Agri SA sê in ‘n persverklaring hy is bekommerd oor die stygende werkloosheidskoers en wil die regering daarop attent maak dat beleggersvertroue, veral in landbou, broodnodig is om werkskepping aan die gang te kry.

Die styging van die Suid-Afrikaanse werkloosheidsvlakke tot ‘n rekordvlak van 29% wys dat ‘n georganiseerde en gefokusde strategie deur alle Suid-Afrikaners nou nodig is. Landbou se arbeidsvlakke het relatief stabiel teenoor ander sektore gebly, deurdat net 1 000 werke in die slag gebly het sedert die eerste kwartaal.

“Die syfers wys landbou kan die lig aan die einde van Suid-Afrika se werkloosheidtonnel wees,” sê Jahni de Villiers, beleidshoof van Agri SA se Arbeid en Ontwikkelingsentrum van Uitnemendheid. “Beleidsonsekerheid, soos onteiening sonder vergoeding en swak ekonomiese groei, staan in die pad van ware werkskepping in die landbousektor.”

Volhoubare werkskepping

Agri SA is betrokke by verskeie amptelike besprekingsfora oor arbeidsbeleid, soos Nedlac en die Nasionale Minimumloonkommissie, en sal aanhou om die prioriteit van volhoubare werkskepping in landbou te verkondig. Ander beperkings, soos droogte en plaasveiligheid kort natuurlik ook aandag om die huidige uitdagende sake-omgewing vir boere te verbeter.

“Landbou kan ’n groot hou teen werkloosheid slaan, maar boere en landboubesighede kort dringend die beleidsekerheid en ondersteuning om so te maak.”

Agri SA bly verbind tot ’n landbousektor wat volhoubaar groei en sal verder deur sy strukture op grondvlak konsulteer om groter krag tot sy beleidsamesprekings te gee. – Persverklaring, Agri SA Arbeid en Ontwikkelingsentrum van Uitnemendheid