Dr Frikkie Maré, landbou-ekonoom en akademiese hoof van die Departement Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n landboumarkoorsig van die vorige maand se markte. Hierdie is die landboumarkoorsig vir Oktober 2020.

Mieliemark

Die prys van geelmielies het gedurende Oktober die opwaartse tendens voortgesit. Die prys het op R3 659/ton gaan draai voor die mark vir die maand op R3 511/ton gesluit het.

Geelmielieprys. (Bron: Statistieke SA)

Ekonomiese aanwysers

Die rand het gedurende Oktober sterker vertoon. Aan die einde van die maand het dit teen onderskeidelik R16,23 en R18,89 teenoor die dollar en euro verhandel. Die verbruikersprysindeks (VPI) en produsenteprysindeks (PPI) het in September op ‘n jaargrondslag onderskeidelik met 3% en 2,5% gestyg.

Die prima uitleenkoers in Oktober het op 7% gebly. Die ekonomiese groei vir die tweede kwartaal van 2020, voorgestel deur die bruto binnelandse produk (BBP), het weer op jaargrondslag met 17,1% gedaal, met die impak van die inperking wat duidelik gesien kan word.

Wisselkoers. (Bron: Statistieke SA)
Ekonomiese aanwysers. (Bron: Statistieke SA)
Ekonomiese groei. (Bron: Statistieke SA)

Rooivleismark

Gedurende Oktober het die prys van A2-lamkarkasse gedaal, terwyl B2- en C2-skaapkarkasse effens verstewig het. In die geval van beeskarkasse het A- en B-grade se pryse gedurende Oktober gestyg.

Die laaste beskikbare pryse vir beeskarkasse in Oktober was R50,07/kg vir A2, R44,50/kg vir B2 en R42,02/kg vir C2. A2-, B2- en C2-lam- en skaapkarkasse se laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R83,38/kg, R69,45/kg en R67,96/kg.

Die pryse van speenlammers en -kalwers het gedurende Oktober gedaal. Die laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R36,83/kg vir kalwers en R41,24/kg vir lammers. Die pryse van Dorper- en Merinovelle het wisselvallig sywaarts beweeg, terwyl die prys van huide ietwat verstewig het.

Beesvleis. (Bron: RVAV)
Skaapvleis. (Bron: RVAV)
Speenkalwers en -lammers. (Bron: RPO)
Velle en huide. (Bron: RVAV)

Wol- en bokhaarmark

Die aanduiderprys vir wol het tydens die laaste veiling in Oktober met 2,2% verswak teenoor die vorige veiling, en 16,6% laer as ‘n jaar gelede verhandel. Die aanduiderprys vir bokhaar het met 5,4% gestyg tydens die laaste veiling in Oktober, en 15,1% hoër as ‘n jaar gelede verhandel.

Wolmark. (Bron: Cape Wools SA)
Wolmark. (Bron: Cape Wools SA)
Bokhaar. (Bron: Cape Wools SA)
Bokhaar. (Bron: Cape Wools SA)

Suiwelmark

Die verbruikersprys van melk, eiers en kaas het effens gestyg in September, terwyl die produsentepryse van melkprodukte en die van melk en eiers gedaal het.

Verbruikersprysindeks. (Bron: Statistiek SA)
Produsenteprysindeks. (Bron: Statistiek SA)

Klik op hierdie skakel om September 2020 se landboumarkoorsig te besigtig. – Dr Frikkie Maré, Universiteit van die Vrystaat