Landboumarkoorsig vir Junie 2021: Beeskarkasprys wisselvallig

0

Estimated reading time: 5 minutes

Dr Frikkie Maré, landbou-ekonoom en akademiese hoof van die Departement Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n landboumarkoorsig van die vorige maand se markte. Hierdie is die landboumarkoorsig vir Junie 2021.

Mieliemark

Gedurende Junie het die prys van geelmielies vir die grootste deel van die maand skerp gedaal om uiteindelik teen R3 199/ton te sluit.

Mieliemark. (Bron: Graan SA)

Ekonomiese aanwysers

Die rand het gedurende Junie teenoor die vernaamste geldeenhede verswak om teen onderskeidelik R14,29 en R16,93 teenoor die dollar en die euro te sluit. Die verbruikersprysindeks (VPI) en die produsenteprysindeks (PPI) het beide skerp gestyg in Mei tot op 5,2 en 7,4% onderskeidelik. Die prima uitleenkoers is steeds konstant op 7%.

Die ekonomiese groei vir die eerste kwartaal van 2021, voorgestel deur die bruto binnelandse produk (BBP), het weereens effens beter vertoon as tydens die vorige kwartaal, maar die ekonomie was steeds 3,2% kleiner as ‘n jaar gelede (vóór die eerste Covid-19-inperking sy tol geëis het). 

Die landbousektor se groei was 7,5% jaar op jaar, en hoewel dit vanaf die vorige kwartaal gedaal het, was landbou se groei, persentasiegewys, steeds die hoogste van al die sektore.

Wisselkoers. (Bron: Graan SA)
Ekonomiese groei. (Bron: Statistieke SA)
Ekonomiese aanwysers. (Bron: Statistieke SA)

Rooivleismark

In Junie het die prys van lam- en skaapkarkasse redelik sywaarts beweeg. Die pryse van beeskarkasse was effens wisselvallig, terwyl dit ‘n effense afwaartse neiging getoon het. Volgens die laaste beskikbare pryse vir skaapkarkasse, was die A2-, B2- en C2-skaapkarkasse onderskeidelik R93,26/kg, R76,61/kg en R72,17/kg. Die beeskarkasse was R51,99/kg, R48,33/kg en R44,58/kg vir die onderskeidelike A-, B- en C-grade.

Die pryse van speenlammers en -kalwers was wisselvallig, maar beide het hoër as die vorige maand gesluit. Die laaste beskikbare pryse vir speenlammers en -kalwers was onderskeidelik R49,39/kg en R38,46/kg.

Die pryse van huide en Dorper- en Merino-velle het, alhoewel wisselvallig, ook gedurende Junie gestyg.

Skaapvleis. (Bron: RVAV)
Beesvleis. (Bron: RVAV)
Speenkalf en -lam. (Bron: AMT)
Velle en huide. (Bron: RVAV)

Wol- en bokhaarmark

In Junie het die wolaanduiderprys met 1,5% teenoor die vorige veiling getyg en 14,2% hoër as ‘n jaar gelede verhandel. Gedurende die laaste veiling vir bokhaar in Junie, het die aanduiderprys met 5,4% gedaal en 64,3% hoër as ‘n jaar vantevore verhandel.

Wolmark. (Bron: Cape Wools SA)
Wolmark. (Bron: Cape Wools SA)
Bokhaarmark. (Bron: Sybokhaar SA)
Bokhaarmark. (Bron: Sybokhaar SA)

Suiwelmark

Gedurende Mei het die verbruikerspryse vir melk, eiers en kaas, sowel as die produsentepryse vir melk en eiers, asook melkprodukte, gestyg.

Verbruikersprysindeks. (Bron: Statistieke SA)
Produsenteprysindeks. (Bron: Statistieke SA)

Lees Mei 2021 se landboumarkoorsig.Hanel Mans en dr Frikkie Maré, Universiteit van die Vrystaat