Voordat ’n mens ’n wildsplaas koop, moet baie faktore noukeurig oorweeg word. ’n Boer wat ook die afgelope 28 jaar plase verkoop, gee raad oor hoe hy dit sou doen met die ondervinding wat hy het. En as ’n plaas nie met jou hart praat nie, moet jy dit eerder los, sê Gerhard de Beer.

Gerhard het in Roedtan se omgewing gesaai en ’n Braunvieh- en Brahman-stoetery bedryf, tot hy sowat drie jaar gelede die plaas verkoop en na Vaalwater verhuis het. Die betrokkenheid by die verkoop van eiendomme het sowat 28 jaar gelede begin, toe die droogte gedreig het om hom van die plaas af te gooi. Hy geniet dit só, dat hy die twee loopbane sedertdien saam beoefen.

’n Voornemende koper van ’n wildsplaas moet verskeie faktore deeglik oorweeg. Gerhard het die vernaamste oorwegings opgesom en gesê ’n koper moet weet waarmee hy wil gaan boer en wat hy wil bereik.

’n Duidelike bemarkingsplan

“As ’n mens vandag tot die wildbedryf toetree, moet jy weet wat die eindproduk gaan wees en jy moet ’n duidelike bemarkingsplan vir daardie produk hê. Almal kan nie stoetwildboere word nie, maar daar is minstens drie ander pilare waarop die bedryf rus, naamlik jag (trofee en biltong), ekotoerisme en vleisproduksie.

“Die faset van die bedryf waarin jy vir jou ’n plek wil oopbeur, kan ’n invloed hê op onder meer die ligging, topografie van die omgewing en infrastruktuur op die plaas. Die spesie of spesies waarmee jy wil boer, sal die weidings-, water- en infrastruktuur-vereistes bepaal.

“Daarby kan die veiligheid van die omgewing en die ligging met betrekking tot stede, dorpe, skole, mediese dienste en markte ook ’n belangrike rol speel. As ’n mens dit vir jouself bepaal het en jou eie unieke behoeftes oorweeg het, kan jy begin soek in die streke wat jou pas,” sê Gerhard.

’n Kopersmark

Sy waarneming is dat meer plase die afgelope nege maande in die mark gekom het. Dit is waarskynlik toe te skryf aan die droogte van die afgelope drie jaar, wat boere verplig het om hul diere ten duurste te voer. Dit is dus nou ’n kopersmark!

Gerhard meen grondeise is een van die eerste struikelblokke wat oorkom moet word. Die meeste boere weet of daar sulke eise is en ’n deurwinterde verkoopsman sal dit amptelik bevestig kry. ’n Eis op die grond hoef ook nie noodwendig ’n voornemende koper af te skrik nie, want tot dusvêr is billike vergoeding vir sulke plase betaal.

Die ‘waar’ is gewoonlik nie moeilik nie. As jy ’n Karoomens is en die digte bosse jou engtevrees gee en die nat weer van KwaZulu-Natal jou muwwerig laat voel, soek in die Karoo en soortgelyke streke én andersom. As die ‘waar’ nie so belangrik is nie, gaan die spesies waarmee jy wil boer die volgende deurslaggewende faktor wees, want hul voedingsbehoeftes en aanpasbaarheid by verskillende omgewings gaan ’n groot rol speel in die welslae van die beoogde onderneming en produksiestelsel.

Laasgenoemde gaan ’n groot rol speel in die grootte van die grond wat nodig is om dié vertakking van die boerdery te huisves. Die voornemende koper moet ook besluit of hy ’n ontwikkelde eenheid wil koop waarmee hy dadelik kan voortgaan en of hy self die wildsplaas wil ontwikkel om sy eie droom te verwesenlik.

Wees geduldig

Gerhard sê dis ’n duur en langdradige proses om ’n wildboerdery van meet af te begin. “Om ’n ordentlike wildwerende heining met sifdraad onder op die grond te span, kos deesdae sowat R110 000 per kilometer.

“Die tipe boerdery wat beplan word, gaan die prys ook beïnvloed. In alle gevalle behoort na die drakrag van die veld gekyk te word om ’n prys gegrond op ’n grootvee-eenheid te bepaal. Daarna kan verbeterings wat ’n wildboerdery tot voordeel sal strek, bygereken word.

“Met die lewenskoste wat vandag geld en die agteruitgang van weidings as gevolg van oorbeweiding en verbossing, is groter plase nou nodig om ’n lewensvatbare onderneming te vestig as ’n paar dekades gelede. Geslaagde bosbeheer sal die waarde van die grond beduidend verhoog.”

Beskikbaarheid van weiding

Net soos met beesboerdery is die boer in die eerste plek ’n gras- en vreetbare bos-boer, want dit is die goedkoopste kos vir die wild. Hoe minder hiervan beskikbaar is, hoe meer voer en geld gaan dit kos. As wildteling vir die hoofinkomste gaan sorg, moet daar teelkampe wees of gespan word. Die boer moet ook bereid wees om noulettend rekords te hou en die diere se voedingstatus in stand te hou sodat hulle kan reproduseer en produseer.

Verder moet voorsiening gemaak word om diere wat nie by die teeldoelwit inpas nie, te benut deur hulle aan ander kommersiële boere te verkoop, self te laat jag of die vleis te benut.

As gejag moet word, moet die terrein jagtersvriendelik wees en die boer moet onthou jagters kom gewoonlik nie net skiet nie, maar kom deesdae plaas toe vir ’n ervaring wat sekere geriewe noodsaaklik maak. Veral oorsese jagters is bereid om vir dié ervaring te betaal – wat nie net vir ’n bykomende inkomste sorg nie, maar ook minimum standaarde vereis.

Huisvesting vir ekotoerisme

Waar ekotoerisme benut gaan word, is weelderige huisvesting nodig. Om vandag ’n herberg te bou, kos ’n enorme hoeveelheid geld. Anders as in die geval van ’n beesplaas, waar die opstal normaalweg ’n geringe invloed op die grond se prys het, sal ’n gevestigde herberg se waarde in die plaas se prys weerspieël word.

Gerhard sê hoewel wildsvleis nog nie so gesog is as wat verwag word nie, voorspel kenners ’n goeie toekoms daarvoor. “Om wildsvleis te produseer, is ’n nabygeleë wildslagplaas of een op die plaas ’n groot bonus. Om dit te bou, is egter duur en ’n bestaande slagplaas sal dus die grondwaarde opstoot.

“Daarom moet voornemende kopers hulself vergewis van heersende grondpryse en die waarde van bestaande infrastruktuur, of wat dit gaan kos om dit op te rig. Die grootste voordeel van ’n ontwikkelde plaas is dat dit dadelik as lopende saak ’n inkomste op die kapitaalbelegging kan begin genereer.”

Gerhard is baie opgewonde oor die toekoms van landbou in die algemeen en in die besonder wildboerdery. “Ek dink Limpopo gaan die toeristemekka in Suid-Afrika word. Die gebied lok al klaar baie toeriste, ondanks die feit dat die geriewe vir dié bedryf nog maar skraps ontwikkel is.” – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Gerhard de Beer by 082 805 8746 of stuur ’n epos aan gerhardfarms@gmail.com.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here