Hierdie rewolusie behels ’n 21ste eeuse vermenging van fisiese, digitale en biologiese domeine wat voorbou op die digitale rewolusie van die afgelope eeu. Dit beteken reuse-verandering vir die landbou en al sy waardekettings.

Nes vorige nywerheidsrewolusies, bied die vierde een nuwe uitdagings en geleenthede. Vir die landbou beteken dit verandering regdeur die waardeketting, van produksie tot verwerking. “Dit geskied deur middel van verbeterde prosesse, verhoogde produktiwiteit en verlaagde koste,” sê Nico Groenewald van Standard Bank Agribesigheid.

Landbou se rol in die ekonomie

“Dit is ongetwyfeld so dat die toenemende gebruik van tegnologie op die land en in die veld begin. Dit bied heelwat geleentheid om ons landboubasis en die verwerkers wat dit ondersteun, uit te brei. Die landbouverwerkingsektor is reeds die grootste werkgewer binne die land se vervaardigingsektor en kan, indien ons op die uitdagings van hierdie rewolusie sou kapitaliseer, sy posisie in die plaaslike ekonomie nog verder versterk.”

Volgens die Departement van Handel en Nywerheid was die landbouverwerkingsektor se bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP) in 2016 ’n totaal van 32,2% en 4,4% in die vervaardigingsbedryf en die ekonomie onderskeidelik. Die landbousektor se bydrae tot die werklike uitset van die vervaardigingsektor en die ekonomie was 31,6% en 7,7% onderskeidelik.

Die uitvoer van verwerkte landbouprodukte relatief tot die vervaardigingsektor, was 19,1%. Sy aandeel in uitvoere regoor die totale ekonomie was 10,9%. Totale invoere in verhouding tot die vervaardigingsektor en die ekonomie was 18,2% en 9,7% onderskeidelik.

Rol van tegnologie

’n Paar van die jongste ontwikkelinge in tegnologie en biotegnologie is reeds besig om voedselproduksie en die doeltreffendheid van landbouverwerking te transformeer:

  • Die gebruik van hommeltuie in die beginstadium van gewassiklusse om akkurate 3-D-kaarte te genereer met die oog op vroeë grondanalises en saaipatrone, gewasbespuiting en gewasmonitering.
  • Die gebruik van data en analitiese middele om “slim” gereedskap daar te stel wat opbrengste en gewasgehalte kan help verbeter, omset kan verhoog en selfs waterverbruik en kweekhuisgasse kan verlaag.
  • Die gebruik van analitiese toepassings (soos wolkdataverwerking) vir die stoor van data wat met grondgehalte, stikstofvlakke en ander operasionele aspekte verband hou.
  • Die toekomstige gebruik van nanotegnologie wat manipulasie op atomiese, molekulêre en supra-molekulêre vlak betref. Dit is bv. nano-poreuse zeoliete wat die stadige vrystelling van water en kunsmis vir plante, en van voedingstowwe en medikasie vir vee, moontlik maak.

In Afrika is daar pasmaak-tegnologieë wat reeds suksesvol ingespan word:

  • Wetenskaplikes in Nigerië het ’n pesbestande swartbekboon ontwikkel as teenvoeter vir peste wat jaarliks gewasse ter waarde van sowat 300 miljoen Amerikaanse dollar vernietig.
  • Die ontwikkeling van die sogenaamde “Farm Shop” mobiele tegnologie wat inwoners in Kenia se landelike en swak bediende gebiede, in aanraking bring met ’n netwerk van Keniaanse landbouhandelaars om aankope, voorraadlyste en prysvergelykings moontlik te maak.
  • Die sogenaamde “iCow”-toepassing, ’n landbou-inligtingsdiens gemik op die verbetering van koeie se produktiwiteit. Dit bied bv. inligting vir die voorkoming en behandeling van siektes deurdat inligting van elke koei nagespeur en bygehou word.
  • Esoko is ’n toepassing wat reeds in tien Afrika-lande gebruik word om landelike boere te help met die identifisering van markte vir hul produkte.

Wat van werkskepping?

“Een van die groot uitdagings vir ons plaaslike landbou- en landbouverwerkingsektor is die potensiële negatiewe impak wat tegnologie op werksgeleenthede kan hê. Volgens alle aanduidings het die behoefte aan werkers met laer-vlak vaardighede gedaal. Die owerhede meen egter dat die relatiewe aandeel van klein en medium landbouverwerkers teenoor indiensnemingsyfers, hoër is as hulle aandeel in die totale inkomste van die bedryf. Hierdie besighede bied geleentheid vir die skep van volhoubare werk tesame met die gebruik van tegnologie om inkomste te verhoog.”

Daar is ’n paar hindernisse wat klein- en mediumgrootte landbouverwerkers verhoed om die hoofstroom-ekonomie te betree. Dit sluit in groot na-oes verliese, ’n tekort aan toepaslike verwerkingstegnologieë wat nodig is om ’n besigheid van die grond af te kry, nie-voldoening aan landbouverwerkingsnorme, standaarde en regulasies, asook onkonsekwente beskikbaarheid van roumateriaalvoorrade.

“Dan is daar ook nog die uitdaging van ekonomie van skaal, die hoë kapitaalvereistes wat met verwerking gepaard gaan en kompetisie vanaf groot gevestigde handelsmerke,” sê Groenewald. “Die Suid-Afrikaanse landbouverwerkingslandskap word gekenmerk deur groot maatskappye wat vertikaal geïntegreer is met hul waardekettings, soos die pluimveesektor. ’n Klein rolspeler wat hierdie waardeketting wil betree, sal tipies eers herhaalde produksiesiklusse moet voltooi voordat enige wins getoon word – en dit terwyl daar met gevestigde rolspelers meegeding word.”

Daar is egter lig in die tonnel – soos die vierde nywerheidsrewolusie meer momentum kry, sal gesonde mededinging goedkoper en eenvoudiger tegnologieë meebring. Dit sal weer geleentheid aan kleiner rolspelers bied om hulle uitsette te verbeter en hulle regmatige plek in die landbouverwerkingsketting in te neem.

Vir meer inligting, skakel 011 721 9089, stuur ’n epos aan SBSA.agricultural@standardbank.co.za of besoek die webtuiste www.standardbank.co.za/business.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here