Dr Frikkie Maré, landbou-ekonoom en akademiese hoof van die Departement Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n landboumarkoorsig van die vorige maand se markte. Hierdie is die landboumarkoorsig vir April 2021.

Mieliemark

Die prys van geelmielies was effens wisselvallig gedurende April, maar het tog vir die grootste gedeelte van die maand opwaarts beweeg om op R3 415/ton te sluit.

(Bron: Graan SA)

Ekonomiese aanwysers

Gedurende April het die rand redelik bestendig teenoor die vernaamste geldeenhede verhandel. Die geldeenheid het teen R14,49 en R17,42 onderskeidelik teenoor die dollar en euro gesluit. Die verbruikersprysindeks (VPI), sowel as die produsenteprysindeks (PPI) het gedurende Maart tot 3,2 en 5,2% onderskeidelik gestyg. Die prima uitleenkoers is steeds konstant op 7%.

Die ekonomiese groei vir die vierde kwartaal van 2020, voorgestel deur die bruto binnelandse produk (BBP), het weereens effens beter vertoon as tydens die vorige kwartaal, maar die ekonomie was steeds 4,1% kleiner as ‘n jaar gelede. ‘n Bietjie goeie nuus is dat die ekonomie in 2020 minder gekrimp het as wat verwag is, met die totale inkrimping vir die jaar op 7% in vergelyking met 2019.

Wisselkoers. (Bron: Statistieke SA)
Ekonomiese groei. (Bron: Statistieke SA)
Ekonomiese aanwysers. (Bron: Stats SA)

Rooivleismark

Gedurende April was die skaapkarkaspryse wisselvallig, terwyl die lamkarkaspryse bestendig gestyg het. Die prys van die beeskarkasse was ook wisselvallig, maar het redelik sywaarts beweeg. Volgens die laaste beskikbare pryse vir April was die A2-, B2- en C2-skaapkarkasse onderskeidelik R85,95/kg, R67,23/kg en R64,81/kg. Die pryse vir beeskarkasse was R51,90/kg, R47,33/kg en R44,12/kg vir die onderskeidelike A-,B- en C-grade.

Gedurende April het die prys van speenlammers en -kalwers gestyg. Die laaste beskikbare pryse vir April was R43,30/kg vir speenlammers en R37,49/kg vir speenkalwers.

Die pryse van huide, Dorper- en Merino-velle vertoon tans verskriklik wisselwallig, maar die goeie nuus bly die groot styging in die prys van huide vanaf die pryse aan die begin van die jaar.

Skaapvleis. (Bron: RVAV)
Beesvleis. (Bron: RVAV)
Speenkalwers en -lammers. (Bron: AMT)
Velle en huide. (Bron: RVAV)

Wol- en bokhaarmark

Die wolaanduiderprys het gedurende die laaste veiling in April met 3,7% gestyg teenoor die vorige veiling en 14,2% hoër verhandel as die vorige jaar. Die aanduiderprys van bokhaar het tydens die laaste veiling van April met 3% gestyg vanaf die vorige veiling en 64,9% hoër verhandel as ‘n jaar gelede.

landboumarkoorsig
Wolmark. (Bron: Cape Wools SA)
Wolmark. (Bron: Cape Wools SA)
landboumarkoorsig
Bokhaarmark. (Bron: Sybokhaar SA)
landboumarkoorsig
Bokhaarmark. (Bron: Sybokhaar SA)

Suiwelmark

Gedurende Maart het beide die verbruiker- en produsenteprysindekse vir melk, eiers en melkprodukte gestyg.

Produsenteprysindeks. (Bron: Statistieke SA)
Verbruikersprysindeks (Bron: Statistieke SA)

Klik op hierdie skakel om die landboumarkoorsig vir Maart 2021 te lees. – Hanel Mans en dr Frikkie Maré, Universiteit van die Vrystaat