Dr Frikkie Maré, landbou-ekonoom en akademiese hoof van die Departement Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n markoorsig van die vorige maand se landboumarkte. Hierdie is die oorsig vir April 2020.
Mieliemark
Die prys van geelmielies het gedurende April verder gestyg, alvorens dit tydens die laaste week skerp teruggesak het weens die groot mielie-oes wat voorspel word. Die mark het gesluit op R2 538/ton.

Ekonomiese aanwysers
Die rand het gedurende April eers effens versterk teenoor die vernaamste geldeenhede voor dit weer teruggesak het. Aan die einde van die maand het dit teen onderskeidelik R18,66 en R20,44 teenoor die dollar en euro verhandel.
Verbruikersprysinflasie (VPI) het effens verlangsaam tot 4,5% gedurende Maart. Weens die COVID-19-inperking was die produsenteprysinflasie-verslag nie vrygestel nie. Die prima-uitleenkoers is in egter met nog 100 basispunte tot 7,75% verlaag, weens die negatiewe invloed van die staat van inperking op die ekonomie.
Die slegte nuus is dat die ekonomiese groei vir die laaste kwartaal van 2019, voorgestel deur die BBP, gedaal het tot -0,5% op ‘n jaar-tot-jaar grondslag. Kwartaal-op-kwartaal het die ekonomie met 1,4% ingekrimp wat Suid-Afrika dus in ‘n resessie plaas weens die twee agtereenvolgende kwartale van ekonomiese inkrimping.



Rooivleismark
Gedurende April het die mark vir lam- en skaapkarkasse teruggesak, maar niks in vergelyking met die vryval in die prys van beeskarkasse nie. Die laaste beskikbare pryse vir beeskarkasse in April was R43,69/kg vir A2, R36,94/kg vir B2 en R37,05/kg vir C2.
A2, B2 en C2 lam- en skaapkarkasse se laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R72,74/kg, R52,86/kg en R51,48/kg. In die geval van speendiere was die laaste beskikbare pryse onderskeidelik R25,76/kg vir kalwers en R31,33/kg vir lammers. Die pryse van huide-, merino- en dorpervelle het sywaarts beweeg.




Wol- en Sybokhaarmark
Weens die staat van inperking was die wol- en bokhaarveilings vir lank gesluit, en het daar net een wolveiling in April plaasgevind en geen bokhaarveilings nie. Die aanduiderprys vir wol het tydens die veiling in April versterk en 6,3% hoër verhandel as tydens die vorige veiling, maar 33,9% laer as ‘n jaar gelede. Aangesien daar geen bokhaarveilings was nie, bly die Maart-pryse die laaste beskikbare pryse.




Suiwelmark
Die verbruikersprysindeks van melk, eiers en kaas het in Maart effens gestyg. Die produsenteprysindeksdata is egter nie vrygestel nie en dus bly die laaste beskikbare data dié van Februarie.


Klik op die skakel om Maart 2020 se markoorsig te besigtig. – Dr Frikkie Maré, Universiteit van die Vrystaat.
