Die 24ste veiling van die 2019/20-wolseisoen het op 19 Maart plaasgevind met ’n aanbod van 10 180 bale. Sowat ’n derde van die aanbod was op die eerste dag onttrek, met ’n verkoopspersentasie van 76% op die wol wat wel op die veiling aangebied is. Die mark het 12,5% verswak om teen ’n waarde van R155,69/kg vir skoonwol af te sluit. Die Australiese EMI het met 5,5% afgeneem.

Impak van die korona-krisis

Die rand was 5,6% swakker teen die Amerikaanse dollar en 1,7% af tenoor die euro, vergeleke met die vorige veiling. Die mark het 17,2% verswak in Amerikaanse dollarterme.

Die wolmark het gebuk gegaan onder die druk van die COVID-19-pandemie, in lyn met die Australiese mark wat dié week 5,5% swakker gesluit het.

Die plaaslike mark het 12,5% laer gesluit in rand-terme, met weinig ondersteuning van die swakker rand teenoor die dollar (-5,6%). Die mark het ietwat verbeter op die tweede dag, ondanks die versterking van die rand láát Donderdag.

Alle mikron-groepe was onder druk. Daar was steeds goeie mededinging tussen kopers, hoewel teen laer prysvlakke. Die grootste kopers op die veiling was Standard Wool SA, Modiano SA,  Lempriere SA en Tianyu SA.

Skoonwolpryse

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron daal met 13% en sluit teen R166,94/kg;
  • 18,5 mikron neem af met 12,6% en sluit teen R164,76/kg;
  • 19 mikron verlaag met 13,3% en sluit teen R161,54/kg;
  • 19,5 mikron verswak met 16,4% en sluit teen R161,07/kg;
  • 20 mikron is 12,6% af en sluit op R160,63/kg;
  • 20,5 mikron is 13,5% swakker en sluit op R158,87/kg;
  • 21 mikron verlangsaam met 14,8% en sluit op R152,98/kg;
  • 21,5 mikron het 8,6% afgeneem en sluit op R161,99/kg;
  • 22 mikron daal 9,8% en sluit op R155,86/kg; en
  • 22,5 mikron is 10,7% swakker en sluit op R156,32/kg.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 26 Maart 2020 wanneer sowat 7 635 bale aangebied sal word. – Cape Wools SA