Die ouditeur-generaal (OG) se verdoemende verslag oor die stand van Landbank se finansiële volhoubaarheid vra vir dringende ingrypings. Wie ook al verantwoordelik is vir die finansiële verliese van R2,8 miljard sal moet verantwoording doen.

Dit en vele ander uitdagings het die OG genoop om ernstige twyfel uit te spreek oor die vermoë van die Landbank om in die afsienbare toekoms as ’n lopende saak te oorleef. Dié ongunstige beskouing kan nie daar gelos word nie. Koppe sal op bestuurs- en beheervlak móét rol. Dit geld ook vir diegene by die Nasionale Tesourie wat vir die oorsig verantwoordelik was. Dit is nie asof hulle nie geweet het wat kom nie, want die finansiële krisis by die Landbank het ’n lang aanloop.

Belangrikste oorsake van die Landbank se probleme

In die OG se verslag word die probleme by die Landbank toegedig aan ’n uittog van kundige bestuurders, ’n gebrek aan toesig van die Nasionale Tesourie (wat die Suid-Afrikaanse regering as enigste aandeelhouer van die bank verteenwoordig), die afskaling van die bank se kredietgradering deur Moody’s en die droogtetoestande, wat dit vir produsente moeilik gemaak het om hul lenings terug te betaal. Dit is egter maar die oortjies van die seekoei.

Die OG se verslag verwys ook na ’n gebrek aan interne beheermaatreëls deur die bestuur van die Landbank om kredietverliese óf dalings in waarde van verlengde lenings óf sekuriteit wat aangebied word wanneer daar om lenings aansoek gedoen word, behoorlik te verreken.

Onvoldoende finansiële verslagdoening en interne bestuur

Dit meld ook dat die finansiële state wat vir ouditering ingedien is, nié volgens die voorgeskrewe finansiële verslagdoeningsraamwerk en internasionale rekeningkundige standaard opgestel is nie en ook nie deur volledige en behoorlike rekords, soos deur die wet vereis word, ondersteun is nie. Voldoende toepaslike ouditbewyse om ’n basis vir die oudit te lewer, het volgens die OG ontbreek. Wie ook al vir die opstel van die state verantwoordelik is, se kop moet beslis rol.

Dit is duidelik dat die leierskap nie voldoende toesig oor finansiële verslagdoening, nakoming en verwante interne beheermaatreëls gehou het nie. Wesenlike wanvoorstellings is in die voorgelegde finansiële state geïdentifiseer. Doeltreffende interne beheermaatreëls is nie geïmplementeer met betrekking op die maandelikse verwerking en versoening van transaksies van eksterne diensverskaffers, wat gebruik word om die indirekte leningsboek te bestuur nie.

Die OG verwys ook in sy verslag na onvoldoende interne beheer oor en bestuur van instrumente en modelle wat die verwagte kredietverliese moes monitor. Dit is nie gereeld gekalibreer en met betroubare kredietinsetdata opgedateer nie. Dit het daartoe gely dat die OG nie die meting van verwagte kredietverliese op alternatiewe maniere kon bevestig nie en was dit nie in staat om vas te stel of aanpassings aan die netto lenings en voorskotte nodig was nie.

Die bestuur het dus nie toesig gehou oor die ontwikkeling, implementering en monitering van aksieplanne om tekortkominge in die interne beheer van sekuriteit wat vir lenings vereis word, soos deur internasionale finansiële verslagdoeningstandaarde gestipuleer, aan te spreek nie.

Verkryging en kontrakbestuur

In terme van verkryging en kontrakbestuur, is sommige goedere, werke of dienste nie deur middel van ’n billike, deursigtige en mededingende verkrygingsproses verkry nie. In sekere gevalle waar kontrakte verval het, is nuwe verkrygingsprosesse nie gevolg om nuwe diensverskaffers aan te stel nie en is geen goedkeuring daarvoor gegee nie.

Die Landbank se bestuur het nie ’n doeltreffende strategie vir menslikehulpbronbestuur geïmplementeer om te verseker dat daar stabiliteit en voldoende opvolgbeplanning vir sleutelposisies is nie. As gevolg hiervan, is die beheeromgewing van die Landbank negatief deur die aantal bedankings in dié sleutelposisies beïnvloed.

Die bestuur het nie die nakoming van toepaslike wette en regulasies nagegaan en gemonitor nie. Die Tesourie-instruksie in terme van die hernuwing en verlenging van kontrakte met diensverskaffers wat die indirekte leningsboek namens die bank bestuur, is ook nie gevolg nie. Daarbenewens is die toepaslike risikobestuursaktiwiteite nie geïmplementeer om te verseker dat risikobeoordelings, insluitend die oorweging van likiditeit- en kredietrisiko’s, na behore toegepas word nie.

Dit is daarom geen wonder dat die Landbank se kontantreserwes, of fondse vir korttermyn- en noodfinansieringsbehoeftes, met byna 80% tot R700 miljoen, vergeleke met R3,2 miljard in die vorige jaar, gedaal het nie.

Die vlakke van onbevoegdheid kan nie daar gelos word nie. Koppe sal moet rol, want só kan dinge nie voortgaan nie. – Persverklaring, Agri SA