Landboumarkvooruitsigte met prof Johan Willemse

90
Prof Johan Willemse (middel) het weer onlangs 'n landboumarkvooruitsigte-werkswinkel gehou. Saam met hom op die foto is Dirk van Rensburg, 'n boer en Gawie van Heerden van Konsortium Merino.

Boere moet kyk na hulle prestasiegapings. Dit was waarmee prof Johan Willemse sy jaarlikse markwerkswinkel afgeskop het op 1 November. Willemse meen as jy aanhou om niks te doen nie en die heeltyd negatief is, jy definitief verkeerde besluite gaan neem. Dit is dus belangrik om jou doelwitte te bepaal en na die volhoubaarheid van jou boerdery te kyk.

SA dalk in skuldstrik vasgevang

Die nuuste beraming vir ekonomiese groei is 0,5% vir 2019, terwyl daar sprake is van ‘n wêreldressessie. Met die invloei van buitelandse kapitaal wat verminder het en staatsuitgawes wat meer is as die inkomste, mag Suid-Afrika homself dalk in ‘n skuldstrik bevind. Rentekoerse staan tans op 8,3% en die verwagting is dat die dollar teen ongeveer R15 tot 16 sal verhandel.

Normale reënjaar verwag

Daar word ‘n normale reënjaar verwag, alhoewel verwagtinge later as normaal is. Met ‘n normale reënjaar behoort die mielielewering vir 2020 meer te wees as dié van 2019. Dit sal meebring dat die mielieprys in 2020 sal daal, wat voerpryse vir die volgende seisoen goedkoper sal maak. Mielieboere word dus aangeraai om te verskans teen dalings.

Al hierdie scenarios is egter onderhewe aan die verwagte reën wat die volgende vier tot ses weke moet val. ‘n Kleiner koringoes kan vir volgende jaar verwag word, en sal nie ‘n groot verandering in die prys meebring nie. Die sojaboonmark is tans redelik onstabiel. Die handelsoorlog tussen China en Amerika asook Afrika-varkpes wat Asië getref het, verlaag tans die vraag na sojabone.

Gassprekers deel waardevolle inligting

Gawie van Heerden van Konsortium Merino het as gasspreker oor die belangrikheid van wolbemarking gepraat, en ook verwys na Konsortium Merino se kettingbestuursproses om hul wol by die eindverbruiker te kry.

Estelle van Reenen van Sparta Beef het as gasspreker oor die beesbedryf gesels. Volgens haas gaan die invoer van beeste vanaf Botswana moeiliker plaasvind as dié vanuit Namibië. Sy het gesê dat dié land beesvleis moet uitvoer en dat naspeurbaarheid ‘n belangrike rol daarin gaan speel. Ongelukkig is die departement van landbou se mannekrag baie beperk. Die spesifikasies van die uitvoermark sal moeilik haalbaar wees en droogte kan ‘n invloed op die beskikbaarheid van kalwers hê.  

Indien dit ‘n normale jaar is, sal die beesvleispryse nie baie verander nie. Die probleem lê steeds by die vraag na beesvleis in Suid-Afrika. Die algemene verbruiker kan nie beesvleis bekostig nie en dus moet voerkrale na alternatiewe verbruikers soek in die vorm van ‘n uitvoermark. – Mario van den Heever en Chéri-Lynn Steyn, Universiteit van die Vrystaat