Landbouskool Hendrik Potgieter op Reddersburg het vroeg in 2017 hul eerste Dexters deur die Veeplaas Skole-stoetveeprojek ontvang en so is die Veeplaas Landbouskool Hendrik Potgieter Dexter-stoet gebore. Die diere in die kudde is almal deur telers van die Dexter-beestelersgenootskap geskenk.

Hendrik van der Westhuizen, president van die Dexter-beestelersgenootskap, sê hulle is besonder trots op die hantering, teling en vooruitgang van Landbouskool Hendrik Potgieter se Dexter-stoet. “Hul deelname aan Dexter-geleenthede, skoue en vleisbeeskompetisies is ’n bewys van die leerlinge en personeellede se toegewydheid aan die projek.

“Die projek, wat ten doel het om Dexters aan die jeug bekend te stel, is ’n reuse-sukses. Die beeste is in ’n puik kondisie en die leerlinge presteer uitstekend op skoue en in kompetisies, waarvan die Vrystaatse Sentrale Kampioenskap in Bloemfontein en die Fees@lanties sprekende voorbeelde is.”

Volgens Christi Swarts, skoolhoof van Landbouskool Hendrik Potgieter, is die deelname aan skoue hoofsaaklik onderrig-gebaseer.

Vrystaatse Sentrale Kampioenskap

Die skool het tydens vanjaar se Vrystaatse Sentrale Kampioenskap op die Bloemskou vir die tweede keer aan die Vrystaat Dexter-klub se kampioenskap deelgeneem en goeie resultate behaal. Van die skool se prestasies sluit in:

  • Wenner van die Kleinhoefies-wisseltrofee vir beste klein kudde met een tot tien diere op die skou, manlik en vroulik.
  • VHP Hendrik, die skool se eerste kalf, het ’n derde plek behaal in die ses tot nege maande bulafdeling.
  • Die koei Zandu Ella het ’n sesde plek behaal in die droë koei-afdeling.
  • Twee leerlinge wat aan die jeugskou deelgeneem het, Daniel Lombaard en Miela Giebson, het onderskeidelik ’n eerste en tweede plek behaal.
 Fees@lanties

Die jaarlikse Fees@lanties van Landbouskool Hendrik Potgieter het vanjaar op 11 en 12 Mei plaasgevind. Die fees het as een van die Vrystaatse Jeugskou se rondtes gedien en behalwe vir die skool se eie leerlinge met hul Dexters, het leerlinge van die Hoërskool Kroonstad (die Blouskool) en Unicom Sekondêre Landbouskool by Tweespruit ook hul staal kom wys.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here