Daar bestaan ‘n Wêreldhandelsorganisasie-ooreenkoms (WTO) met die uitsluitlike doel om mense, diere en plante te beskerm teen die risiko’s wat gepaardgaan met invoer en uitvoer. Hierdie ooreenkoms, die Ooreenkoms oor die toepassing van sanitêre en fitosanitêre maatreëls, het spesifiek betrekking op voedselveiligheid en dieregesondheid.

Ooreenkomste soos hierdie word op ‘n lid-tot-lid basis hanteer. Hierdie voorsiening kom basies daarop neer dat dispute op ‘n regering-tot-regeringsbasis onderhandel en opgelos word. Juis daarom kan ‘n mens verstaan hoe persone wat in die landbou betrokke is, maar nie direk by in- en uitvoer nie, aanneem dat die ooreenkoms abstrak is en nie direk op hulle van toepassing is nie. Hierdie aanname is egter nie korrek nie.

Al is die ooreenkoms primêr geskoei op die toepassing van sanitêre en fitosanitêre maatreëls (SPS-maatreëls), wat impliseer dat regerings die belangrikste rol vertolk, is dit nie heeltemal waar nie. Maatreëls sluit wetgewing en regulasies in. Uiteindelik is die sukses van die ooreenkoms afhanklik van alle rolspelers in die produksieketting voor die uiteindelike invoer- of uitvoeraksie. Selfs rolspelers wat hulself nie sien as primêr betrokke by in- en uitvoer nie, het ‘n aandeel in die suksesvolle toepassing van die ooreenkoms. Produsente speel ‘n kern rol in die sukses of ondergang van die ooreenkoms.

Die rol van die landbouprodusent

Kom ons begin by die produksieketting en neem lewendehawe as voorbeeld. Enige boer wat met skape, bokke of beeste boer, weet dat voer ’n invloed het op die groei, teling en produksie van lewendehawe. Wat vee vreet is net so belangrik soos die eindprodukte waarvoor hulle ingespan word. Die gehalte en die veiligheid van die eindproduk word direk beïnvloed deur veevoer. Die medikasie en antibiotika wat hulle ontvang, affekteer ook die eindproduk.

Dit gebeur algemeen dat veeboere met ander boere handel dryf in die vorm van veilings, direkte verkope en ander tipes transaksies waarin daar bv. ’n stoetbul aan ‘n ander stoetteler verkoop word. In die geval van stoetteling word semen en ova ook verkoop, soms oor landsgrense heen. Verse word by veilings gekoop om kuddes uit te brei en vee word aan voerkrale en abattoirs verkoop. Vandaar word die vleis verpak en vir menslike gebruik verkoop. Hierdie eindprodukte word dan óf plaaslik verkoop óf uitgevoer. Die huide en velle word aan looierye verkoop, ook vir plaaslike gebruik of uitvoer.

Nog ’n realiteit van veeboerdery is dat diere van plase ‘ontsnap’. Hekke word soms oopgelos of heinings word beskadig en bied uitkomkans. Diere wat by veilings of direk aangekoop word, word dikwels oor groot afstande in relatief kort tydperke vervoer. Lewende diere word ook verkoop aan mense buite Suid-Afrika, wat beteken hulle word uitgevoer na nuwe geografiese gebiede. Daar is ook gevalle waar lewendehawe en diereprodukte ingevoer word na Suid-Afrika toe.

SPS-maatreëls en risiko

Elk van die bogenoemde voorbeelde betrek op een of ander manier SPS-maatreëls wat ten doel het om voedselveiligheid en dieregesondheid te verseker. Boere tree wetend of onwetend daagliks in wisselwerking met hierdie maatreëls op. Die voorbeelde hierbo is SPS-verwante situasies wat deur plaaslike SPS-verwante maatreëls gereguleer word. Hierdie SPS-maatreëls word voorgeskryf in regulasies en wette wat deur die regering van die land gepromulgeer word.

In die situasies wat geskets is, bestaan ’n aantal scenario’s waarin risiko’s met betrekking tot voedselveiligheid en dieregesondheid kan ontstaan. In die wêreld van internasionale handelsreg, bestaan daar ’n aantal internasionale standaardbepalingsliggame wat die riglyne vir voedselveiligheid en dieregesondheid vasstel. Wat die spesifieke ooreenkoms wat in hierdie artikel bespreek word betref, is daar drie liggame betrokke. In die voorbeelde hierbo, word op twee van die drie gefokus. Hulle is die OIE (Wêrelddieregesondheidsorganisasie) en die CODEX Alimentarius-kommissie (vir voedselveiligheid).

Beperkings en risiko’s

Die OIE lys aanmeldbare siektes. Aanmeldbaarheid moet op twee vlakke verstaan word: Eerstens rapporteer boere aan hul regerings wanneer aanmeldbare siektes uitbreek en tweedens rapporteer nasionale regerings aan die OIE indien aanmeldbare siektes uitbreek. In 2019 het die OIE-lys 117 aanmeldbare siektes ingesluit. Dit behels ook siektes wat waterdiere kan kry.

Die lys is verdeel in kategorieë en wat die voorbeelde vroeër genoem betref, is die volgende kategorieë van belang:

  • Siektes, infeksies en parasietbesmettings wat oor ‘n aantal spesies strek, soos Brucella, bek-en-klouseer en hondsdolheid.
  • Veesiektes en -infeksies, soos knopvelsiekte.
  • Skaap- en boksiektes en -infeksies, soos infeksies via die peste des petits ruminants-virus.
  • Varksiektes en -infeksies, soos Afrika-varkpes.

Volgens die Ooreenkoms oor die toepassing van sanitêre en fitosanitêre maatreëls mag invoerlande regmatig ‘n verbod plaas op die invoer van produkte wat ‘n risiko inhou vir die gesondheid van mense, plante en diere. Risiko’s sluit onder andere siekteveroorsakende of siektedraende organismes, siektes, kontaminante, peste en indringerspesies in. Sommige beperkings is dus toelaatbaar. Wanneer, hoe lank en in terme van watter produkte die beperkings geld, is egter altyd ‘n uitdaging.

’n Voorbeeld van ‘n beperking is dat jy slegs ‘n produk mag invoer as jy ‘n sertifikaat het wat bevestig dat ’n proses gevolg is om die produk se veiligheid te waarborg. ’n Verbod beteken dat geen invoer, selfs met ’n permit, toegelaat word nie. Dit mag nie arbitrêr wees, diskrimineer of gebruik word as verborge handelsbeperkings nie.

Komplikasies

Die basiese reëls wat uiteengesit word in die WTO-ooreenkoms vereis dat hierdie tipe beperkings gebaseer is op wetenskap. ’n Voorbeeld van ’n verborge handelsbeperking is waar ’n land sy tariewe-en-teenstortingsbelasting as ‘n roete uitgeput het om ‘n bedryf wat finansieel swaar kry, te red, en dan onwetenskaplike gesondheidsbekommernisse opper as ’n rede om nie goedere in te voer nie. Hierdie ongeoorloofde gebruik deur handelsvennote staan bekend as ‘protectionism’. Dis as gevolg hiervan dat die SPS-ooreenkoms en die mate waartoe beperkings geld of nie geld nie, bestaan.

Beginsels soos harmonisering en konsekwentheid lei tot verdere komplikasies. Kortliks beteken dit dat ’n verbod rasioneel moet wees en vir alle lande ewe toepaslik moet wees. Indien dieselfde siekte bv. in ‘n land soortgelyk as Suid-Afrika en onder dieselfde omstandighede sou uitbreek, moet dieselfde beperkings geld. Wetenskap moet dien as riglyn vir die implementering van ’n verbod, die deurvoer daarvan en die ophef daarvan.

Rol van die produsent

Die lyn tussen beskerming en oorbeskerming (‘protectionism’) lê hier. Markregulering word uiteindelik deur regerings onderhandel en die OIE word deel van die gesprek om dieregesondheid te reguleer. Die OIE voorsien standaarde en riglyne. Die riglyne spesifiseer hoe om siektes vroeg op te spoor, dit aan te meld, by die relevante partye aan te gee, siektes en patogene te beheer of uit te wis, en verdere verspreiding te verhoed. Dit is hier waar die boer as sleutelrolspeler ’n kernrol begin speel.

Sonder samewerking deur verskillende tipes produsente (gemengde saaiboerdery met ’n veevertakking, boere wat met ’n enkelspesie boer of met verskillende spesies en so aan) en groottes produsente, is die vooruitsig om siektevrye status te bereik uiters beperk. Boere se sleutelrol lê onder andere in die rapportering van aanmeldbare siektes en die bekendmaking van waar en tot watter mate antibiotika gebruik is voordat hul lewendehawe geslag is. Boere is ook verantwoordelik vir die behoorlike verskuiwing van diere tydens siekte-uitbrekings. Om heinings heel te hou en diere reg te merk, is ook deel van hul rol.

Samewerking is kardinaal

Uiteindelik is ’n boer nie altyd bewus van wat van die dier word wanneer hy dit verkoop by ’n veiling of aan ’n voerkraal nie. Hy weet nie altyd of die vleis geoormerk word vir menslike gebruik of internasionale uitvoer nie. Die boer se invloed op in- en uitvoere word egter nie minder as hy nie direk daarby betrokke is nie.

Die siektevrye status van die OIE-gelyste siektes word bepaal deur na ’n land as geheel te kyk. Al is kompartementalisering en sonering moontlik, is dit ingewikkeld om so ‘n stelsel te implementeer en in stand te hou. Die ideaal is natuurlik dat alle boere saamwerk om vroeë opsporing, inperking tydens uitbrekings, akkurate rapportering, en uitwissing van siektes te verseker ten einde nie onderworpe te wees aan ’n verbod nie.

Die internasionale handelsreg verseker dat die speelveld so regverdig as moontlik gehou word. Indien nodig het regerings die opsie om hul lande te beskerm teen siektes en dies meer. Hierdie ideaal kan slegs bereik word indien nasionale wetgewing en riglyne gevolg word. So word ook aan handelsvennote bewys dat landbouprodukte minimale risiko inhou vir hul ewe kwesbare, siektevrye status. Die teenoorgestelde geld natuurlik ook: Suid-Afrika het dieselfde regte en verpligtinge, soos enige WTO-lid. – Biandri Joubert

Die Afrikaanse vertaling van hierdie artikel is behartig deur Benito Trollip. Verwysings is beskikbaar van die outeur by die epos-adres aan die einde van hierdie artikel verskaf.

Biandri Joubert is ‘n doktorale navorser aan die regsfakulteit van die Noordwes-Universiteit. Sy fokus op die ontleding van nie-tariefhandelsbeperkings in internasionale handel wat deur verskillende rolspelers ervaar word in die invoer- en uitvoerketting in Suider-Afrika. Sy fokus spesifiek op rolspelers wat werk met lewendehawe en veeprodukte.

Biandri stel belang in hoe beperkings op ‘n praktiese vlak werk en hoe rolspelers in die ketting dit ervaar. Sy stel belang in die uitdagings wat bestaan, asook spesifieke voorbeelde van beperkings en persepsies rakende die rol van nasionale en internasionale wetgewing in die fasilitering van handel. Jy word hartlik uitgenooi om aan haar studie deel te neem deur op een of al drie onderstaande vrae te reageer, of om op bogenoemde artikel te reageer.

Vrae:

1. Wat beskou jy as boer/voerkraal/abattoir/verwerker/ander bedryfsbelanghebbende, as beperkings op jou deelname in invoer- of uitvoeraktiwiteite?

2. Wanneer jy gekonfronteer word met ‘n uitdaging of wat jy ervaar as ‘n onregmatige dieregesondheidsbeperking wat jou invoer of uitvoer van diere of hul produkte verhoed/beperk/vertraag, wat is die proses wat jy volg om die uitdaging of dispuut op te los?

3. Watter beperkings of uitdagings voorsien jy vir die toekoms met betrekking tot die in- of uitvoer van lewendehawe of diereprodukte?

Stuur gerus antwoorde en enige kommentaar voortvloeiend uit bogenoemde vrae na biandrijoubert@gmail.com of WhatsApp +27 83 465 1513 gedurende kantoorure voor 31 Maart 2020. Persoonlike besonderhede van deelnemers is streng vertroulik en die uiteindelike proefskrif sal beskikbaar wees sodra dit ingehandig en afgehandel word in 2020.