Dr Frikkie Maré, landbou-ekonoom en akademiese hoof van die Departement Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n oorsig van die vorige maand se landboumarkte. Hierdie is die markoorsig vir Augustus 2020.

Mieliemark

Die prys van geelmielies het gedurende Augustus skerp gestyg. Die mark het op R3 077/ton gesluit.

Geelmielieprys. (Bron: Statistieke SA)

Ekonomiese aanwysers

Die rand het gedurende Augustus ‘n terugslag beleef teenoor die vernaamste geldeenhede, voor dit weer begin versterk het. Aan die einde van die maand het dit teen onderskeidelik R16,83 en R20,15 teenoor die dollar en euro verhandel. 

Die verbruikersprysindeks (VPI) en produsenteprysindeks (PPI) het in Julie met onderskeidelik 3,2% en 1,9% op ‘n jaargrondslag gestyg. Die prima uitleenkoers het in Augustus op 7% gebly. Die ekonomiese groei vir die tweede kwartaal van 2020, voorgestel deur die bruto binnelandse produk (BBP), het op ‘n jaargrondslag met 17,1% gedaal, met die impak van die inperking wat duidelik gesien kan word.

Wisselkoers. (Bron: Statistieke SA)
Ekonomiese aanwysers. (Bron: Statistieke SA)
Ekonomiese groei. (Bron: Statistieke SA)

Rooivleismark

Gedurende Augustus het die prys vir A2-lamkarkasse effens afgeplat maar sterk gebly, terwyl B- en C-grade se pryse verder toegeneem het. In die geval van beeskarkasse het A-grade se prys redelik sywaarts beweeg, terwyl B- en C-grade se pryse gestyg het. Die laaste beskikbare pryse vir beeskarkasse in Augustus was R43,54/kg vir A2, R41,35/kg vir B2 en R39,62/kg vir C2.

Lam- en skaapkarkasse se laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R87,31/kg vir A2, R72,16/kg vir B2 en R65,74/kg vir C2. Die prys van speenlammers het effens teruggesak in Augustus, terwyl die prys van kalwers gestyg het. Die laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R33,31/kg vir kalwers en R41,86/kg vir lammers. Die pryse van huide en merinovelle het sywaarts beweeg, terwyl die prys van dorpervelle effens verstewig het.

Beesvleis. (Bron: RVAV)
Skaapvleis. (Bron: RVAV)
Speenkalwers en -lammers. (Bron: RPO)
Velle en huide. (Bron: RVAV)

Wol- en bokhaarmark

Die natuurlike veselmark het in Augustus redelike terugslae beleef. Die aanwyser vir wol het tydens die laaste veiling in Augustus met 4,1% verswak teenoor die vorige veiling en 44,7% laer verhandel as ‘n jaar gelede. Die aanwyser vir bokhaar het tydens die laaste veiling in Augustus met 0,8% gedaal en 8,8% laer verhandel as ‘n jaar gelede.

Wolmark. (Bron: Cape Wools SA)
Wolmark. (Bron: Cape Wools SA)
Sybokhaarmark. (Bron: Sybokhaar SA)
Sybokhaarmark. (Bron: Sybokhaar SA)

Suiwelmark

Die verbruikersprys van melk, eiers en kaas het in Julie sywaarts beweeg, terwyl die produsentepryse van melkprodukte, melk en eiers gedaal het.

Verbruikersprysindeks. (Bron: Statistiek SA)
Produsenteprysindeks. (Bron: Statistiek SA)

Julie se landboumarkoorsig

Klik op die skakel om Julie 2020 se landboumarkoorsig te besigtig. – Dr Frikkie Maré, Universiteit van die Vrystaat