Estimated reading time: 5 minutes

Vlieë is ’n bron van irritasie vir mens en dier, en kan groot produksieverliese by vee en ‘n verlies aan inkomste vir produsente beteken. Dr Arno Moore van Bio-Insectaries South Africa (BISA) sê die irriterende effek van vlieë lei tot dikwels tot ’n vermorsing van diere se energie, aangesien hulle poog om die vlieë te verjaag deur hul sterte te waai, koppe te swaai en pote te stamp.

Haal die lastige vlieg uit die produsent se salf

Hul voerinname verlaag, en produksie en groeitempo neem af. Melkproduksie kan tot met ’n liter per dag verminder. Vlieë is ook vektore van verskeie oogsiektes en sekere bytende vlieë word geassosieer met Staphylococcus aureus mastitis, veral in verse.

Celeste Meyer van Coopers Environmental Science sê vlieë skep ook probleme by voerkrale en veroorsaak verliese vir voedselverwerkers, deurdat besmette voedsel afgekeer word. Volgens Jannie Myburgh van Myburgh Toerusting is dit moeilik om werklike finansiële verliese weens vlieë te bereken, maar na raming kan dit vir ’n 1 000-dier voerkraal ’n verlies van sowat R10 000 per dag beteken.

Vliegspesies en lewensiklusse

Volgens dr Moore is huis- en stalvlieë vliegspesies wat plaagstatus kan aanneem. Die huisvlieg irriteer vee wanneer dit op vogtige plekke soos die oë en spene saamdrom. Die stalvlieg is ’n bytende vlieg wat op bloed voed en kom in massas op diere se pense en bene voor.

Vlieë is draers van ongeveer 70 menslike en dieresiektes, insluitend cholera, maagkoors en salmonella-tifuskoors. Vlieë versprei ook wurms soos haak- en lintwurms.

Die huisvlieg se lewensiklus is soortgelyk aan, maar effens korter as dié van stalvlieë. ’n Vliegwyfie lê tot 50 eiers op ’n slag en kan soveel as 800 eiers in haar leeftyd lê. Die eiers is wit en ongeveer 1,2mm lank, en ontwikkel binne 12 tot 18 uur tot larwes (geelwit maaiers van tot 12mm lank).

Die larwes gaan deur drie stadiums wat een tot drie weke kan duur. Hulle ontwikkel dan tot papies wat na drie dae tot drie weke uitbroei. Volwasse vlieë kom uit papies te voorskyn. Tien tot 30 generasies vlieë kan per jaar uit een vlieg ontstaan.

Biologiese vliegbeheer

BISA teel ’n vliegparasiet, Muscidifurax raptor – ’n klein wesp wat vliegpapies teiken vir voeding en om hul eiers in te lê. In die proses verhoed die wesp die uitbroei van ’n nuwe generasie vlieë. Soos die wespe in getalle toeneem, neem vlieggetalle af.

Vlieglarwes speel ’n belangrike ekologiese rol as komposteerder van afval, wat ryk aan proteïen en energie is. Die afbreek van voedingstowwe deur vlieglarwes is positief vir kompostering. “Die gebruik van ’n wesp laat toe dat die vlieglarwes hul komposteringsrol vervul, maar die parasitering van die vliegpapies verhoed die oordadige uitbroei van vlieë.”

Hierdie beheermetode is natuurlik, vry van chemiese gifstowwe, en vlieë bou nie weerstand op nie. “Die wespe word volgens streng fitosanitêre riglyne geteel om te verseker dat hulle oral veilig aangewend kan word,” verduidelik dr Moore.

Geïntegreerde vliegbeheer

Deur mis gereeld te verwyder, sal byvoorbeeld nie voldoende wees om die lewensiklus van die meeste vlieë te breek nie. Coopers Environmental Science pas daarom ’n geïntegreerde pesbeheerprogram toe om vlieë te bestuur. “Ons kyk na verskeie komponente wat moet saamwerk om die probleem op te los. Dit sluit broei- en rusplekke asook ’n kombinasie van gifstowwe in. Benatbare poeiers, residuele en ruimtelike spuitstowwe, higiëne, kennis van vlieë se gewoontes, en temperatuur speel ’n rol,” sê Celeste.

Coopers bied ’n wye reeks aktiewe bestanddele en formulasies, insluitend korrels, wat as lokaas gebruik word. Residuele spuitstowwe vir binnenshuise gebruik, en benatbare poeiers vir poreuse oppervlaktes buite, is beskikbaar.

Vlieëvangers

Myburgh Toerusting volg weer ’n roete wat vlieë fisies lok en in ’n gaashok vang. Dié piramiedvormige hok het ’n gaatjie wat groot genoeg is vir ’n vlieg om deur te kom. Die gaashok word bo-oor ’n 20ℓ emmer met aas, op ’n paal geplaas by plekke waar vlieë uitbroei.

Vir aas kan byvoorbeeld rou vleis in water in die emmer geplaas word. Die aas moet juis onder die water wees om stank te verminder en te keer dat vlieë eiers daarop lê. Wanneer die gaashok vol is, word die raam verwyder en die dooie vlieë uitgeskud. Die metode is veral doeltreffend by krale.

Die basis van enige beheerprogram is om die aantal vlieë vroegtydig onder die ekonomiese drumpelwaarde en irritasievlak te kry, en te verhoed dat vlieggetalle later só hoog is, dat dit nie beheer kan word nie. Jannie sê hulle begin jaarliks reeds in Augustus vliegbeheer toepas, sodat vlieë gevang word voordat hulle eiers lê.

Vlieë se broeiplekke moet só bestuur word, dat uitbroei tot die minimum beperk word. Dr Moore beveel aan dat mis so droog as moontlik gehou word, goeie dreinering gehandhaaf word, en lekkende water en verspilde voer, kuilvoer en verrottende hooi verwyder word.

Vir meer inligting, kontak dr Arno Moore by 083 270 4866 of arno@bioinsectsa.com, Celeste Meyer by 066 288 7285 of cmeyer@cooperses.co.za, of Jannie Myburgh by 082 417 0175.

wegholveldbrande