Knopvelsiekte is een van die belangrikste erosiesiektes onder beeste in Afrika. Dit word veroorsaak deur ‘n pox-virus wat simptome soos permanente huidskade en skerp dalings in die vrugbaarheid en produktiwiteit van die kudde veroorsaak.

 

Hoe kan jou beeste knopvelsiekte kry?

Die vermoede bestaan dat die siekte hoofsaaklik deur bytende insekte soos stalvlieë oorgedra word1. Dit kan dus oor ‘n groot gebied versprei vanaf ‘n enkele besmette dier. Die meeste gevalle kom gedurende laatsomer en vroeë herfs voor, gewoonlik gedurende jare van bogemiddelde reënval2.

 

Binne in kuddes versprei die siekte ook waar diere drink- en voerbakke deel, deurdat besmette diere se speekselafskeiding in die voerbakke beland. Koeie skei die virus deur hul melk af en kan kalwers sodoende besmet. Die mens kan ook die siekte versprei deur naalde tussen beeste te hergebruik wanneer ingeënt word tydens uitbrekings, of deur beeste kunsmatig te insemineer met besmette semen3.

Watter diere is vatbaar vir die siekte?

Alle ongeënte beesrasse is vatbaar, en tussen 3% en 85% van ‘n kudde kan geaffekteer word4. Kalwers van ongeënte koeie is ook vatbaar, maar kalwers van koeie wat ingeënt is, word beskerm tot op ongeveer ses maande. So ver as wat vasgestel kon word, speel wilde diere nie ‘n betekenisvolle rol in die verspreiding van hierdie siekte nie1,4.

Siektetekens by beeste met knopvelsiekte

Beeste ontwikkel eers ‘n koors en toon tekens soos verhoogde speeksel-, traan- en neusafskeidings. Soms kan daar ook bindvliesontsteking (konjunktivitis) in die oog en vergrote limfknope op die lyf voorkom.

Daarna begin die bees ‘n knopuitslag van ongeveer 1 tot 5 cm in deursnit op die vel kry4.
Op korthaar-beeste kan hierdie knoppe veral prominent vertoon en is dit gewoonlik oor die hele lyf teenwoordig. Letsels strek soms dieper as net die vel en kan tot in die pees-/seningskedes op die bene strek waar dit dan ook mankheid en onderhuidse wateraansameling (edeem) veroorsaak.

Verswering van die bek, lugpyp en pens kan ook voorkom. Sekondêre longontsteking kan ‘n nagevolg wees in gevalle waar lugwegverswering plaasvind. Letsels kom ook op die skrotum en peester voor, en kan lei tot ontsteking van die testes, wat weer tydelike of selfs permanente onvrugbaarheid veroorsaak. Speenletsels lei dikwels tot mastitis en gevolglike verlies aan uierfunksie4. Skerp dalings (tot 50%) in melkproduksie kan verwag word in koeie met knopvelsiekte2,4.

Voorkoming is beter as behandeling

Behandeling is slegs simptomaties, en dit is baie beter om eerder die siekte te voorkom (sien hieronder). Simptomatiese behandeling hang af van hoe erg ‘n bees geaffekteer is en sluit rehidrasie, anti-inflammatoriese middels en antibiotika in. Melksalf/agriflaviengliserien kan ook oor letsels gesmeer word indien dit versweer5.

Ander siektes wat soos knopvelsiekte lyk

Daar is wel ander siektes wat soos knopvelsiekte kan lyk. Die belangrikste hiervan is skynknopvelsiekte (pseudo lumpy skin disease). ‘n Veearts kan in samewerking met ‘n laboratorium jou help om te onderskei.

Voorkom knopvelsiekte deur inenting

Beheer vind eerstens plaas deur inenting. Die beheer van bytende insekte soos steekvlieë kan ook help om verspreiding te beperk. Vatbare diere moet jaarliks ingeënt word, verkieslik in die lente voor insekpopulasies drasties toeneem. Omdat die entstof ‘n lewende (verswakte) entstof is, kan daar by melkbeeste ‘n tydelike afname in melkproduksie wees.

Diere jonger as ses maande van wie die ma ingeënt is, moet nie ingeënt word nie. Kalwers gebore van ongeënte koeie, moet egter sodra moontlik ingeënt word. Dragtige koeie kan ook ingeënt word met LUMPYVAX6.

     

Omdat siekte-uitbrekings in siklusse van ‘n paar jaar kan plaasvind, is sommige produsente geneig om gedurende die ‘goeie jare’ op te hou inent. Die gevolg is dat groot dele van die nasionale kudde onbeskermd gelaat word wat tot massiewe uitbrekings kan lei, dikwels met ‘n tekort aan entstof gedurende sulke tye weens laer entstofproduksie in die voorafgaande jare2,7. Beplan dus vooruit en moenie onverhoeds betrap word nie.

Is knopvelsiekte na inenting moontlik?

Dit is moontlik dat daar steeds gevalle van knopvelsiekte in ‘n ingeënte kudde kan voorkom, maar dit is dikwels die gevolg van sekondêre redes4:

  • Indien diere alreeds die siekte inkubeer tydens enting (soos wat dikwels die geval is wanneer ‘n produsent eers inent wanneer sommige diere simptome toon).
  • Onbehoorlike entstofhantering (bv. verbreking van die koue ketting vanaf die verskaffer tot by die dier, blootstelling aan sonlig, entstof wat vries in die yskas, vervaldatum wat verstryk en klaar-opgemaakte entstof wat nie dadelik gebruik word nie).
  • Verkeerde toediening van entstof (bv. die naald steek per ongeluk regdeur die vel en nie onder die vel in nie, of ’n verkeerde dosis word gebruik).
  • Die inenting van kalwers gebore van beskermde koeie, voor die ouderdom van ses maande.
  • In enige populasie diere is daar ‘n baie klein persentasie individue wat nie ‘n goeie immuniteit opbou nie, ten spyte van inenting7. Verder kan baie groot virusladings (baie hoë besmetting) sommige diere se immuunstelsel oorweldig8.
  • Jaarlikse inenting word aanbeveel. Indien nie, is dit moontlik dat sommige diere hul immuniteit kan verloor.

Wegneemboodskap

Knopvelsiekte kan ‘n ekonomies verwoestende siekte wees, maar kan voorkom word indien entings jaarliks en korrek gedoen word.

Vir meer inligting, kontak jou MSD Dieregesondheid-verteenwoordiger of skakel 011 923 9300. Besoek ook www.msd-animal-health.co.za

 

 

Verwysings:

  1. Coetzer, J. A. W. Lumpy skin disease. In Infectious diseases of Livestock; Oxford University Press Southern Africa: South Africa; Vol. 2, pp. 1268–1276.
  2. Hunter, P.; Wallace, D. Lumpy skin disease in southern Africa : a review of the disease and aspects of control. Journal of the South African Veterinary Association 2001, 72, 68–71.
  3. Annandale, C. H.; Holm, D. E.; Ebersohn, K.; Venter, E. H. Seminal Transmission of Lumpy Skin Disease Virus in Heifers. Transboundary and Emerging Diseases 2013, n/a–n/a.
  4. Tuppurainen, E. S. M.; Oura, C. A. L. Review: lumpy skin disease: an emerging threat to Europe, the Middle East and Asia. Transbound Emerg Dis 2012, 59, 40–48.
  5. Blignaut, D. Re: [ruralvet] Disease rapport – LSD. Ruralvet Yahoo Group 20110610.
  6. Malan, F. S. FW: [ruralvet] Lumpy skin. Ruralvet Yahoo Group 20060421.
  7. Du Preez, E. Re: [ruralvet] Disease raporting October 2012 – Drs Eben & Shaun. Ruralvet Yahoo Group 20121105.
  8. Van Vuuren, M. Re: [ruralvet] Lumpy Skin Disease. Ruralvet Yahoo Group 20110312.

Produkinligting:
Lumpyvax , G3673 (Wet 36/1947)
Bevat 104 TCID50 gevriesdroog, lewendige, verswakte virus (SIS Neethling-tipe).
VCN 214/1304

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here