Dr Frikkie Maré, landbou-ekonoom en akademiese hoof van die Departement Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n markoorsig van die vorige maand se landboumarkte. Hierdie is die oorsig vir Mei 2020.

Mieliemark

Die prys van geelmielies het gedurende die eerste helfte van Mei skerp gestyg voor dit weer gedaal het en onder R2500/ton gaan draai het. Die mark het gesluit op R2 532/ton.

Geelmielieprys. (Bron: Statistiek SA)

Ekonomiese aanwysers

Die rand het gedurende Mei veld gewen teenoor die vernaamste geldeenhede. Aan die einde van die maand het dit teen onderskeidelik R17,43 en R19,41 teenoor die dollar en euro verhandel. As gevolg van die COVID-19-pandemie, is Statistiek SA baie agter met die vrystelling van statistieke en daarom is die April-syfers vir verbruikersprysinflasie (VPI) en produsenteprysinflasie (PPI) nog nie beskikbaar nie.

Die prima-uitleenkoers het in Mei met nog 50 basispunte tot 7,25% verlaag, weens die negatiewe invloed van die staat van inperking op die ekonomie. Die ekonomiese groei vir die laaste kwartaal van 2019, voorgestel deur die BBP, het tot -0.5% gedaal op ‘n jaar-tot-jaar grondslag. Kwartaal-op-kwartaal het die ekonomie met 1,4% ingekrimp, wat Suid-Afrika dus in ‘n resessie plaas weens die twee agtereenvolgende kwartale van ekonomiese inkrimping.

Wisselkoers. (Bron: Statistiek SA)
Ekonomiese aanwyser. (Bron: Statistiek SA)
Ekonomiese groei. (Bron: Statistiek SA)

Rooivleismark

Gedurende Mei het die mark vir lam- en skaapkarkasse verstewig. In die geval van beeskarkasse het A-grade se prys effens verbeter, terwyl B- en C-grade redelik verstewig het. Die laaste beskikbare pryse vir beeskarkasse in Mei was R43,74/kg vir A2, R39,74/kg vir B2 en R38,47/kg vir C2. A2, B2 en C2 lam- en skaapkarkasse se laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R81,88/kg, R57,89/kg en R56,87/kg.

Die pryse van beide speenlammers en -kalwers het byna onnatuurlik skerp gestyg gedurende Mei. Die laaste beskikbare pryse was R29,85/kg vir kalwers en R40,50/kg vir lammers. Die prys van huide het sywaarts beweeg, terwyl die pryse van dorper- en merinovelle gedaal het.

Beesvleis. (Bron: RVAV)
Skaapvleis. (Bron: RVAV)
Speenkalwers- en lammers. (Bron: RPO)
Velle en huide. (Bron: RVAV)

Wol- en bokhaarmark

Die vraag na wol en bokhaar is tans laag weens die wêreldwye effek van COVID-19, en dit kan gesien word aan die pryse vir vesel. Die aanduiderprys vir wol het tydens die laaste veiling in Mei met 3,1% verswak teenoor die vorige veiling, terwyl dit 4,2% laer verhandel as ‘n jaar gelede. Die aanduiderprys vir bokhaar het met 8,3% gedaal tydens die veiling in Mei en 15,4% laer verhandel as ‘n jaar gelede.

Wolmark. (Bron: Cape Wools SA)
Wolmark. (Bron: Cape Wools SA)
Sybokhaar (Bron: Sybokhaar SA)
Sybokhaar. (Bron: Sybokhaar SA)

Suiwelmark

Aangesien Statistiek SA nog nie nie die statistiek vir April bekendgemaak het nie, bly die suiwelgrafieke met Maart se data onveranderd.

Verbruikersprysindeks. (Bron: Statistiek SA)
Produsenteprysindeks. (Bron: Statistiek SA)

Klik op die skakel om April 2020 se markoorsig te besigtig. – Dr Frikkie Maré, Universiteit van die Vrystaat.