Suid-Afrikaanse sybokhaarprodusente neem daadwerklike stappe om te verseker dat die natuurlike vesel wat hulle die wêreld instuur, ’n volhoubare produk is. Die Suid-Afrikaanse Sybokhaarkwekersvereniging (SASKV) se jaarlikse kongres het op 20 en 21 Junie op Graaff-Reinet plaasgevind, en verskeie belangrike punte is aangeraak.

Veranderinge bring nuwe uitdagings

Dr John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz, die gasspreker, het gesê na aanleiding van die veranderende politieke omstandighede en landbou gaan dit in die toekoms al hoe moeiliker word om finansiering te bekom. Hy het ’n tabel van die wêreldwye voedselsekerheidsindeks in 2017 voorgelê. Met betrekking tot ’n sosio-politieke skaal sal Suid-Afrika se ekonomie drasties moet groei om werkloosheid te begin bekamp.

Voorsitterverslag

Andries Greeff, voorsitter van die SASKV, het oor die droogte se uitwerking op die sybokhaarbedryf gesê die droogte is in baie gebiede nog nie gebreek nie en die gevolge daarvan is verreikend vir elke sybokhaarprodusent. Die gehalte en hoeveelheid bokhaar wat gelewer word, is steeds baie goed.

Die uitwerking van People for the Ethical Treatment of Animals (Peta) se afbrekende beeldmateriaal van beweerde dieremishandeling in die Angorabok-bedryf, word in ’n baie ernstige lig beskou. “Angoras is ons lewensbestaan en dit is elke produsent se plig om vir sy diere te sorg,” het Andries gesê. Hy het almal wat by die saak betrokke was om vure te help doodslaan, onder andere Sybokhaar Suid-Afrika, vir hul toewyding en insette bedank.

Dieregesondheid

Dr Mackie Hobson het na verskeie oorsake van siektes wat tot die vrektes onder Angoras lei, gekyk. Een daarvan was rondewurm, wat bekend staan as die bruin maagwurm. Dit word algemeen in bokke met swelsiekte gevind, en die albumienvlakke in swelsiekte bepaal die oorlewingsyfer van Angoras.

Bemagtigingstrust

Sarel Hayward van Sybokhaar SA het gesê die Sybokhaar SA Bemagtigingstrust hanteer tans sewe aktiewe projekte. “Dit sluit een projek elk in Beaufort-Wes en Graaff-Reinet, vier projekte in Somerset-Oos en een projek in Matatiele in. By vier van die projekte word met Angora-ooie geboer en by drie met kapaters.”

Sarel het enkele uitdagings soos die feit dat baie van die plase te klein is, of waarvan die infrastruktuur nie voldoende is nie, uitgelig. Hy het gesê die jonger geslag produsente wat aansoek doen om te boer, is in die minderheid. “Van die plase is onproduktief, wat daartoe lei dat dit ’n uitdaging is om volhoubaar te boer.”

Strenger riglyne vir produksiemaatreëls

Die sybokhaarbedryf se volhoubare produksieriglyne was vanjaar in die kollig. Verskeie belangrike punte is uitgelig om kommer oor onlangse gerugte van dieremishandeling binne die bedryf te hanteer. Volgens Andries Greeff sal die bedryf en sy produsente moet “aanpas of uitsterf” as dit suksesvol wil bly.

“Dit is uiters belangrik dat ons die produksieriglyne deurlopend hersien en aanpas sodat ons altyd ’n stappie voor kan wees. Die wêreld kyk na ons en ons sal daadwerklike stappe moet doen as ons relevant wil bly.”

In skeertyd word van produsente verwag om toesig oor bedrywighede binne hul skeergeriewe te hou. As die produsent nie self daar kan wees nie, moet ’n betroubare persoon aangestel word, of kameras moet opgestel word om die skeerproses te monitor. Riglyne oor bokhantering en skeergeriewe moet streng gevolg word en gekontrakteerde skeerspanne moet opleiding ontvang om binne die riglyne op te tree.

Anthony Kirsten, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Wol- en Bokhaarkopersvereniging, het gesê dié punte is nie onderhandelbaar as plaaslike produsente hul bokhaar oorsee wil verkoop nie. “Ons grootste bekommernis is die buitewêreld se siening van ons bedryf en verbruikers se groeiende belangstelling in die oorsprong van die vesel. Ons moet hulle kan gerusstel dat die bokhaar wat hulle gebruik, volhoubaar gekweek is.”

Anthony, hoof van die Stucken-groep, een van die grootste bokhaarkopers en -verwerkers, het beloof dat kopers finansiële hulp sal gee vir die opleiding van skeerspanne en sodoende volhoubare produksie.

Riglyne aangepas

Die SASKV het bestaande riglyne oor ’n genadedood vir bokke en die kastrasie van ramme bespreek. Dit sal aangepas word om in lyn met internasionale standaarde te wees. Slegs wasmiddels en dipstof wat deur die bedryf goedgekeur is, nie skadelik vir bokke is nie, en wat volgens internasionale standaard is, sal toegelaat word. Produsente wat nie aan dié riglyne voldoen nie, sal nie volhoubare status ontvang nie en kopers sal nie hul bokhaar op veilings koop nie.

Deon Saayman, besturende direkteur van Sybokhaar Suid-Afrika, het gesê dit is nie genoeg is om slegs aan Suid-Afrikaanse wette te voldoen nie. Produsente sal aan internasionaal aanvaarbare standaarde moet voldoen om die toekoms van die sybokhaarbedryf te verseker.

“Ons moet besef dat dit wat in ons land wettig is, nie noodwendig genoeg is om die wêreldmark gerus te stel nie. Ons moet bedryfstandaarde stel wat ons binne internasionale riglyne sal hou en sodoende ons hele bedryf outomaties binne die Suid-Afrikaanse wet sal plaas.”

’n Mededingende bedryf

Deon het na afloop van die kongres aan Veeplaas gesê die gesindheid onder produsente en die aanbevelings wat gemaak is, is geweldig goed deur die produsente ontvang. “Die produsente is meer as bereid om te doen wat nodig is om hul produk gereed te kry vir die mark.

“Ons bevind ons in ’n baie vinnig veranderende omgewing met ’n buitelandse mark wat nuwe goed wil weet, soos waar die sybokhaar vandaan kom, is dit volhoubaar geproduseer, hoe die diere binne-in die proses behandel is, en hoe ons na die omgewing kyk. Binne hierdie speelveld moet ons seker maak dat die bedryf reg geposisioneer is vir die toekoms.”

Hy sê daar is baie uitdagings soos die droogte waarin baie produsente nog vasgevang is. Die sybokhaarbedryf in Suid-Afrika is ’n gestruktureerde bedryf. “Ons weet waarheen ons op pad is en wat ons wil bereik en sal aan die wêreld daar buite wys hoe ons vesel produseer en hoe volhoubaar dit werklik is.”

Vir enige navrae, kontak Sybokhaar Suid-Afrika by 041 581 1681 of besoek die webtuiste by www.mohair.co.za. – Carin Venter, Veeplaas