Dit is tot landbouers se voordeel om op die uitkyk te wees vir foute op Eskom-lyne wat oor hul eiendom loop. Só sê Johan Terblanche, brandbeskermingsbeampte van die Goudveld-brandbeskermingsvereniging.

Terblanche sê foute op Eskom-lyne kan die oorsaak van veldbrande op ’n ongeleë tyd wees. “Boere moet byvoorbeeld oplet na voëlneste wat op lyne gebou word. Dit kan aan die brand slaan en grond toe val.”

Terblanche sê takke kan ook weens ’n stormwind aan die lyne raak. “Stukkende isolators en alle foute moet asseblief aan Eskom by 086 003 7566 deurgegee word. Kry ook ’n verwysingsnommer om te bêre,” sê hy.

Wat om te doen (in volgorde) as ’n brand by ’n Eskom-lyn ontstaan het:

  • Sper die gebied waar die brand begin het af en sorg dat niemand die gebied betree nie – nie eers Eskom-personeel nie.
  • Neem foto’s en kry getuies wat saam met jou sien wat jy sien, sonder om in die afgesperde gebied te beweeg.
  • Laat weet dadelik die veldbrandontleder.
  • Laat weet jou brandbeskermingsbeampte.
  • Laat weet dan Eskom se kontaksentrum by 086 003 7566 en kry ’n verwysingsnommer, wat veilig bewaar moet word vir eise na die brand.
  1. Dit is baie belangrik dat niemand die afgesperde toneel mag betree voordat die veldbrandontleder nie die bewyse afgeneem en verklarings geneem het nie. Eers dan mag Eskom die toneel betree om die fout te herstel.
  2. Brandslaners moenie ’n vuur direk onder ’n kraglyn blus nie, want elektriese vonkspronge grond toe kan plaasvind vanweë die hitte. – Vrystaat Landbou