Dr Frikkie Maré, landbou-ekonoom en akademiese hoof van die Departement Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n oorsig van die vorige maand se landboumarkte. Hierdie is die markoorsig vir Februarie 2020.

Mieliemark

Die prys van geelmielies het gedurende Februarie skerp gedaal met die mark wat op R2 448/ton gesluit het.

Geelmielieprys (Bron: Statistiek SA)

Ekonomiese aanwysers

Die rand het gedurende Februarie aanvanklik effens versterk voor dit weer veld verloor het teenoor die vernaamste geldeenhede. Aan die einde van die maand het dit teen onderskeidelik R15,63 en R17,26 teenoor die dollar en euro verhandel. Beide die verbruikersprysinflasie (VPI) en produsenteprysinflasie (PPI) het gestyg tot onderskeidelik 4,5% en 4,6% op ’n jaar-tot-jaar grondslag in Januarie.

Die prima-uitleenkoers is in Januarie tot 9,75% verlaag. Die slegte nuus is dat die ekonomiese groei vir die laaste kwartaal van 2019, voorgestel deur die BBP, gedaal het tot -0,5% op ’n jaar-tot-jaar grondslag. Kwartaal-op-kwartaal het die ekonomie met 1,4% ingekrimp wat Suid-Afrika dus in ’n resessie plaas weens die twee agtereenvolgende kwartale van ekonomiese inkrimping.

Wisselkoers (Bron: Statistiek SA)
Ekonomiese aanwyser (Bron: Statistiek SA)
Ekonomiese groei (Bron: Statistiek SA)

Rooivleismark

Gedurende Februarie het die mark vir alle A-graad lamkarkasse gestyg, terwyl B- en C-graad skaapkarkasse wisselvallig vertoon het. Die pryse van al drie grade beesvleis het egter verbeter in dieselfde tyd. Die laaste beskikbare pryse vir beesvleis in Februarie was R46,98/kg vir A2, R42,08/kg vir B2 en R40,15/kg vir C2. A2, B2 en C2 lam- en skaapkarkasse se laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R75,51/kg, R56,14/kg en R52,99/kg.

In die geval van speendiere het die prys van beide lammers en kalwers gestyg. Die laaste beskikbare pryse was R33,09/kg vir kalwers en R34,38/kg vir lammers. Die pryse van huide-, merino- en dorpervelle het sywaarts beweeg.

Beesvleis (Bron: RVAV)
Skaapvleis (Bron: RVAV)
Speenkalwers- en lammers (Bron: RPO)
Velle en huide (Bron: RVAV)

Wol- en bokhaarmark

Die pryse vir beide wol en bokhaar het gedurende Februarie versterk. Die skoonwolaanduider het tydens die laaste veiling in Februarie 1,8% hoër verhandel as tydens die vorige veiling, maar 16,4% laer as ’n jaar gelede. Die aanduiderprys van sybokhaar het tydens die laaste veiling in Februarie 3,8% hoër gesluit vergeleke met die vorige veiling, alhoewel dit steeds 22,5% laer is as ’n jaar gelede.

Wolmark (Bron: Cape Wools SA)
Wolmark (Bron: Cape Wools SA)
Sybokhaar (Bron: Sybokhaar SA)
Sybokhaar (Bron: Sybokhaar SA)

Suiwel & eiers

Die produsenteprysindeks (PPI) van melk en eiers het in Januarie gedaal terwyl dié vir melkprodukte skerp gestyg het. Die verbruikersprysindeks (VPI) van melk, eiers en kaas het tydens dieselfde periode ook gestyg.

Produsenteprysindeks (Bron: Statistiek SA)
Verbruikersprysindeks (Bron: Statistiek SA)

Klik op die skakel om Januarie 2020 se markoorsig te besigtig. – Dr Frikkie Maré, Universiteit van die Vrystaat.