Hierdie artikel is die tweede in ’n reeks van drie artikels wat op verskillende aspekte rondom landelike veiligheid fokus. In die vorige artikel is daar na landelike misdaadsyfers en tendense gekyk. Dié maand verskuif die fokus na wetgewing en beleidsaspekte wat van toepassing is op landelike veiligheid, asook verskeie tegnologieë en hulpbronne wat gebruik kan word om landelike veiligheid te verbeter.

Die rol van die SAPD en weermag

Die Grondwet van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996) steldit baie duidelik dat die staat se burgers deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) beskerm moet word. Artikel 205(3) van die Grondwet, wat handel oor die SAPD se verpligtinge, lui as volg: “Die doelstellings van die polisiediens is om misdaad te voorkom, te bestry en te ondersoek, die openbare orde te handhaaf, die inwoners van die Republiek en hul eiendom te beskerm en te beveilig, en die reg te handhaaf en toe te pas.”

Dit sluit beide landelike en stedelike gebiede in. Daarmee saam is daar die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag. Die doel van die weermag is as volg in artikel 200(2) van die Grondwet verwoord: “Die hoofdoel van die weermag is om die Republiek, sy territoriale integriteit en sy mense te verdedig en te beskerm, in ooreenstemming met die Grondwet en die volkeregtelike beginsels met betrekking tot die aanwending van mag.”

Plan vir landelike beveiliging

Die hersiene Landelike Beveiligingstrategie (LBS), wat op agt pilare gebaseer is, is in 2019 geloods met die doel om groter samewerking tussen verskillende partye in landelike gebiede te bewerkstellig en sodoende ’n veiliger omgewing te skep. Die pilare, of fokusareas, is as volg:

  • Die opbou van doeltreffende menslike en fisiese kapasiteit en vaardighede.
  • Verbeterde polisiëring in landelike en stedelike gebiede deur ’n terug-na-die-basiese-beginsels-benadering.
  • Verbeterde polisiëringsinfrastruktuur in landelike en stedelike polisiekantore.
  • Verbeterde beheerstelsels vir landelike gebiede.
  • Verbeterde kommunikasie en bemarking vir landelike gebiede.
  • Gemeenskapsbetrokkenheid en samewerking met belanghebbendes.
  • Implementering van georganiseerde misdaadrisiko-assessering.
  • Monitering en evaluering van die LBS.

Daar word onder elkeen van dié pilare bypassende stelle doelwitte uiteengesit, asook verwysing na wie verantwoordelik vir elke doelwit is. Dit dui ook die voltooiingsdatum van elke pilaar aan. Die meerderheid van die doelwitte moet teen die einde van Maart vanjaar afgehandel wees. Op hierdie stadium is daar egter onduidelikheid oor of dit wel teen daardie tyd afgehandel gaan wees.

Ander aspekte van die strategie sal op ’n kwartaallikse of jaarlikse basis gemoniteer word. Die LBS se impak en uitdagings sal elke vyf jaar geassesseer word, waarna die strategie hersien kan word indien nodig.

Dit blyk wel dat die strategie met goeie bedoelinge daargestel is. Daar word voorsiening gemaak om die plaaslike gemeenskappe deur middel van die regte strukture betrokke te kry in die voorkoming van misdaad. Daar word onder andere verwys na gemeenskapspolisiëringstrategieë asook die plaaswag. Die gebruik van privaat hulpbronne (helikopters, veiligheidswagte, beeldmateriaal en so meer) vorm ook deel van dié strategie.

Moontlike uitdagings van die strategie kan wel wees om die samewerking van al die verskillende rolspelers te verseker. Dan moet die finansiële aspekte rondom elk van die voorgenome doelwitte natuurlik ook oorweeg word, byvoorbeeld om meer veediefstaleenhede te vestig.

Volgens die Grondwet, moet die nasionale wetgewing die bevoegdhede en funksies van die polisiediens bepaal en moet dit ook die polisiediens in staat stel om sy verantwoordelikhede doeltreffend na te kan kom. As die geldelike verknorsing waarin die regering homself bevind egter in ag geneem word, gaan dit waarskynlik nog lank wees voor die konsepte in die strategie ten volle geïmplementeer sal word.

Kamerategnologie

Kameras word in die laaste tyd ál meer gebruik en daar is verskeie opsies van dié tipe tegnologie beskikbaar. Kameratorings word op bepaalde punte langs grondpaaie geplaas, waar dit gebruik word om die beweging van voertuie en mense by dié punte te monitor. Hierdie aksies word gewoonlik op boereverenigingsvlak gekoördineer en bestuur.

Die kameras word op verskillende maniere ingespan. Sommige kameras het die vermoë om ’n gebruiker in kennis te stel van vreemde voertuie wat gewaar is, terwyl ander beeldmateriaal konstant na ’n sentrale punt stuur. Beeldmateriaal vanaf die kameras sal deurentyd gemonitor moet word om proaktiewe optrede teen ongewenste elemente te verseker.

Waar beeldmateriaal opgeneem en gestoor word, kan dit gebruik word om reaktief op te tree wanneer leidrade ondersoek word. Buiten die boereverenigings, is daar ook produsente wat dit op hulself neem om hul eiendom deur middel van kameras te monitor.

Die woning en skuur kan dopgehou word deur ’n stel kameras wat alle aktiwiteite in die omgewing vasvang, terwyl langafstandkameras gebruik kan word om punte verder vanaf die eiendom dop te hou. Die langafstandkameras kan ingestel word om gedurig van rigting te verander en sodoende ’n groter gebied te monitor. Van die kameras het die vermoë om beweging outomaties na te volg sodra enige beweging opgetel word, byvoorbeeld iemand wat in die veld stap.

Baie van hierdie tegnologieë wat ontwikkel word, maak staat op die internet. Kamerabeeldmateriaal wat opgeneem word, word soms aanlyn gestoor, wat beteken dat onbeperkte en betroubare Internettoegang altyd nodig is. Op dié manier kan beeldmateriaal nagegaan word, al is die hardeskyf beskadig of gesteel.

Die hersiene Landelike Beveiligingstrategie (LBS), wat op agt pilare gebaseer is, is in 2019 geloods met die doel om groter samewerking tussen verskillende partye in landelike gebiede te bewerkstellig en sodoende ’n veiliger omgewing te skep.

Volgens Kallie Carlsen van Paratus Telecom South Africa, is VSAT (very small aperture terminal)-tegnologie die beste opsie om betroubare Internetverbindings te verseker.

Radionetwerke

Radionetwerke word deur baie produsente vir alledaagse kommunikasie gebruik en bied ook goeie voordele in tye van nood. Sommige radio’s het ’n ingeboude noodknoppie, wat dit makliker maak om ander in kennis te stel as ’n produsent in nood verkeer.  

Sommige landbougemeenskappe gebruik die radio’s om elke oggend of aand in te roep en sodoende seker te maak dat almal nog veilig is.

Selfone en hommeltuie

Met die ontwikkeling van selfone het die rol van dié tegnologie in ons sekuriteit ook vergroot. Behalwe vir veiligheidsgroepies op toepassings soos WhatsApp, is daar toepassings wat soos ’n noodknoppie gebruik kan word.

Goeie selfoonopvangs is wel ’n vereiste sodat die tegnologie kan werk. Seinversterkers kan aangebring word waar daar ’n behoefte is. Beurtkrag en gevalle waar selfoontorings se batterye gesteel word, veroorsaak egter groot uitdagings vir die versekering dat die tegnologie deurentyd in verbinding met die netwerk is.

Die gebruik van ’n hommeltuig bied die uitsonderlike voordeel vir sy gebruiker, dat die hommeltuig in die gebied van gevaar ingestuur kan word, eerder as dat die gebruiker self hoef ondersoek in te stel. Hommeltuie kan toegerus word met nagsigkameras, wat dit moontlik maak om ongewenste elemente in die nag te identifiseer.

Privaat sekuriteit

Veiligheidsmaatskappye word reeds in sekere gebiede ingespan om te patrolleer en privaat sekuriteitswagte word ook op talle plaasopstalle en besighede ontplooi.

Dit is raadsaam om ’n alarm en paniekknoppie in jou huis te installeer om hulp van jou veiligheidsmaatskappy te ontbied wanneer jy in nood verkeer. Die reaksietyd gaan waarskynlik langer as in stedelike gebiede wees, en daarom is dit wys om ’n gebeurlikheidsplan in plek te hê om tyd te koop in die geval van ’n aanval. Almal in die huis moet dié plan ingeoefen hê en verstaan wat moet gebeur.

Die onus lê steeds op produsente om hul deel te doen wat veiligheid aanbetref.

Ongeag die tipe tegnologie wat gebruik word, moet aandag aan die kragbron in gebruik gegee word en ’n noodkragbron moet in plek gestel word. Maak ook seker dat daar ’n alternatiewe middel van kommunikasie in plek is, sou daar nie krag of selfoonsein wees nie.

Praktiese veiligheidswenke

Die volgende proaktiewe wenke kan volgens dr Jane Buys, ’n risiko-analis verbonde aan Vrystaat Landbou, toegepas word om ’n veiliger omgewing te skep:

  • Hoë sigbaarheid in die gebied deur die SAPD of produsente self, lei tot minder geleenthede vir kriminele en verminder misdaadvoorvalle.
  • Patrollieverslae ten opsigte van verdagte persone en voertuie, wat op ’n gesentraliseerde databasis ingevoer word. Die tipe inligting mag dalk nie dadelik beduidend lyk nie, maar kan belangrike leidrade verskaf wanneer insidente ondersoek word.
  • Vroeë waarskuwingsinligting vanaf werkers/bewoners/SAPD/plaaswag.
  • Konstante skakeling met, en deurgee van alle misdaadinligting aan die SAPD.
  • Die aanmelding van alle misdade is nodig vir proaktiewe operasies en ondersoeke.
  • Deur kriminele te arresteer en die borg teen te staan, dien ook as proaktiewe stappe deurdat daar nie verder met kriminele aktiwiteite voortgegaan kan word nie.
  • Bewusmakingsveldtogte deur die SAPD onder boerderygemeenskappe kan verhoog word en misdaadverwante inligting kan deurgegee word.
  • Wagte en tegnologiese middels kan in strategiese gebiede ingespan word vir die patrollering van eiendom.
  • Kamerastelsels kan geïnstalleer word om beweging in die gebied tydig op te merk.
  • Bykomende mannekrag (reserviste) kan by die aksies betrek word.

Al hierdie middele moet as hulpbronne gesien word om misdade te help voorkom of hanteer, hoewel dit nie noodwendig die misdaad self gaan oplos nie. Die onus is dus steeds op produsente om hul deel te doen wat veiligheid aanbetref. Elkeen moet doen wat binne sy vermoë is om altyd veilig op te tree en paraat te wees.

Dit is belangrik dat produsente op hoogte bly en betrokke is by die veiligheidstrukture of -netwerke binne die LBS in hul onderskeie omgewings. – Dr WA Lombard, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat

Vir meer inligting, kontak die outeur by Lombardwa@ufs.ac.za.