Landboumarkoorsig vir Mei 2021: Speenlamprys styg skerp

0

Estimated reading time: 5 minutes

Dr Frikkie Maré, landbou-ekonoom en akademiese hoof van die Departement Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n landboumarkoorsig van die vorige maand se markte. Hierdie is die landboumarkoorsig vir Mei 2021.

Mieliemark

Gedurende Mei vanjaar het die prys van geelmielies vir die grootse gedeelte van die maand skerp gedaal en teen ‘n prys van R3 301/ton gesluit.

(Bron: Graan SA)

Ekonomiese aanwysers

Die rand het gedurende Mei sterker teenoor die vernaamste geldeende verhandel en onderskeidelik op R13,72 en R16,77 teenoor die dollar en die euro gesluit. Beide die verbruikersprysindeks (VPI) en die produsenteprysindeks (PPI) het in April tot 4,4% en 6,7% onderskeidelik gestyg. Die prima uitleenkoers is steeds onveranderd op 7%.

Die ekonomiese groei vir die eerste kwartaal van 2021, voorgestel deur die bruto binnelandse produk (BBP), het weereens effens beter vertoon as in die vorige kwartaal, maar die ekonomie was steeds 3,2% kleiner as ‘n jaar gelede (voor die eerste Covid-19-inperking sy tol geëis het).

Die landbousektor se groei was 7,5% jaar op jaar en alhoewel dit gedaal het vanaf die vorige kwartaal, was landbou se groei, persentasiegewys, steeds die hoogste van al die sektore.

Wisselkoers. (Bron: Graan SA)
Ekonomiese groei. (Bron: Statistieke SA)
Ekonomiese aanwysers. (Bron: Statistieke SA)

Rooivleismark

Gedurende Mei was die skaapkarkaspryse wisselvallig, alhoewel dit ‘n opwaartse tendens getoon het. Die lamkarkasprys het skerp gestyg. Die beeskarkasprys was effens wisselvallig, maar A- en B-graad karkasse se pryse het gestyg terwyl die C-grade gedaal het. Volgens die laaste beskikbare pryse vir Mei was die A2-, B2- en C2-skaapkarkasse onderskeidelik R93,16/kg, R72,78/kg en R70,49/kg. Die beeskarkaspryse was R53,00/kg, R48,61/kg en R43,98/kg vir die onderskeie A-, B- en C-grade.

Die prys van speenlammers het die skerp styging in Mei voortgesit, terwyl die prys van kalwers ook gestyg het voordat dit in die laaste week effens afgeneem het. Die laaste beskikbare pryse was R48,16/kg vir speenlammers en R38,21/kg vir speenkalwers.

Die pryse van Dorper- en Merino-velle was baie wisselvallig in Mei, maar het steeds op ‘n hoër prys as in April geëindig. Die prys van huide het egter gedaal.

Skaapvleis. (Bron: RVAV)
Beesvleis. (Bron: RVAV)
Speenkalf en -lam. (Bron: AMT)
Velle en huide. (Bron: RVAV)

Wol- en bokhaarmark

Die wolaanduiderprys het in Mei met 4% teenoor die vorige veiling gedaal, maar 10,5% hoër verhandel as ‘n jaar tevore. Die aanduiderprys van bokhaar het tydens die laaste veiling in Mei met 1,5% vanaf die vorige veiling gestyg en 70,6% hoër as ‘n jaar gelede verhandel.

Wolmark. (Bron: Cape Wools SA)
Wolmark. (Bron: Cape Wools SA)
Bokhaarmark. (Bron: Sybokhaar SA)
Bokhaarmark. (Bron: Sybokhaar SA)

Suiwelmark

Die verbruikers- sowel as die produsenteprysindekse vir melk, eiers en melkprodukte het gedurende Mei gestyg.

Produsenteprysindeks. (Bron: Statistieke SA)
Verbruikersprysindeks (Bron: Statistieke SA)

Lees April 2021 se landboumarkoorsig.Hanel Mans en dr Frikkie Maré, Universiteit van die Vrystaat