Johannes Human kyk na ’n troppie skape in die krale.

“Baie teorieë is bedink en dik dokumente geskryf oor die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se Kode van Beste Praktyk vir veeboere. Ek glo egter die meeste boere pas eintlik dié teorieë toe sonder dat hulle dit besef, want die onderliggende faktor is om so gereeld as moontlik jou vuurhoutjieboksie by elke dier op die plaas te skud as jy volhoubaar en winsgewend wil boer.”

Só gesels HG Human en sy seun, Johannes, twee bekende Dorper-telers en voorlopers in prestasietoetsing van Prieska in die Karoo.

HG vertel hy was vroeër ’n veekunde-adviseur en moes al die dinge wat die RPO se Kode van Beste Praktyk vir boere voorskryf, destyds vir jonger boere leer. Toe hy voltyds begin boer en sy seun ná sy studies by ’n landboukollege by hom aansluit, was al hierdie idees reeds vasgelê en dit is nou vir hulle tweede natuur.

“Ons was destyds baie betrokke by die ontwikkeling van nismarkte en daar is baie meer dinge wat nagekom moet word as wat die RPO se Kode van Beste Praktyk voorskryf. Dié kode is eintlik maar net die gewone praktiese dinge wat elke boer op sy plaas doen.”

HG Human en sy seun, Johannes, boer skouer aan skouer. Hulle glo die RPO se Kode van Beste Praktyk bevat eintlik riglyne wat die meeste boere reeds gebruik.

Verbruikers kom eerste

Volgens die Kode van Beste Praktyk moet boere deesdae nie net fokus op produksie nie, maar ook op faktore soos verbruikers se voorkeure, die beskerming van natuurlike hulpbronne, biodiversiteit en ekostelsels, welsyn en die sosiale ontwikkeling van almal in die produksieketting.

HG sê ’n mens is in die Karoo baie afhanklik van die natuurlike hulpbronne. “Ons het altyd ons veld onderbewei. Die drakrag van die plaas is 5ha per ooi, maar ons kudde-indeling is van so ’n aard dat ons 7ha/ooi gebruik. Ons het in 2014/15 slegs 40mm reën gehad. Dit was die minste sedert 1933. Ons moes ekstra grond huur, maar die veld het met die eerste reëns so herstel dat ons die skape weer kon terugbring.”

Hulle gebruik in goeie en swak jare ’n driekampstelsel en probeer altyd om die weiding so te gebruik dat een kamp ten minste vir ’n hele groeiseisoen rus.

Deeglike waterbestuur

Johannes sê hulle is gelukkig om baie water op die plaas te hê en het aanvanklik verskeie suipplekke vir die skape gehad, maar hy het agtergekom dit skep meer probleme as minder waterpunte.

Een van sy oorwegende redes was om beter roofdierbeheer toe te pas. Jakkalse en rooikatte maak hulself gewoonlik naby water tuis, waar die skape slaap. Hy het begin om die waterpunte op die plaas minder te maak en op dié manier het die roofdiere ook minder geword.

Deur die waterpunte op hierdie manier te bestuur, word die vertrapping van veld naby die water verminder. “Ons het ook begin om Dorpers met langer bene te teel sodat hulle verder kan stap. Nou kan die diere daagliks etlike kilometers van die weiding na die water stap en hul slaapplek is ook redelik ver van die waterpunte af,” vertel hy.

Biodiversiteit en ekostelsels

Dit is vir HG en Johannes baie belangrik dat die biodiversiteit op die plaas in stand gehou word en die ekostelsels in die natuur bewaar word.

HG sê dié twee stelsels loop hand aan hand. “Daarom gebruik ons net geregistreerde medikasie vir die diere, asook geregistreerde aanvullende voeding en lekke. Ons beleid is ook om nie voeding met hoendermis en beenmeel in te gebruik nie.

“Ons het geleer dat dit noodsaaklik is om die hele ekostelsel op die plaas te beskerm omdat dit help om die skaapboerdery te bevorder. Ons uitgangspunt is dat boerdery ’n fyn balans moet wees tussen die dier, mens, natuur en die Skepper.”

Uitwis van indringerplante

Heelwat indringerplante, soos prosopisbome, kom op die Humans se grond voor en hulle het begin om van dié bome ontslae te raak. Johannes sê hulle het voorheen die bome afgekap, maar het besef dit het eintlik vir die sade ’n geleentheid gegee om op te kom. Deesdae word die boomstamme met gif gesmeer en gelos dat hulle vrek.

HG sê nog ’n ernstige saak is om enige vorm van besoedeling op die plaas te voorkom. “Alle gifstowwe en medisyne word toegesluit en wanneer ons met die diere werk, word alle gebruikte materiaal in vullissakke gepak. Alle afvalmateriaal word ook in vullissakke gesit en by die stortingsterrein in die dorp weggegooi. Ons laat nie toe dat karkasse van dooie diere in die veld lê nie. Ons het ’n spesiale plek waar alle karkasse verbrand word.”

Welsyn van diere

HG se leuse op die plaas is: “As ek vir die skape sorg, sal hulle vir my sorg.” Daarom is die gesondheid en welsyn van die diere vir hom ’n hoë prioriteit.

“Ons het ’n paar praktiese maatreëls ingestel, soos om die skape net met laaibanke te laai en hulle so min as moontlik te hanteer. Ons het matte op al ons voertuie wat skape moet vervoer sodat hulle nie in hul eie urine en mis hoef te staan nie. Selfs met die merk van die diere probeer ons om hulle so min as moontlik pyn te laat ervaar en ons sit ook dadelik ’n wondmiddel op die wonde. Ons het ons kuddebestuurstelsel so ingerig dat ons nie meer ramme hoef te kastreer nie.

“Die diere op die plaas moet vry wees van honger en dors, hulle moenie ontstel word nie, pyn, beserings en siektes moet sover moontlik deur voortydige optrede vermy word en die diere moet ook die vryheid hê om hul normale gedragspatrone te volg.”

Vir HG en Johannes is skaduwee vir die diere baie belangrik. Hulle het baie moeite gedoen om seker te maak die diere het, veral in die somermaande, genoeg skuiling teen die son.

Planmatige kuddebestuur

Goeie kuddebestuur is vir HG en Johannes noodsaaklik. Hulle vertel dat die aanwaspersentasie van 81% tot 142% verhoog het in die elf jaar wat hulle saam boer en hul kuddebestuursprogram verander het. “Ons het eintlik net meer planmatig begin werk, gesorg dat onproduktiewe ooie uit die kudde gehaal word en dat ons saam met die natuur werk,” verduidelik HG.

Hy sê hulle het twee lam- en paarseisoene in die jaar. Hulle het ’n eenvoudige paringstelsel en spuitstelsel saam met die veearts uitgewerk wat uitstekend vir hul kudde werk. Hulle speen die lammers op 100 dae en lammers onder 35kg gaan eers voerkraal toe, terwyl die res van die veld af bemark word.

Volgens hom is die Kode van Beste Praktyk ’n ideale riglyn wat enige veeboer kan gebruik. “Dit dek alle probleme wat menslik gekeer kan word en maak jou bewus van die slaggate wat jy kon vermy het.”

Vir meer inligting, skakel HG Human by 078 639 2216 en Johannes Human by 082 883 8830. – Koos du Pisanie, Veeplaas