Ekonomiese stelsels kan breedweg gedefinieer word as òf vrye markte, wat ook as prysstelsels bekend staan, òf bevelstelsels, wat aan die ander kant van die spektrum is. Individuele produsente en verbruikers kan in ’n vryemarkstelsel kies wat, hoeveel en wanneer om goedere te produseer of te verbruik – hul finansiële hulpbronne is die enigste beperking. Dit is die tipe stelsel waarin Suid-Afrikaanse landbouprodusente hulself bevind.

In die geval van ’n bevelstelsel word alle besluite oor die wat, hoe en hoeveel om te produseer deur ’n bepaalde beplanningsagentskap of individu geneem. Beide stelsels het voor- en nadele.

Sommige van die voordele van ’n vryemarkstelsel is dat dit aan verbruikers die vryheid bied om ekonomiese besluite te neem. Dit verseker ook ’n meer doeltreffende toekenning van produksiehulpbronne, aangesien slegs produkte wat in aanvraag is, geproduseer sal word.

Hierdie stelsel waarborg nie ‘n gelyke aandeel vir alle verbruikers wat die “vir wie”-vraag betref nie. Dit lei dan dikwels tot ’n situasie waar die rykes ryker word en die armes armer. Net soos in die geval van ’n vrye mark, sal sommige hulpbronne nie doeltreffend toegeken word nie. Dié hulpbronne sluit in onderwys, openbare gesondheidsorg en dies meer, waarna gewoonlik as openbare goedere verwys word.

In die geval van openbare goedere is ’n bevelstelsel meer doeltreffend om die regverdige verspreiding van goedere en dienste te verseker. Die bevelstelsel het egter ook nadele, soos die verlies van individuele vryheid en die fundamentele ondoeltreffendheid wat met ’n sentrale beplanningsagentskap gepaard gaan. ’n Mens vind gewoonlik in ekonomieë dat die prysstelsel vir algemene markte aanvaar word, terwyl ’n bevelstelsel of selfs ’n gemengde bevel/prysstelsel vir openbare goedere gebruik word.

Wat is ’n mark?

Potensiële verkopers (aanbod) én potensiële kopers (vraag) is nodig vir ’n mark om te bestaan. ’n Duidelike markprys kan eers verkry word as die verkopers en kopers oor ’n prys ooreenstem. Die platform waarop hierdie verkopers en kopers met mekaar skakel, is bekend as die markplek. Die ontwikkeling van tegnologie het meegebring dat markplekke nou virtueel geword het.

Met die fokus spesifiek op die lewendehawebedryf, word veilings beskou as die gerieflikste platform waarop produsente hul lewendehawe kan bemark. Veilings word gewoonlik deur ’n veilingsmaatskappy aangebied en maandeliks, elke twee weke of selfs weekliks gehou, afhangende van die voorraad waaroor die gebied se produsente beskik.

Wanneer hierdie platform gebruik word om lewendehawe te bemark, moet verkopers in gedagte hou dat veilingsmaatskappye gewoonlik kommissie ontvang vir hul dienste en dat dié bedrag afgetrek sal word van die prys wat by die veiling behaal word.

Lewendehawe-agente

Behalwe by veilings, word groot getalle vee ook deur lewendehawe-agente bemark. Dit is waarskynlik die kanaal waardeur teeldiere meer bemark word as by veilings, wat dikwels gebruik word om speenkalwers of vetgemaakte diere wat reg is vir slag te verkoop. Produsente met diere wat gereed is vir verhandeling, kontak die agent en verskaf inligting oor die diere wat beskikbaar is, sowel as die betrokke verkoopprys.

Potensiële kopers kontak die agent om navraag te doen oor die beskikbaarheid van die lewendehawe wat hulle wil aankoop. Wanneer diere deur ’n agent gekoop word, moet die verkoper weereens kommissie aan die agent betaal.

Aanlynbemarking

Tegnologiese vooruitgang het meegebring dat virtuele bemarkingstrategieë aangepas is – potensiële kopers kan byvoorbeeld nou ’n webtuiste besoek en soekfilters gebruik om die soort lewendehawe wat hulle wil hê, te identifiseer. Algemene aanlynbemarkingsplatforms wat alle soorte goedere verkoop, is aanvanklik vir dié doel gebruik, maar webtuistes wat uitsluitlik vir lewendehawe en landbou gebruik word, is die afgelope jare geskep.

Etlike selfoontoepassings is ook vir hierdie doel geskep. Dié toepassings maak dit maklik vir verkopers en kopers om lewendehawe aanlyn te besigtig en oor hul beskikbaarheid navraag te doen sonder om ‘n enkele telefoonoproep te maak.

Toerusting vir risikobestuur

Die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE) en sy South African Futures Exchange (Safex)-filiaal voorsien aan rolspelers in die lewendehawebedryf toerusting vir risikobestuur, soos beesvleiskarkaskontrakte, lamkarkaskontrakte en Merino-wolkontrakte.

Die beesvleis- en lamkontrakte word in vennootskap met die Rooivleis Abattoirvereniging (RVAV) bedryf en kontrakte word in kontant vereffen. Die Merino-wolkontrakte word ook in kontant vereffen en word deur ’n vennootskap tussen die JSE en Cape Wools SA aan produsente beskikbaar gestel.

’n Karkaskontrak vir beide beesvleis en lam bestaan uit 1 000kg verkoelde Klas A2/3-karkasse, terwyl ’n wolkontrak ’n gewig van 100kg vir skoonwol en 150kg vir vetwol het. Produsente moet in gedagte hou dat hierdie kontrakte nie daarop gemik is om groter winste te maak nie, maar eerder as toerusting gebruik moet word om hulself teen onvoorspelbare prysbewegings in die lewendehawebedryf te beskerm.

Regsaspekte van agente

Suid-Afrika het wetgewing in plek wat bepaal hoe varsprodukte-, uitvoer- en lewendehawe-agente hul besigheid moet bedryf. Wetgewing wat hierdie agente reguleer, is vervat in die Wet op Landbouprodukte-agente, 1992 (Wet 12 van 1992) en die Wysigingswet op Landbouprodukte-agente, 2003 (Wet 47 van 2003).

Lewendehawe-agente kan op ’n vrywillige basis by die Suid-Afrikaanse Federasie van Lewendehawe-agente (SAFLA) registreer of alternatiewelik die Landbouprodukte-agenteraad (APAC) se webtuiste, www.apacweb.org.za, besoek vir meer inligting oor die registrasieproses van agente.

Beide lewendehawe-verkopers en -kopers kan dié webtuiste besoek om te bepaal of die lewendehawe-agent wat hulle wil gebruik, by die toepaslike owerhede geregistreer is. Diegene wat van ’n geregistreerde lewendehawe-agent gebruik maak, sal groter gemoedsrus hê dat betaling vir verkoopte diere ontvang sal word of dat diere waarvoor betaal is, ontvang sal word.

Verhoogde markkrag

Die meeste landbouprodukte kan as kommoditeite gesien word. Dit impliseer dat die produsent ’n prysnemer is en dat sy gewilligheid om te verkoop van die huidige markprys, sowel as die vraag na die produk, afhang.

Produsente wat hul markkrag wil verhoog sodat hulle vir ’n hoër prys vir hul produkte kan onderhandel, kan gesamentlike onderhandeling oorweeg. Dit sal ’n groep (in plaas van individue) in staat stel om vir ’n hoër prys te onderhandel deur ’n groter hoeveelheid geproduseerde goedere aan die koper te verskaf.

Die groep kan aan die koopkant onderhandel vir laer pryse vir insette wanneer hulle groter hoeveelhede insette koop. Indien dit suksesvol gedoen kan word, kan produsente ’n groter wins behaal danksy laer insetkoste en hoër pryse vir hul produkte.

Gebruik van handelsmerke

Produsente wat ’n premie op hul produkte wil verdien, kan dit oorweeg om ’n handelsmerk op hul produkte te plaas. Dit sal verbruikers in staat stel om die handelsmerk met ’n sekere gehaltestandaard te assosieer. Wanneer verbruikers tevrede is met die gehalte van die handelsmerk, sal hulle boonop met groter gemoedsrus ’n hoër prys daarvoor betaal.

Die verantwoordelikheid om geregistreerde merke wat gehalte aandui te oudit, is in die rooivleisbedryf aan die South African Meat Industry Company (Samic) toevertrou. Hierdie oudits word op plase en by abattoirs, voerkrale, ontbeningsaanlegte en afsetpunte gedoen.

Elkeen van hierdie merke wat gehalte aandui, word gesien as ’n manier om ’n handelsmerk op rooivleis te plaas en het sy eie stel spesifikasies waarvolgens die produk geproduseer moet word voordat die merk daarop vertoon kan word. Individue wat meer oor die bestaande merke en hul spesifikasies wil uitvind, kan Samic se webtuiste by www.samic.co.za besoek.

Voorsiening vir nismarkte

’n Gonswoord in moderne bemarking is nismarkte. Om vir ’n nismark voorsiening te maak, beteken dat ’n mens ’n klein mark geïdentifiseer het wat spesifieke vereistes het vir die produk wat dit vereis. Die verbruikers in hierdie mark is gewillig om ’n premie vir dié produk te betaal. Hierdie markte bestaan gewoonlik onder ryk verbruikers en verbruikers wat spesifieke dieet- of godsdienstige vereistes het.

Produsente in die landbousektor sal prysnemers bly vir so lank as wat hulle aanhou om kommoditeite te produseer. Hulle kan as ’n alternatief eerder daarna streef om gedifferensieerde of handelsmerkprodukte te produseer.

Indien ’n produsent slegs die meerderheid van die oes as kommoditeite eerder as produkte kan verkoop, moet ’n poging aangewend word om ten minste ’n gedeelte van die produkte in ’n mark met ’n hoër verdienste te verkoop. Dit sal potensieel ’n groter wins genereer op die deel van die oes wat teen ’n hoër waarde verkoop word. –WA Lombard, Universiteit van die Vrystaat

Vir meer inligting of verwysings, stuur ’n epos aan LombardWA@ufs.ac.za.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here