Die Sakeliga KragDag-ekspo, wat tans spog as die grootste alternatiewe energie- en selfstandigheidsekspo in Suid-Afrika, het vanjaar meer as 15 000 besoekers verwelkom. KragDag het reeds meer as ‘n dekade gelede sy eerste uitstalling in 2008 gehou en is vanjaar vir die elfde keer aangebied toe dit van 8 tot 10 Augustus op die Diamantvallei Landgoed by Rayton plaasgevind het.

Landbou sub-ekspo vat vlam

Alhoewel alternatiewe kragvoorsiening en energiebesparing altyd die hooffokus van KragDag is, is dié ekspo ook bekend vir sy klem op selfstandigheid en ondersteun derhalwe verskeie produkte, tegnologie, entrepreneurs en diensverskaffers wat selfstandigheidsgebaseerde produkte en dienste bemark en verkoop.

Vanjaar het die ekspo vir die eerste keer ‘n landbou sub-ekspo aangebied wat verskeie leersame geleenthede en volhoubare oplossings gebied het. Die veetentoonstellings het bestaan uit verskeie groot- en kleinveerasse asook perde van hoogstaande gehalte.

IB Saaiman, van Schalk Burger Boerdery, spog met ‘n brahman-bul.

Diamond L-slaglamkompetisie

Die opwindende Diamond L-slaglamkompetisie in samewerking met die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfsmaatskappy (Samic) is ook vir die eerste keer hier aangebied en het vir verskeie skaapboere die geleentheid gebied om die gehalte van hul slaglammers te bepaal.

Jan de Jong, ‘n bekende veebeoordelaar, verduidelik dat lammers beide lewendig en aan die hak beoordeel was. “Die lammers is volgens Samic se standaarde beoordeel, wat beteken dat die swaarste lam op die hak ‘n maksimum gewig van 24kg mag weeg. Ons op-die-hoef kampioenlam het 48kg geweeg en het uitstekende bouvorm getoon,” het hy gesê.

Kyk hieronder na ‘n videogesprek oor die Diamond L-slaglamkompetisie.

Jan de Jong, 'n bekende veebeoordelaar, gesels oor die slaglamkompetisie wat die jaar plaasgevind het by die #Kragdag-ekspo. #Kragdag2019 #selfstandigheid

Posted by Veeplaas Tydskrif on Thursday, 8 August 2019

Na die kompetisie het Johan Maritz, ‘n streeksinspekteur van Samic, in die Hinterlandtent verduidelik hoe hulle wêreldgehalte rooivleis verseker deur die toepassing van hulle klassifikasie- en graderingstandaarde.

Ander opvoedkundige seminare het paneelbesprekings ingesluit oor klimaatsverandering, intensiewe skaapboerderypraktyke en selfs ekonomiese volhoubaarheid in landbou. Willie Clack, voorsitter van die Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum, het ook in die Hinterlandtent gesels oor veediefstal in Suid-Afrika. – Claudi Nortjé, Plaas Media