Landboubedrywe maak harte en hande oop

456
Van links na regs: Jannie Fourie, NWKV Produksie-adviseur in die Wes-Kaap, Estelle van Dyk (Stap vir Droogtehulp-projek), Kobus Uys en Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.

Die Agri Wes-Kaap Droogtehulpfonds het ‘n broodnodige hupstoot gekry met twee bedrywe in die Wes-Kaap wat bydraes tot die fonds gemaak het.

Die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) Wes-Kaap en die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) Wes-Kaap het onderskeidelik R100 000 en R200 000 geskenk om produsente wat steeds van droogtehulp afhanklik is, by te staan. 

NWKV en RPO maak ‘n bydrae

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap (links) en Louis Wessels, voorsitter van die RPO Wes-Kaap (regs).

Cobus Uys, voorsitter van die NWKV Wes-Kaap, sê dit is vir die NWKV ‘n voorreg om te help om die lot van produsente in die droogtegeteisterde gebiede te verlig. Hy sê hul besluit om ‘n bydrae tot die hulpfonds te maak, spruit daaruit dat hulle die droogte self beleef en die vernietigende uitwerking daarvan verstaan.

Louis Wessels, voorsitter van die RPO Wes-Kaap, sê hulle hoop dat hul bydrae kan help om produsente op hulle plase te hou en dat dit vir produsente sal hoop gee. 

Agri Wes-Kaap lewer droogtehulp

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, het die organisasies vir hulle bydraes bedank. “Agri Wes-Kaap is dankbaar vir elke skenking, omdat die nood van produsente al ver verby kritiek is.

“Hierdie skenkings stel ons in staat om soveel meer produsente hoop te gee in ‘n tyd waarin dit bitterswaar met ons veeboere gaan, en waarin dit toenemend moeilik raak om ons landbouers se gemoed sterk te hou.” Agri Wes-Kaap lewer steeds droogtehulp in die Sentraal- en Klein-Karoo en in die Matzikama-distrik. – Persverklaring, Agri Wes-Kaap