Die jongste, drastiese COVID-19 maatreëls rondom algehele afsondering, het die Konsortium-Merinogroep genoop om hul planne vir hul 38ste veiling weer te wysig.

President Ramaphosa het in sy toespraak van 15 Maart 2020 ’n verbod op alle byeenkomste van meer as 100 mense geplaas. In ’n poging om die verspreiding van COVID-19 te probeer beperk, het Konsortium-Merino weens sy verantwoordelikheid teenoor sy personeel, telers, kopers, Merinoboere en hul werknemers, besluit om die formaat van die veiling wat op 31 Maart 2020 sou plaasvind, te verander.

Dié jaarlikse vlagskipveiling wat gewoonlik op Dombietersfontein gedurende Februarie plaasvind, was as gevolg van die bek-en-klou-uitbreking uitgestel. Die veiling is Konsortium-Merino se grootste aanbod nog, met 500 ramme wat verkoop moet word.

Koop uit die hand

Kopers kan nou 355 ramme uit die hand uit koop. Hulle is beskikbaar in drie prysklasse: R5000, R6000  en R7500. Na aanleiding van die nuutste veiligheidsmaatreëls is die 145 top ramme, wat op 31 Maart op ’n stilveiling verkoop sou word, ook nou op aanvraag beskikbaar. Sowat 69 van die SF-ramme word nou uit die hand uit verkoop teen R7500. Die ander 76 ramme soek nog base. Daar is 65 SF+ en 11 stoetramme beskikbaar.

Konsortium-Merino kan nou gekontak word om een van die 500 veldramme te koop. Bel vir Gawie van Heerden by 082 321 3233 om jou bestelling te plaas. “Dis nou ’n kopersparadys. Jy kan van Konsortium-Merino se beste genetika goedkoop opraap,” sê Gawie.

Konsortium-Merino verkoop jaarliks die meeste ramme in Suid-Afrika. In 2019 is altesaam 1 263 ramme op vyf veilings teen ’n gemiddelde prys van R7 712 verkoop. – Persverklaring, Konsortium-Merino