Haarwurmbesmetting is een van die algemeenste siektes wat onder skape en bokke voorkom, veral in somerreënvalgebiede. Haarwurms is bloedsuiers en veroorsaak bloedarmoede (anemie). ’n Kliniese teken is bleek slymvliese. Normale slymvliese is rooi, maar haarwurmbesmetting veroorsaak dat slymvliese pienk word en later spierwit, waarna vrektes voorkom. Nog ’n siekteteken is ’n kwakkeel.

Die probleem met dié parasiet is dat daar nie ’n middel is wat haarwurm 100% beheer nie. Die gevolg is dat vir spesifieke wurmmiddel-weerstandige haarwurmstamme geselekteer word, waarna die probleem al groter word en vinnig versprei.

Leef saam met die probleem

Die bekende en bekroonde veearts, dr Faffa Malan, en prof Gareth Bath, sameroeper van die adviesliggaam vir kleinveegesondheid (SSHAB), glo dit is beter om met die probleem saam te leef as om jou diere só te behandel, dat die parasiet op die lange duur, ten spyte van die behandeling, ’n groter probleem word.

Prof Bath sê die grootste probleem is die wangebruik van wurmmiddels deur produsente. “Op baie plase is daar weerstandigheid teen baie groepe middels. Dit bedreig die volhoubaarheid van skaap- en bokboerdery, aangesien ’n mens nie net op medikasie kan staatmaak om parasiete te beheer nie,” sê hy.

Hy verduidelik dat die meeste skape en bokke die vermoë het om die ongemak van wurmbesmetting te verduur en dat net ’n klein aantal diere in die kudde werklik siek raak daarvan.

Die Famacha-antwoord

Dr Faffa Malan, of dok Faffa, soos hy oor die algemeen bekendstaan, het hierdie probleem al jare gelede geïdentifiseer en ’n plan gemaak deur die Famacha-stelsel, wat na hom vernoem is, te skep. Hy het die Famacha-stelsel (FAffa MAlan CHArt) in samewerking met prof Gareth Bath en dr Jan van Wyk ontwikkel.

Dié stelsel behels dat die kleur van skape en bokke se oogvliese met die kleure op ’n kaart vergelyk word om hul bloedarmoedigheid (inwendige parasietbesmetting) te meet. Net diere wat swaar besmet is, word dan behandel. Dit hou die opbou van weerstand teen middels in toom en identifiseer ook diere wat natuurlike weerstand teen parasiete bied.

Hier word die kleur van ’n bok se oogvliese volgens die Famacha-stelsel met die kleure op ’n kaart vergelyk om sy parasietbesmetting te meet.

Hy sê dit is onnodig om elke keer die hele kudde te doseer. “In die eerste plek moedig jy die seleksie van weerstandige parasiete aan en tweedens is dit elke keer ’n duur proses vir die produsent. Navorsing het ook getoon dat skape en bokke se vermoë om infeksies van parasiete te voorkom, onderdruk of weerstaan, oorerflik is. Diere kan dus geteel word om parasiete op ’n natuurlike manier te weerstaan.”

Volgens hom is die ou teorie van die boksie vuurhoutjies wat elke dag by elke skaap se oor geskud moet word, die eintlike antwoord. “Daar is makliker maniere om haarwurm te behandel deur gereeld jou skape deur te gaan en net dié wat nie met die haarwurmbesmetting kan saamleef nie, te behandel. Vir dié doel is die Famacha-ondersoek baie doeltreffend.”

Dok Faffa, prof Bath en dr Van Wyk het eers die Famacha-stelsel in Suid-Afrika beproef en in werking gestel. Hulle het dit sedert 1990 in verskillende ander lande ook op die proef gestel en elke keer is groot sukses met die stelsel behaal.

Famacha-ondersoek

Dok Faffa verduidelik dat die haarwurm bloedarmoede veroorsaak. Normaalweg sou dié toestand in ’n laboratorium getoets moes word, maar met die Famacha-stelsel kan die produsent dit self bepaal.

“Bloed bestaan uit plasma (’n helder vloeibare deel) en rooibloedselle. Die verhouding van die rooibloedselle tot die plasma bepaal of die dier gesond of siek is. Te veel of te min rooibloedselle is ’n aanduiding van siekte. Hierdie verhouding word gewoonlik in ’n laboratorium gemeet, maar met oefening kan dit redelik akkuraat bepaal word deur na die kleur van die dier se oogslymvliese te kyk.

“Haarwurms is bloedsuiers en swaar parasietbesmetting lei dus tot ’n lae verhouding rooibloedselle tot plasma. Die oogslymvliese is dan bleker as wat dit behoort te wees. Deur na die slymvliese te kyk, kan ’n mens dus bepaal watter diere anemies is en behandel moet word,” sê hy.

Voordele van die metode

Prof Bath sê daar is baie voordele aan dié ondersoekmetode verbonde. Volgens hom spaar dit nie net medikasie nie, maar dit help skape en bokke ook om op ’n natuurlike wyse hulself teen besmetting te staal en om te voorkom dat parasiete weerstandig raak. “So word skape wat kliniese tekens van ’n haarwurmbesmetting wys, vroeg geïdentifiseer en hulle word met ’n doeltreffende middel behandel voordat die simptome handuit ruk. Sulke diere behoort uitgeskot te word.”

Volgens dok Faffa kan gevalle waar diere met ondoeltreffende medikasie behandel is, maklik opgemerk word omdat daar minder skape is wat dopgehou moet word. Wanneer ’n doeltreffende middel vir behandeling gebruik word, sal die bleek oogslymvliese binne ’n week of tien dae begin verbeter as die dier se proteïeninname en liggaamskondisie voldoende is.

Hy het ook ervaar dat skape wat net behandel word wanneer dit werklik nodig is, sterker is en die uitwerking van haarwurm beter kan weerstaan. “Deur jou skape gereeld te ondersoek, word die probleem makliker uitgewys. Dit is dan ook makliker om kampe of krale waar dié parasiete voorkom, te identifiseer.”

Dr Bath stem hiermee saam en sê nog ’n voordeel van die metode is dat dit baie kostedoeltreffend is. Die inspeksie van diere se oë kan saam met ander aksies, soos inenting of die weeg van diere, gedoen word. Volgens hom kan daar maklik tot 500 skape per uur ondersoek word.

Moontlike probleme

Volgens dok Faffa is daar nooit ’n klinkklare antwoord vir alle siektes nie en moet voorsorg wel ook getref word. “Slegs haarwurmbesmetting word met die Famacha-stelsel baie deeglik ondersoek. Hoewel verskeie ander bloedsuierparasiete reeds met die proses suksesvol uitgewys word, kan hierdie toets net vir haarwurmbeheer gewaarborg word. Ons het dit nog nie so deeglik op ander parasiete getoets nie.”

Hy beklemtoon dat die Famacha-ondersoekmetode aanvullend tot goeie parasietkontrole is en nie alleen aangewend kan word om parasiete te beheer nie. “Hoewel haarwurm die grootste oorsaak vir bloedarmoede is, is daar ook ander oorsake wat verwarring kan veroorsaak, soos lewerslak, eksterne parasiete, bloedparasiete, infeksies en selfs voedingsgebreke.

“Aan die ander kant is daar ook ander toestande wat die dier se oogmembraan rooier laat vertoon en sodoende die indruk skep dat bloedarmoede teenwoordig is. Dit sluit in stof of warm, droë toestande wat die oë irriteer, wanneer diere oor lang afstande aangejaag word sonder om hulle te laat rus, koors, aansteeklike oogsiektes en siektes wat verband hou met gebrekkige bloedsomloop.”

Die vyfpuntplan

Dok Faffa en prof Bath het ’n vyfpuntplan opgestel wat elke produsent vir ondersoeke kan gebruik om die meeste parasiete op sy plaas hok te slaan. Stap een behels die Famacha-metode. Die ander vier punte in die plan behels:

  • Die neusarea: Deur die neus te kontroleer, kan maklik bepaal word of ’n dier enige besmetting van neuswurm het. Daar sal ’n waterige uitloop uit die neus wees, wat die dier se reuksintuig belemmer en ook ’n negatiewe uitwerking op sy gewigstoename het. Ander siektes en parasiete wat ook met dié ondersoek geïdentifiseer kan word, is longwurm, longontsteking, bloutong en vuilbek.
  • Liggaamskondisietelling: Om die liggaamskondisietelling te bepaal, moet die dier se lende gemeet word. Veral diere wat ondergewig is, is waarskynlik met parasiete soos bruinmaagwurm, bankrotwurm, langnekbankrotwurm, knoppieswurm en peervormige maagslakwurm besmet.
  • Misondersoek: Die bestudering van ’n skaap of bok se agterstewe kan ook aandui of die dier met parasiete besmet is. ’n Skoon agterstewe dui daarop dat die dier baie gesond is. As die mis egter in die wol inloop en sy agterbene bevuil, beteken dit dat hy diarree het, wat dikwels deur parasiete veroorsaak word. Ander siektes of parasiete wat ook diarree veroorsaak, is bruinmaagwurm, bankrotwurm, langnekbankrotwurm, knoppieswurm, sambokwurm, peervormige slakwurm, kriptosporidiose en koksidiose.
  • Kwakkeel: Kwakkeel is ’n kliniese teken wat baie algemeen by haarwurm- en lewerslakbesmetting voorkom. Hierdie parasiete kan gewigsverlies en vrektes tot gevolg hê, en het ook ’n impak op die dier se immuniteit en vrugbaarheid.

Dit is baie belangrik om diere wat ingekoop word in kwarantyn te plaas, waarna met die vyfpuntplan en miseiertellings verhoed moet word dat weerstandige parasiete in die kudde ingebring word.

Vir meer inligting, kontak prof Gareth Bath by 082 802 2526 of gfbath@gmail.com, en dr Faffa Malan by 082 908 8666 of dokfaffa@nashuaisp.co.za.

FAMACHA skaap dag