Landboumark-vooruitsigte gee boere ’n ander perspektief

0
112
Prof WIllemse en Dr Armour

Dit was weereens tyd vir prof Johan Willemse se werkswinkel oor landboumark-vooruitsigte op 2 November. Dié kwartaallikse werkswinkel word buite Bloemfontein gehou en gee gewoonlik ’n aanduiding aan boere oor wat hulle die komende seisoen in die graan- en lewendehawe-markte kan verwag.

Prof Willemse het ’n oorsig gegee oor die huidige ekonomiese klimaat waarin Suid-Afrika homself tans bevind. Hoewel ekonome van mening is dat Suid-Afrika in ’n tegniese resessie is, voel hy dat die land eerder in ’n depressie is as gevolg van die dalende batepryse wat ervaar word, veral eiendom se pryse.

Met die wisselkoers wat verswak, Amerika se rentekoers wat versterk en Suid-Afrika se rentekoerse wat moontlik kan styg, kan boere ’n verhoging in kunsmis- en insetpryse verwag. Dit kan ’n groot impak op produsente se boerderye hê indien hulle nog nie kunsmis aangekoop het nie. ’n Verhoging in somergrane se pryse kan verwag word, terwyl wintergrane se pryse na verwagting eerder sywaarts gaan beweeg.

Prof Willemse het afgesluit met die vooruitsigte vir die lewendehawe-sektor en gesê dat die bedryf nou gestabiliseer het en dat hy nie groot prysveranderinge verwag nie.

Dr Jack Armour van Vrystaat Landbou het tydens die werkswinkel ook ’n kans gekry om oor die handves vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) te praat. Hy het op die hoekoms en hoe’s van SEB gefokus. Onder die hoekoms het hy boere ingelig dat dit voordele soos staatskontrakte vir ’n boerdery kan inhou as SEB geïmplementeer word.

Oor hoe dit geïmplementeer kan word, het hy op die BRUG-beginsel gefokus. Dié akroniem is ’n afkorting wat beteken om deur SEB geïnspireerd te wees, om vir SEB te registreer, om professionele advies te gebruik en om betrokke te raak. Hy het gesê dat boere brugbouers na ’n getransformeerde Suid-Afrika kan wees. – Mario van den Heever, Veeplaas

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here