Heelparty onreëlmatighede in die Brasiliaanse vleis- en pluimveebedryf het onlangs aan die lig gekom, wat veral die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf bekommerd het oor die invoer van meganies ontbeende vleis uit Brasilië. Die veiligheid van hierdie voedsel is gevolglik onder verdenking.

Marthinus Stander van die SA Pluimveevererniging het onlangs op Grootplaas hieroor gesels.

Stander meen die bedryf in Suid-Afrika is in hierdie stadium in die duister oor wat by die aanlegte in Brasilië gebeur.

Daar was voorheen ongerymdhede waarna die vorige uitvoerende hoof van die reuse voedselprodusent in Brasilië, BRF, in hegtenis geneem is vir bedrog met voedselveiligheidstoetse. BRF het met die staat saamgesmelt om ’n groot maatskappy te stig van 37 aanlegte, wat hulle dus die grootste uitvoerder van hoenderprodukte en meganies ontbeende vleis maak.

Sowat 201 000 ton meganies ontbeende vleis word van Brasilë af ingevoer en verbruik. Hierdie produk word spesifiek in Suid-Afrika gebruik om polonie te vervaardig – juis die produk wat nou as gevolg van listeriose onder die vergrootglas is.

Hierdie kwessie het ook heelwat lig gewerp op die tekortkominge by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) met inspeksies. Die pluimveebedryf meen beter koördinering is veral tussen dié departement en die Departement van Gesondheid nodig. Voldoende geriewe en geld is ook ’n probleem.

In teorie word voedsel, soos meganies ontbeende vleis, bevrore in groot houers na Suid-Afrika ingevoer, waarna elke houer geïnspekteer moet word. Die nodige toetse moet gedoen word. Die DAFF het die pluimveevereniging onlangs genader, aangesien hulle nie ruimte in hul laboratoriums of geld het om hierdie toetse te doen nie.

Die bedryf vermoed dus heelwat van die nodige toetse is nog nie gedoen nie, of die resultate is nog onbekend. Volgens Stander befonds die pluimveebedryf heelwat van hierdie toetse self – die hoenderbedryf toets al jare vir listeria. – Elmarie Helberg, AgriOrbit