‘n Rekordgetal inskrywings is hierdie jaar ontvang vir die sesde Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie. Vanjaar se been van die kompetisie het in Maart vanjaar afgeskop toe inskrywings amptelik geopen het. Die kompetisie word deur Plaas Media se ankertydskrifte, Veeplaas en Stockfarm aangebied, met die ondersteuning van die naamborg, Santam Landbou.

Vanjaar word egter ook gekenmerk deur die uitstekende ondersteuning van drie prysborge, naamlik PANNAR Saad, Strapping & Profile Manufacturers (Rani) en Nutribase. Daarmee saam het NTT Toyota Barberton ‘n Toyota Hilux-bakkie geborg om die monsternemingsproses te vergemaklik.

Die volgende maatskappye het hulle kliënte se bunkers ingeskryf vir die kompetisie: Grasslands Agriculture, Barnlab, Leading Edge, PANNAR Saad, Kemin Industries, Meadow Feeds, Nutribase, TWK Agri, Budissa Agroservice, Animal Health & Nutrition (ANH), Santam Landbou, AFGRI Veevoere, Biomin Animal Nutrition, Strapping & Profile Manufacturers en Hurwitz Farming.

‘n Rekordgetal inskrywings

Sewe-en-tagtig inskrywings is hierdie jaar ontvang, die meeste nóg in die geskiedenis van die kompetisie. Die getal hawerkuilvoerinskrywings is ook ‘n rekordgetal met 15 inskrywings wat vanjaar ontvang is. Die res van die inskrywings word opgemaak deur sewe voersorghum en 65 mieliekuilvoermonsters.

Altesaam 15 maatskappye het boere ingeskryf vir vanjaar se kompetisie. Daar is ook vyf individuele inskrywings ontvang vanaf boere wat hulself ingeskryf het. Vorige algehele wenners wat weer ingeskryf is, sluit in Sparta Baby Beef, Hannes en Neels Neethling, Van Greunen Boerdery en Westend Landgoed.

Die pad vorentoe

Monsterneming in die hawerkategorie van die kompetisie is in April afgehandel. Die studentespan van Waldo Macdonald en Lambert Jacobs van die Universiteit van die Vrystaat het einde Junie in die pad geval om monsters te neem vir die mieliekuilvoerkategorie. Na afloop van die monsterneming word die monsters by Labworld ontleed.

Die data wat verkry word uit die analises word op grond van die kompetisieprotokol met verskeie formules verwerk en vergelyk, waarna dit deur prof Robin Meeske, voorsitter van die protokolkomitee en bekende kuilvoerkenner, geëvalueer word. Die oorkoepelende monsternemings- en dataverwerkingsproses word deur die Universiteit van die Vrystaat gedoen onder die koördinerende oog van kuilvoerkonsultant, Richardt Venter. Die totale proses behoort in Augustus afgehandel te wees, waarna die top tien finaliste aangekondig sal word.

Aankondiging van die wenners

Finaliste word per geleentheid besoek deur die beoordelaars waarna die wenners by die ALFA-ekspo in Parys aangekondig word. Elke kategorie sal op eie meriete beoordeel word en ‘n wenner sal in elk aangewys word. ‘n Algehele kuilvoerkoning word ook aangewys saam met ‘n skolekategorie-wenner. ALFA vind vanjaar tussen 17 en 19 September 2019 by die Afridome in Parys. – Michelle Verster, Veeplaas