Dr Frikkie Maré, landbou-ekonoom en akademiese hoof van die Departement Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n markoorsig van die vorige maand se landboumarkte. Hierdie is die oorsig vir Junie 2020.

Mieliemark

Die prys van geelmielies het gedurende die eerste drie weke van Junie skerp gestyg voor dit weer in die laaste week teruggesak het. Die mark het op R2 600/ton gesluit.

Geelmielieprys. (Bron: Statistiek SA)

Ekonomiese aanwysers

Die rand het gedurende Junie redelik bestendig verahandel teenoor die vernaamste geldeenhede. Aan die einde van die maand het dit teen onderskeidelik R17,37 en R19,48 teenoor die dollar en euro verhandel. As gevolg van die COVID-19-pandemie is Statistiek SA agter met die vrystelling van statistieke en dus is die April-syfers vir verbruikersprysinflasie (VPI) en die produsenteprysinflasie (PPI) nou eers beskikbaar. 

Die VPI en PPI het in April onderskeidelik jaar-op-jaar met 3% en 1,2% gestyg. Die prima-uitleenkoers het op 7,25% gebly. Die ekonomiese groei vir die eerste kwartaal van 2020, voorgestel deur die BBP, het weer gedaal met -0,1% op ‘n jaar-tot-jaar grondslag. Kwartaal-op-kwartaal het die ekonomie met 2% ingekrimp.

Wisselkoers. (Bron: Statistiek SA)
Ekonomiese aanwyser. (Bron: Statistiek SA)
Ekonomiese groei. (Bron: Statistiek SA)

Rooivleismark

Gedurende Junie het die mark vir lam- en skaapkarkasse effens wisselvallig vertoon maar oor die algemeen verstewig. In die geval van beeskarkasse het A-grade se prys redelik sywaarts beweeg, terwyl B- en C-grade skerp gestyg het.

Die laaste beskikbare pryse vir beeskarkasse in Junie was R43,78/kg vir A2, R41,07/kg vir B2 en R38,74/kg vir C2. A2, B2 en C2 lam- en skaapkarkasse se laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R82,77/kg, R59,37/kg en R62,34/kg. Die pryse van speenlammers en speenkalwers het effens teruggesak in Junie. Die laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R28,63/kg vir kalwers en R39,85/kg vir lammers.

Die prys van huide het sywaarts beweeg, terwyl die prys van dorpervelle baie wisselvallig vertoon het en merinovelle se prys gestyg het.

Beesvleis. (Bron: RVAV)
Skaapvleis. (Bron: RVAV)
Speenkalwers- en lammers. (Bron: RPO)
Velle en huide. (Bron: RVAV)

Wol- en Bokhaarmark

Die pryse van beide wol en bokhaar het in Junie verder gedaal. Die aanduiderprys vir wol het tydens die laaste veiling in Junie met 0,1% versterk teenoor die vorige veiling, maar 42% laer verhandel as ‘n jaar gelede. Die aanduiderprys vir bokhaar het met 1,8% gedaal tydens die laaste veiling in Junie en 25,1% laer verhandel as ‘n jaar gelede.

Wolmark. (Bron: Cape Wools SA)
Wolmark. (Bron: Cape Wools SA)
Sybokhaar (Bron: Sybokhaar SA)
Sybokhaar. (Bron: Sybokhaar SA)

Suiwelmark

Die verbruikersprys van melk, eiers en kaas het verder gestyg in April, terwyl die produsenteprys van melk en eiers, sowel as melkprodukte, ook gestyg het.

Verbruikersprysindeks. (Bron: Statistiek SA)
Produsenteprysindeks. (Bron: Statistiek SA)

Klik op die skakel om Mei 2020 se markoorsig te besigtig. – Dr Frikkie Maré, Universiteit van die Vrystaat.