Landbouskrywers SA gee erkenning aan landbou-boffins

528
Van links na regs staan Gert Bezuidenhout van Sanlam, Dirk Louw, bestuurder van Silver Moon Investments, Liza Bohlmann, nasionale voorsitter van Landbouskrywers SA en Niel Esterhuyse van Santam Landbou. (Foto: Helenus Kruger van Landbouskrywers SA)

Van Suid-Afrika se voorste bydraers tot die landboubedryf is onlangs deur Landbouskrywers SA vereer. The geleentheid, wat geborg is deur Bayer, Rovic Leers, Santam Landbou en Sanlam, gee erkenning aan die werk van diegene wat poog om voedselsekerheid en landelike ekonomieë te ondersteun.

Nick Serfontein van die Vrystaat is aangewys as Landbouskrywers SA se Boer van die Jaar, Buks Nel van die Wes-Kaap is die Landboukundige van die Jaar en Dirk Louw van die Noord-Kaap het die toekenning ontvang vir Nuwe Toetreder tot Kommersiële Landbou van die Jaar.

Die helde van landbou

Liza Bohlmann, nasionale voorsitter van die vereniging, het tydens die glansgeleentheid op 15 November in Pretoria waar die wenners aangewys is, gesê sonder ’n florerende landboubedryf wat ’n integrale deel van ons ekonomie vorm sou ons nie as ’n samelewing of ’n land met beleggingswaarde kon funksioneer nie.

“Vanaand is egter meer as bloot net ’n viering van uitnemendheid. Dit erken ook die belangrike rol wat landbou in elke mens se lewe vervul. Ons oorlewing as ’n spesie hang af van die kundigheid, durf en vasberadenheid van ons groot en klein boere sowel as hulle plaaswerkers om in die bedryf te bly en dit suksesvol te vermag.

“Ons erken ook die rol van die mans en dames wat genomineer is as landboukundiges van die jaar. Met hulle ondersteuning kan die stryd om oorlewing voortgaan.

“Dit is ons lede se voorreg om verslag te kan doen oor die helde van landbou.”

Die wenners

Nick Serfontein – Landbouskrywers SA Boer van die Jaar 2019

Nick Serfontein is die voorsitter van die Sernick-groep, ’n diverse landbou-onderneming wat die hele waardeketting van hulle produkte besit, van die plaashek tot op die vebruikers se bord. Die Sernick-groep se sake-afdelings is in Edenville en Kroonstad in die Vrystaat, en die onderneming bestaan onder meer uit ’n Bonsmara-stoetery, ’n voerfabriek, ’n voerkraal en ontbeningsfasiliteit met hul abattoir en deli wat op Kroonstad bedryf word.

Van links na regs is Albert Coetzee van Rovic Leers, Nick Serfontein, voorsitter van die Sernick-groep en Liza Bohlmann, nasionale voorsitter van Landbouskrywers SA. (Foto: Helenus Kruger van Landbouskrywers SA)

Die groep verskaf werk aan 615 mense en die ekonomiese impak van hulle bedrywighede word op sowat R2,37 miljard per jaar geskat. Serfontein het ook op president Cyril Ramaphosa se adviespaneel vir grondhervorming gedien.

Dirk Louw – Landbouskrywers SA Nuwe Toetreder tot Kommersiële Landbou 2019

Dirk Louw bedryf sy boerdery-onderneming, Silver Moon Investments, in die Groblershoop-distrik. Hy is verlede jaar as Raisins SA se Opkomende Boer van die Jaar aangewys.

Louw boer tans op 68ha, waarvan hy 21ha huur. Dit bestaan uit 30ha droogdruifwingerd, een hektaar wyndruifwingerd, 24ha pekanneutbome en 14ha wisselbougewasse. Hy hou ook Dorpers en Meatmasters aan. Rosyne is die sterkste vertakking van die boerdery, en Louw het vanjaar ’n rekordoes van meer as 200 ton gehad. Die meeste daarvan word na die Midde-Ooste uitgevoer.

Buks Nel – Landbouskrywers SA Landboukundige van die Jaar 2019

Hoewel Buks ’n bedryfs- en internasionaal erkende kundige van geïntegreerde pesbeheer is, het hy hom toegespits op die ontwikkeling van nuwe en verbeterde kultivars by Tru-Cape.

Hy is tans die nuwe variëteitspesialis by Tru-Cape, waar hy sedert die maatskappy se stigting in 2001 werksaam is.

Na baie jare se loop deur boorde het Buks ook die planttelingsregte vir die verbeterde Gala-, Fuji-, Bigbucks- en Fuji Royal-appelvariëteite ontvang.

Te midde van sy strewe na dit wat nuut is, het hy ook ’n reuse-bydrae gemaak om ou appel- en peervariëteite te behou. Hy (en sy kollega Henk Griessel) het onder meer gehelp om die eerste appel wat in die Kaap gepluk is, te vind.

Media toekennings

Lede van Landbouskrywers SA is ook tydens die geleentheid vereer vir hulle rol en bydrae om kwessies en sake van belang aan die landbousektor te kommunikeer.

Die wenners in die onderskeie kompetisies is:

CropLife SA Gewasbeskermingsartikel-toekenning:

Lloyd Philips

FNB Kommunikeerder van die Jaar-toekenning:

1. Werner Scholtz

2. Lloyd Philips

3. Charl van Rooyen

BKB-fotokompetisie:

Landboufotograaf van die Jaar: Charl van Rooyen

Landboufoto van die Jaar: Johan Norval

Bayer tegniese artikel-toekenning:

1. Petru Fourie

2. Lindi Botha

3. Ursula Human

Santam Landbou Boer van die Jaar beste blootstelling-toekenning:

Johan van der Merwe

Persverklaring, Landbouskrywers SA