Dr Frikkie Maré, landbou-ekonoom en akademiese hoof van die Departement Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n markoorsig van die vorige maand se landboumarkte. Hierdie is die oorsig vir Maart 2020.

Mieliemark

Die prys van geelmielies was gedurende Maart ondersteun deur die verswakking van die rand en het skerp gestyg, met die mark wat op R2 800/ton gesluit het.

Geelmielieprys (Bron: Statistiek SA)

Ekonomiese aanwysers

Die rand het in Maart aansienlik verswak teenoor die vernaamste geldeenhede. Aan die einde van die maand het dit teen onderskeidelik R17,80 en R19,72 teenoor die dollar en euro verhandel.  

Verbruikersprysinflasie (VPI) het effens gestyg tot 4,6% terwyl produsenteprysinflasie (PPI) verlangsaam het tot 4,5% op ‘n jaar-tot-jaar grondslag in Februarie. Die prima-uitleenkoers is in Maart met 100 basispunte tot 8,75% verlaag en daar word verwag dat dit met nog 0,75% oor die volgende drie kwartale gaan daal.

Die slegte nuus is dat die ekonomiese groei vir die laaste kwartaal van 2019, voorgestel deur die BBP, gedaal het tot -0,5% op ‘n jaar-tot-jaar grondslag. Kwartaal-op-kwartaal het die ekonomie met 1,4% ingekrimp wat Suid-Afrika dus in ‘n resessie plaas weens die twee agtereenvolgende kwartale van ekonomiese inkrimping.

Wisselkoers (Bron: Statistiek SA)
Ekonomiese aanwyser (Bron: Statistiek SA)
Ekonomiese groei (Bron: Statistiek SA)

Rooivleismark

Gedurende Maart het die mark vir A-graad lamkarkasse gestyg, terwyl B- en C-graad skaapkarkasse wisselvallig vertoon het. Die pryse van beesvleis het dieselfde tendens as dié van lam en skaap getoon. 

Die laaste beskikbare pryse vir beeskarkasse in Maart was R47,22/kg vir A2, R42,66/kg vir B2 en R40,28/kg vir C2. A2, B2 en C2 lam- en skaapkarkasse se laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R77,98/kg, R57,67/kg en R54,74/kg.

In die geval van speendiere het die prys van lammers sywaarts beweeg, terwyl die prys van kalwers teruggesak het. Die laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R30,24/kg vir kalwers en R33,83/kg vir lammers. Die pryse van huide-, merino- en dorpervelle het sywaarts beweeg.

Beesvleis (Bron: RVAV)
Skaapvleis (Bron: RVAV)
Speenkalwers- en lammers (Bron: RPO)
Velle en huide (Bron: RVAV)

Wol- en Sybokhaarmark

Die aanduiderpryse vir beide wol en sybokhaar het gedurende die laaste veiling in Maart teruggesak. Die skoonwolaanduider het tydens die laaste veiling in Maart 12,5% laer verhandel as tydens die vorige veiling en 39,8% laer as ‘n jaar gelede. Die aanduiderprys van sybokhaar het tydens die laaste veiling in Maart 7,7% laer gesluit as tydens die vorige veiling en 8,4% laer as ‘n jaar gelede.

Wolmark (Bron: Cape Wools SA)
Wolmark (Bron: Cape Wools SA)
Sybokhaar (Bron: Sybokhaar SA)
Sybokhaar (Bron: Sybokhaar SA)

Suiwelmark

Die produsenteprysindeks van melk en eiers, sowel as dié vir melkprodukte, het gedurende Februarie gedaal. Die verbruikersprysindeks van melk, eiers en kaas het tydens dieselfde periode gestyg.

Verbruikersprysindeks (Bron: Statistiek SA)
Produsenteprysindeks (Bron: Statistiek SA)

Klik op die skakel om Februarie 2020 se markoorsig te besigtig. – Dr Frikkie Maré, Universiteit van die Vrystaat.