Die Melkprodusente-organisasie (MPO) is bekommerd oor die negatiewe uitwerking wat die skerp daling in produsentepryse sedert Maart vanjaar op die volhoubaarheid van melkproduksie kan hê.

Read it in English.

Amptelike syfers verskaf deur Statistiek Suid Afrika dui aan dat die produsentepryse sedert Maart 2018 met 5,5% gedaal het, terwyl eks-fabriekspryse van suiwelprodukte met 2,2% gestyg het. Die kleinhandelpryse van melk, kaas en eiers het oor dieselfde tydperk bykans konstant gebly.

Dr Chris van Dijk, hoof uitvoerende beampte van die MPO, doen ’n beroep op melkverwerkers en verspreiders om produsentepryse verantwoordelik te bestuur nadat die skerp kontrasikliese verlagings in produsentepryse vanjaar veroorsaak het dat melkprodusente tans ’n ernstige kosteknyptang ondervind – in so ’n mate dat verskeie produsente reeds die bedryf verlaat het.

Melkkopers word gewys op die negatiewe uitwerking van soortgelyke prysseine in die verlede en die hoë koste verbonde daaraan om melkvoorsiening reg te stel na sulke drastiese prysverlagings. Die daling in produsentepryse kan nie aan die hand van die beweging in eks-fabriekspryse geregverdig word nie.

Laer produsentepryse het reeds die groei in melkproduksie negatief beïnvloed en syfers vanaf Melk SA dui daarop dat die totale melkinname sedert Mei 2018 teen ’n veel stadiger koers groei as in vorige maande. Melkinnamesyfers dui daarop dat produsente reeds begin het om produksie in te kort.

Verskeie faktore kan bydra tot ’n verdere inkorting van produksie in die komende maande. Die droogte in sekere dele van die Oos- en Wes-Kaap, asook die styging in die pryse van boerderybenodigdhede soos brandstof en energie, het ook ’n negatiewe uitwerking op melkproduksie. Goeie reën in die droër weidingstreke sal produksie ook negatief beïnvloed as produsente verder terugsny op kragvoer. – Persverklaring