Die Noord-Kaap provinsie staan bekend as die droogste area in die land, maar die boere langs die Oranjerivier het die kuns vervolmaak om maksimum produksie uit die grond langs die rivier te haal. Met die vyfde oesskatting van die Departement van Landbou was dit weereens duidelik dat dié boere die meeste ton per hektaar koring in die 2018 seisoen kon afhaal.

Hoewel daar net 38 000 hektaar koring geplant is, is ’n verwagte 294 000 ton koring afgehaal – dus 7,75 ton per hektaar.

Volgens getalle wat deur die Nasionale Oesskattingskomitee bekendgemaak is, sal die Weskaap die meeste koring produseer – 906 300 ton wat op 318 000 hektaar aangeplant is. Dit beteken daar is slegs 2,85 ton per hektaar afgehaal. Die Vrystaat is ook kort op hul hakke met ’n finale verwagte oesskatting van 340 000 ton wat op 100 000 hektaar aangeplant is.

Volgens boere in die Noord-Kaap is die grond baie gesond en vrugbaar en kan hul jaar na jaar hierdie produksie volhou. Dit maak die Noord-Kaap die eintlike broodmandjie van Suid-Afrika.

Hoewel die Noord-Kaap die provinsie is wat die meeste ton per hektaar kon afhaal, het die belangstelling om koring te produseer oor die laaste 40 jaar gedaal. In 1979  was daar 74 000 hektaar aangeplant, maar in 2018 was omtrent net die helfte van dié area gebruik om koring te produseer. Volgens dié besproeiingsboere het baie van die koringlande plek gemaak vir gewasse wat meer winsgewend is. – Koos du Pisanie, AgriOrbit