Dr Frikkie Maré, akademiese departementshoof van die Departement Landbou-Ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n markoorsig van die vorige maand se landboumarkte. Hierdie is die oorsig vir September 2019.

Mieliemark

Die prys van geelmielies het gedurende die eerste paar dae van September verder gedaal, alvorens die mark begin versterk het soos wat die rand veld verloor het teenoor die vernaamste geldeenhede. Die mark het gesluit op R2 722/ton.

Geelmielieprys (Bron: Statistiek SA)

Ekonomiese aanwysers

Die rand het gedurende September eers versterk voor dit weer verswak het. Aan die einde van die maand het dit teen onderskeidelik R15,15 en R16,49 teenoor die dollar en euro verhandel het.  

Verbruikersprysinflasie (VPI) het gedurend September gestyg tot 4,3% op ‘n jaar-tot-jaar grondslag, terwyl produsenteprysinflasie (PPI) verlangsaam het tot 4,9% op ‘n jaar-tot-jaar grondslag. Die prima-uitleenkoers het op 10% gebly. Goeie nuus is dat die ekonomiese groei vir die tweede kwartaal van 2019, voorgestel deur die BBP, gestyg het tot 0,9% op ‘n jaar-tot-jaar grondslag. Kwartaal-op-kwartaal het die ekonomie met 3,1% gegroei.

Wisselkoers (Bron: Statistiek SA)
Ekonomiese aanwyser (Bron: Statistiek SA)
Ekonomiese groei (Bron: Statistiek SA)

Rooivleismark

Gedurende September het die mark vir al drie grade beeskarkasse redelik sywaarts met ‘n afwaartse neiging verhandel. In die geval van skaapvleis het die prys van al drie grade karkasse egter gedaal. 

Die laaste beskikbare pryse vir beesvleis in September was R45,77/kg vir A2, R38,72/kg vir B2 en R36,96/kg vir C2. A2, B2 en C2 lam- en skaapkarkasse se laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R65,94/kg, R50,31/kg en R49,03/kg.

In die geval van speendiere het die prys van lammers skerp gedaal, terwyl die prys van kalwers ietwat verstewig het. Die laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R28,93/kg vir kalwers en R32,67/kg vir lammers. Die pryse van huide en velle het redelik sywaarts beweeg.

Beesvleis (Bron: RVAV)
Skaapvleis (Bron: RVAV)
Speenkalwers- en lammers (Bron: RPO)
Velle en huide (Bron: RVAV)

Wol- en bokhaarmark

Die wolmark het na ‘n baie lae aanvangsveiling vir die seisoen vinnig kop opgetel, terwyl die mark vir bokhaar gedurende dieselfde tyd gedaal het. Die skoonwol-aanduider het tydens die laaste veiling in September 5,3% hoër verhandel as tydens die vorige veiling, maar was steeds 47,3% laer as ‘n jaar gelede. Die aanduiderprys van sybokhaar het tydens die laaste veiling in September teruggesak en 0,2% laer gesluit as tydens die vorige veiling en 31,8% laer verhandel as ‘n jaar gelede.

Suiwelmark

Die PPI van melk en eiers het in Augustus effens gedaal, terwyl die indeks van melkprodukte gestyg het. Die VPI van melk, eiers en kaas het in dieselfde tydperk gestyg.

Produsenteprysindeks (Bron: Statistiek SA)
Verbruikersprysindeks (Bron: Statistiek SA)

Klik op die skakel om Augustus se markoorsig te besigtig. – Dr Frikkie Maré, Universiteit van die Vrystaat