Agri SA staan saam met elke landbouer, plaaswerker en landbougemeenskap wat onder die uitmergelende droogte in Suid-Afrika gebuk gaan. In die afgelope vier jaar is tonne voer, asook kontant en humanitêre hulp, aan boere en landbougemeenskappe regoor die land gelewer.

“Sonder Agri SA en ander vennote se hulp sou landbouers, hulle gesinne en plaaswerkers in die Noord-Kaap raadop gewees het,” sê Willem Symington, Agri Noord-Kaap adjunkpresident en die hoof van Agri SA se nuutgestigte rampbestuursentrum.

Droogte nie meer tydelik van aard nie

“Die droogte en droogtehulpverlening aan landbouers, plaaswerkers en landbougemeenskappe is nie meer tydelik van aard nie,” sê Omri van Zyl, Agri SA se uitvoerende direkteur. “Die impak van klimaatsverandering kan ons nie ignoreer nie, maar die huidige droogte blyk egter op die stadium om ’n normale sikliese klimaatsverskynsel te wees. Kontantvloei- en humanitêre probleme is wel nou aan die orde van die dag.”

Agri SA het juis om dié rede ’n rampbestuursentrum op die been gebring. Die sentrum sal spesifiek fokus op rampe en die mitigering daarvan vir landbouers. ’n Impakstudie van die droogte in al nege provinsies wat strek oor al die bedrywe heen, word tans onderneem. Die inligting sal gebruik word in samesprekings met rolspelers om doelgerigte planne vir hulpverlening te maak. 

“Ons werk ook nou saam met die banksektor en die landbouwaardeketting om gunstige kredietvoorwaardes en vergunnings vir landbouers te beding,” sê Symington. “Ons wil ook betrokke raak by ’n studentehulpfonds vir landbouers wat help om skoolfondsbydraes, universiteits- en koshuisgelde te betaal.” 

“Beleidsonsekerheid maak dit vir landbouers en die waardeketting nog moeiliker om finansieel lewensvatbaar te wees,” waarsku Van Zyl. “Waar boere swaar kry sal landboubesighede en ander waardekettingspelers ook nie meer winsgewend wees nie.”

Landbousektor benodig meer finansiële hulp

Agri SA se provinsiale affiliasies werk nou saam met die provinsiale regerings. In die Noord-Kaap is daar reeds R30 miljoen van die regering vir droogtehulp toegeken en in die Wes-Kaap is daar reeds R50 miljoen toegeken.

“Dit is egter nie genoeg nie,” sê Symington. “Ons skattings is dat daar ten minste R425 miljoen nodig sal wees om die droogte in die Noord-Kaap alleen te mitigeer.”

Plattelandse ekonomieë wat grootliks op die landbou-ekonomie steun, is op die rand van ineenstorting. Daar is ook groeiende kommer omdat die graanproduserende somerreënvalstreke en sekere vrugtegebiede nog nie genoeg reën ontvang het nie. Dit het ’n langtermyn impak wat voedselsekerheid in die weegskaal kan plaas. 

Agri SA se droogterampfonds

“Sedert 2015 het Agri SA se droogterampfonds meer as R20 miljoen ingesamel,” sê Christo van der Rheede, Agri SA se adjunk-uitvoerende direkteur. “Die fonds is gebruik vir korttermynverligting wat insluit voer, die vervoer van voer, en kospakkies. Dit is egter net ’n druppel in die emmer. Landbouers, veral dié in permanente gewasgebiede, het oorbruggingsfinansiering dringend nodig.”

“Ons harte gaan uit na elkeen wat deur die droogte geraak word – praktiese oplossings is nou nodig om boerderygemeenskappe by te staan,” sê Van Zyl. Op 12 November 2019 sal Agri SA ’n mediakonferensie by ons kantore in Centurion hou waar ons die jongste verwikkelinge, feite en doelgerigte planne sal deurgee. Meer inligting sal later verskaf word. – Persverklaring, Agri SA