Agri SA sê landbou het die vermoë om elektrisiteit deur sonkragopwekking te verskaf, wat nodig is om toekomstige beurtkrag te voorkom. Altesaam 500 aansoeke is reeds ingedien vir sonkragopwekkingsaanlegte, wat die potensiaal het om 1 400MW by te dra om druk op die kragnetwerk te verlig. Indien die administrasieprosesse gestroomlyn word, kan dié 500 aansoeke en ander uitgerol word.

Read it in English. 

“Ons vra nie befondsing of selfs spesiale behandeling nie, maar net om die proses by Eskom en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) te bespoedig om hierdie aansoeke te verwerk,” sê Nicol Jansen, Agri SA se voorsitter van die Sentrum van Uitnemendheid: Ekonomie en Handel. “Dit is ’n wen-wen geleentheid vir die regering en Suid-Afrika.”

Kleinskaalse sonfotovoltaïese (PV)-installasies bied ’n geleentheid vir boere om elektrisiteit op te wek en druk op die kragnetwerk te verlig. Ongelukkig is slegs 13 projekte tans gekoppel en in bedryf weens Eskom se stadige verwerking en administrasie van aansoeke, asook die stadige implementering van elektrisiteitsregulasies en die bottelnek om by Nersa te registreer.

Indien Eskom en Nersa hul prosesse kan bespoedig, kan hierdie aansoeke (meestal van boere) 1 400MW elektrisiteit genereer. Dit kan Fase 1-beurtkrag verhoed. Verder kan die landboubedryf dié potensiële 1 400MW meer as verdubbel indien kommersiële banke bereid is om sonkragsentrales as sekuriteit te gebruik om toegang tot kapitaal te verkry. Tans benodig banke bykomende sekuriteit om hierdie projekte te finansier, wat deelname aan projekte beperk.

“Produsente kan potensieel met verdere uitbreiding genoeg elektrisiteit verskaf om Fase 3-beurtkrag te verhoed as die regulatoriese en administratiewe beperkings verwyder word en sonkraginstallasies as sekuriteit vir befondsingsprojekte gebruik word,” sê Jansen.

Agri SA sal met Pravin Gordhan, die minister van openbare ondernemings, en Jeff Radebe, die minister van energie, vergader om die voorstelle te bespreek. – Persverklaring