Dr Frikkie Maré, landbou-ekonoom en akademiese hoof van die Departement Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, gee maandeliks ’n landboumarkoorsig van die vorige maand se markte. Hierdie is die landboumarkoorsig vir September 2020.

Mieliemark

Die prys van geelmielies het gedurende September die opwaartse tendens voortgesit. Dit kan aan hoë internasionale pryse en die swak rand toegeskryf word. Die mark het op R3 255/ton gesluit.

Geelmielieprys. (Bron: Statistieke SA)

Ekonomiese aanwysers

Die rand het gedurende September ietwat sterker vertoon as in Augustus, maar bly relatief swak. Aan die einde van die maand het dit teen onderskeidelik R16,61 en R19,50 teenoor die dollar en euro verhandel. 

Die verbruikersprysindeks (VPI) en produsenteprysindeks (PPI) het in Julie met onderskeidelik 3,1% en 2,4% op ’n jaargrondslag gestyg. Die prima uitleenkoers het in September op 7% gebly. Die ekonomiese groei vir die tweede kwartaal van 2020, voorgestel deur die bruto binnelandse produk (BBP), het weer op ’n jaargrondslag met 17,1% gedaal, met die impak van die inperking wat duidelik gesien kan word.

Wisselkoers. (Bron: Statistieke SA)
Ekonomiese aanwysers. (Bron: Statistieke SA)
Ekonomiese groei. (Bron: Statistieke SA)

Rooivleismark

Gedurende September het die prys vir A2-lam- en C2-skaapkarkasse stadig bly styg, terwyl B2-karkasse se prys effens teruggesak het. In die geval van beeskarkasse het A-, B-, en C-grade se pryse in September skerp gestyg.

Die laaste beskikbare pryse vir beeskarkasse in September was R46,94/kg vir A2, R43,15/kg vir B2 en R40,62/kg vir C2. A2-, B2- en C2-lam- en -skaapkarkasse se laaste beskikbare pryse was onderskeidelik R88,51/kg, R67,92/kg en R66,64/kg.

Die pryse van speenlammers en -kalwers het gedurende September skerp gestyg. Die laaste beskikbare pryse was R36,37/kg vir kalwers en R45,28/kg vir lammers. Die pryse van huide en merinovelle het sywaarts beweeg, terwyl die prys van dorpervelle eers verswak en toe weer verstewig het.

Beesvleis. (Bron: RVAV)
Skaapvleis. (Bron: RVAV)
Speenkalwers en -lammers. (Bron: RPO)
Velle en huide. (Bron: RVAV)

Wol- en bokhaarmark

Die natuurlike veselmark het beter gevaar in September, met die aanwysers vir wol en bokhaar wat gestyg het. Die aanwyser vir wol het tydens die laaste veiling in September met 6,2% teenoor die vorige veiling versterk, maar 22,2% laer verhandel as ’n jaar gelede. Die aanwyser vir bokhaar het tydens die laaste veiling in September met 5,9% gestyg en 6,5% hoër verhandel as ’n jaar gelede.

Wolmark. (Bron: Cape Wools SA)
Wolmark. (Bron: Cape Wools SA)
Sybokhaarmark. (Bron: Sybokhaar SA)
Sybokhaarmark. (Bron: Sybokhaar SA)

Suiwelmark

Die verbruikersprys van melk, eiers en kaas het in Augustus effens gestyg, terwyl die produsentepryse van melkprodukte skerp gestyg het en dié van melk en eiers redelik sywaarts beweeg het.  

Verbruikersprysindeks. (Bron: Statistiek SA)
Produsenteprysindeks. (Bron: Statistiek SA)

Klik op hierdie skakel om Augustus 2020 se landboumarkoorsig te besigtig. – Dr Frikkie Maré, Universiteit van die Vrystaat