Dr Frikkie Maré, akademiese departementshoof van die Departement Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n markoorsig van die vorige maand se landboumarkte. Hierdie is die oorsig vir Oktober 2019.

Mieliemark

Die prys van geelmielies het gedurende die eerste paar dae van Oktober gestyg, voor dit weer veld verloor het. Die mark het op R2 702/ton gesluit.

Geelmielieprys (Bron: Statistiek SA)

Ekonomiese aanwysers

Die rand het gedurende Oktober effens veld gewen voor dit aan die einde van die maand skerp verswak het. Teen die einde van die maand het dit teen onderskeidelik R14,95 en R16,70 teenoor die dollar en euro verhandel.  

Beide verbruikersprysinflasie (VPI) en produsenteprysinflasie (PPI) het verlangsaam tot 4,1% op ‘n jaar-tot-jaar grondslag. Die prima-uitleenkoers het op 10% gebly. Goeie nuus is dat die ekonomiese groei vir die tweede kwartaal van 2019, voorgestel deur die BBP, gestyg het tot 0,9% op ‘n jaar-tot-jaar grondslag. Kwartaal-op-kwartaal het die ekonomie met 3,1% gegroei.

Wisselkoers (Bron: Statistiek SA)
Ekonomiese aanwyser (Bron: Statistiek SA)
Ekonomiese groei (Bron: Statistiek SA)

Rooivleismark

Gedurende Oktober het die mark vir al drie grade beeskarkasse afwaarts verhandel. In die geval van skaapvleis het die prys van al drie grade karkasse egter wisselvallig vertoon, maar veral B-grade het skerp gedaal.

Die laaste beskikbare pryse vir beesvleis in Oktober was R45,25/kg vir A2, R38,94/kg vir B2 en R36,46/kg vir C2. A2, B2 en C2 lam- en skaapkarkasse se laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R66,46/kg, R50,93/kg en R47,95/kg.

In die geval van speendiere het die prys van lammers verder gedaal, terwyl die prys van kalwers ietwat verstewig het. Die laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R30,02/kg vir kalwers en R31,02/kg vir lammers. Die pryse van huide en velle het redelik sywaarts beweeg.

Beesvleis (Bron: RVAV)
Skaapvleis (Bron: RVAV)
Speenkalwers- en lammers (Bron: RPO)
Velle en huide (Bron: RVAV)

Wol- en bokhaarmark

Die wolmark het gedurende Oktober sterk kop opgetel, terwyl die mark vir bokhaar gedurende dieselfde tyd egter gedaal het. Die skoonwolaanduider het tydens die laaste veiling in Oktober 6,8% hoër verhandel as tydens die vorige veiling, maar was steeds 23% laer as ‘n jaar gelede. Die aanduiderprys van sybokhaar het tydens die laaste veiling in Oktober teruggesak, 2,5% laer gesluit as tydens die vorige veiling en 33,7% laer verhandel as ‘n jaar gelede.

Suiwelmark

Die PPI van melk en eiers het in Oktober verder gedaal, terwyl die indeks van melkprodukte effens gestyg het. Die VPI van melk, eiers en kaas het tydens dieselfde periode gedaal.

Produsenteprysindeks (Bron: Statistiek SA)
Verbruikersprysindeks (Bron: Statistiek SA)

Klik op die skakel om September 2019 se markoorsig te besigtig. – Dr Frikkie MaréUniversiteit van die Vrystaat