende effek op bos het.

CO2bemesting se silwer randjie

Na verwagting gaan Suid-Afrika se weiplante weens CO2-bemesting en beter WVD meer voer produseer, mits daar voldoende stikstof in die grond beskikbaar is. Prof Hennie Snyman se navorsing oor baie dekades wys dat hoe beter grasveld se toestand is, hoe hoër is die stikstof-inhoud van die bogrond. As ’n mens dus in ag neem dat die voordeel van CO2-bemesting deur stikstofbeskikbaarheid beïnvloed word, is dit belangrik om te sorg dat grasveld in ’n uitstekende toestand is. Hoe swakker die toestand van grasveld, hoe laer is die stikstof-inhoud en hoe minder die voordeel van CO2-bemesting.

Snyman het ook bewys dat die plantspesies wat in goeie grasveld domineer, ’n noemenswaardige hoër WVD het as grasse wat in swak veld voorkom. Sy navorsing toon ook aan dat die basale bedekking van goeie veld aansienlik beter is as dié van swak veld, met die gevolg dat die verdamping van water uit die grondoppervlakte verminder, wat meer water vir transpirasie tydens fotosintese beskikbaar stel en plantproduksie verder bevoordeel.

As ’n mens dus die voordele van veld in ’n goeie toestand aan die voordele van CO2-bemesting koppel, skyn die silwer randjie van veldbewaring nóg helderder. Dit dra daartoe by dat goeie veld se weikapasiteit in die toekoms selfs beter kan wees as in die verlede. Bosverdigting is ’n gegewe, maar Suid-Afrika beskik oor die nodige kundigheid en chemiese middels om hierdie situasie te bestuur, hoewel teen ’n prys. Die prys wat ons gaan betaal vir géén beheer nie, is egter aansienlik hoër as die koste verbonde aan beheer.

Uiterste weerpatrone

Die gemiddelde getal reëndae neem jaarliks af, met ’n toename in reënvalintensiteit (meer intense reënstorms) en ’n afname in reënvalfrekwensie, met nat tydperke wat natter word en droë tydperke wat meer intens droog word. Die donker kant van hierdie uiterste weerstoestande sluit in dat meer water afloop na die riviere, minder water die grond binnedring, water-erosie toeneem, en meer intense droogtes voorkom.

Daar is wel ’n paar positiewe aspekte. Die eerste is die feit dat goeie veld beter weerstand bied teen gronderosie. Hoe digter die veld se bedekking, hoe minder water spoel weg en hoe meer beland in die grond. Solank die veld goed bedek is, hoef boere nie bang te wees vir intense reënstorms se erosie-effek nie.

Die tweede silwer randjie is dat veld in ’n goeie toestand, die risiko van droogtes verklein. Dr Mias van der Westhuizen se navorsing toon dat veld in ’n goeie toestand die beste beskerming teen droogtes bied. Byvoorbeeld, veld in ’n swak toestand in die sentrale Vrystaat het ’n twaalf keer groter kans op voertekorte as veld in ’n goeie toestand. Net so het swak veld in die droër Kalahari-gebiede ’n vier keer groter kans op voertekorte.

Die derde silwer randjie is dat dit moontlik is om proaktief vir droogtes te beplan en die nodige veranderinge aan die boerdery aan te bring, sodat droogtes beter oorbrug kan word. Hierdie veranderinge moet in die goeie jare geïmplementeer word, sodat wanneer droogtes voorkom, boere beter daarteen beskut is.

Hoër temperature

Die jongste wetenskaplike data toon ’n toename van sowat 1°C in die gemiddelde temperatuur regoor Suid-Afrika. Die slegte nuus vir veeboere is dat hul vee aan meer hittestres onderhewig gaan wees. Aan die positiewe kant besit Suid-Afrika se veebedryf die vermoë, tegnologie en teelmateriaal om diere te selekteer wat hittetoestande beter sal kan hanteer.

Nóg goeie nuus is dat CO2-bemesting en meer hitte-eenhede tot ’n verdere verhoging in plantproduksie behoort te lei, mits daar voldoende water beskikbaar is. ʼn Goeie voorbeeld hiervan is die navorsing van prof Beatrice Conradie wat bevind het dat solank daar genoeg water in die grondprofiel beskikbaar is, verhoogde lugtemperatuur ’n positiewe effek op die produksie van lupiene sal hê.

Telkens is dit slegs veld in ’n goeie toestand wat hierdie silwer randjie voldoende sal kan benut, omdat die waterbalans van goeie veld beter as dié van swak veld is.

In ’n neutedop

Suid-Afrika is 121 miljoen ha groot. Daarvan is 91,3 miljoen ha natuurlike veld en 13 miljoen ha bewerkte grond. Bewaringsgebiede beslaan 6,7 miljoen ha, dorpe en stede neem 2,6 miljoen ha op, en die res van die oppervlakte word hoofsaaklik deur mynbou en ander aktiwiteite beset (Avevant, 2019). Die meerderheid ekstensiewe diereproduksie vind plaas vanaf natuurlike weivelde, veral in die savanna-, grasveld- en Karoobiome, wat gesamentlik 93,5% van die land se totale veldweidingkapasiteit bied.

Dit is belangrik dat veeboere kennis neem van die donker kant van klimaatsverandering, maar ook die geleenthede wat dit bied. Die volhoubaarheid van veld-veeboerdery gaan veral op twee pilare steun: die verbetering van die toestand van Suid-Afrikaanse weivelde (veldverbetering en veldherwinning) en die beheer van bosverdigting en -indringing. Dit gaan aanpassings, kreatiwiteit en innovering van die Suid-Afrikaanse veeboer verg. – dr Louis du Pisani, Nasionale Wolkwekersvereniging

Vir meer inligting of verwysings, stuur ’n epos na louis@nwga.co.za.